DEUR CONETTE LE ROUX; FOTO: HENNIE VAN LOGGERENBERG / OCTA5
“Ek weet hoe dit voel om sonder ’n ma groot te word. Ek wil nie hê kinders moet dit ervaar nie. ’n Kind het liefde nodig.”
In dié woorde het die 62-jarige Bongiwe Nonqoto van Gqeberha verduidelik waarom sy na sewe kinders, waarvan ses haar kleinkinders, omsien.
LEES OOK: ‘Om op te gee is nie ’n opsie nie,’ sê dié pleegma van vyf seuns
Bongiwe het nie die nodige liefde as kind gekry nie. Haar ma is oorlede toe sy ses jaar oud was. Haar pa het vele ander vroue gehad wat haar uiteindelik op 16 gedwing het om skool te verlaat en met ’n baie ouer man te trou. “Dit was so ’n moeilike huwelik en ek het niemand gehad na wie ek vir hulp kon draai nie. Toe my pa later oorlede is het ek drie kinders gehad en geen huis nie,” onthou Bongiwe.
Sy het uiteindelik besluit om met haar kinders die landelike Oos-Kaap vir Gqeberha te verruil. Hier het sy werk as huiswerker en later as oppasser gekry. Haar seun, wat in Johannesburg gewoon het, is onlangs oorlede en het sy kinders onversorg agtergelaat. Bongiwe het toe ’n manier gevind om haar kleinkinders by haar in Gqeberha te kry. Sy het ook ’n behoeftige kind ingeneem wat deel is van haar uitgebreide familie.
Steeds voer Bongiwe ’n sukkelbestaan. “Dit was baie moeilik tot dusver. Die kinders het verskillende persoonlikhede en dissipline is maar ’n uitdaging. Maar selfs as ek vooraf geweet het watter uitdagings wag, sou ek dit steeds gedoen het.
“Ek draai na God en Hy gee my krag.”
Bongiwe sien uit na familietyd tydens Kersfees. “Ons familie is die heeljaar ver van mekaar af, maar tydens Kersfees kom ons familie van regoor Suid-Afrika bymekaar.”
Haar raad aan ander getuig van haar uithouvermoë: “Daar is altyd uitdagings, maar dit sal ons nie doodmaak nie. Dit moet ons sterker maak. Daardeur ontdek ons dat ons kan oorwin.”
*Mosaic, ’n nie-winsgewende organisasie wat pleegma’s ondersteun, en fotograaf Hennie van Loggerenberg van Octa5 en sy vrou Katie het vroeër vanjaar (2022) Mosaic-pleegma’s regoor Suid-Afrika bederf deur hulle mooi te maak en gestileerde foto’s (vir die meeste van hulle ’n eerste) van elkeen te neem. Dié foto’s pryk nou in ’n koffietafelboek genaamd Hope lives here.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.