20 Mei 2021
Hulle pa is Ruben Kruger, die beroemde Springbokflank wat gans te vroeg gesterf het. Maar dié twee meisiekinders speel, soos hy, die wêreld aan die brand – op die tennisbaan. Hulle ma reken hulle het hul pa se dryfkrag, dissipline en uithouvermoë geërf.
DEUR MARTJIE ROOS
In die 1990’s was die vuurvreter-flank Ruben Kruger ’n huishoudelike naam by Suid-Afrikaanse rugbyliefhebbers. Hierdie ysterman was lid van die Springbokspan wat in 1995 die Wêreldbeker op Ellispark omhoog gehou het.
In dieselfde jaar het Ruben met die gesogte titel “Rugbyspeler van die Jaar” weggestap.
Maar in 2000 het sy rugbyloopbaan aan skerwe gespat toe hy met breinkanker gediagnoseer is. Nadat ’n niekwaadaardige gewas verwyder is, het hy dapper teruggeveg. Sewe jaar later is ’n kwaadaardige gewas egter by hom gediagnoseer. En in 2010, so twee maande voor sy veertigste verjaarsdag, het hy ’n moedige stryd verloor.
Hul ma, Lize, vertel: “Omdat ons daardie laaste ses maande geweet het Ruben leef op geleende tyd, het ons probeer om die dogters geestelik voor te berei. Maar dit was baie moeilik omdat hulle nog so jonk was. Op daardie ouderdom is die dood ’n abstrakte begrip.” Ruben se twee oogappels, Zoë en Isabella (of “Bella”, soos baie mense haar noem), was tydens hul pa se afsterwe onderskeidelik sewe en vier jaar oud.
Lize en Ruben het aan die hand van Randy Alcorn se boek Heaven for kids probeer om die hemel vir hul dogters ’n werklikheid te maak. “Jy kan nie bloot vir ’n kind sê jou pa gaan weg nie, want ná die afsterwe word die trauma te moeilik om te verwerk.”
Lize vertel hoe sy op 27 Januarie 2010 laataand van die hospitaal gekom en die dogters wakker gemaak het om hulle te vertel dat hul pappa hemel toe is.
“Zoë het ewe opgewonde gevra of ek die engel gesien het wat Pappa kom haal het. En ek het besef dat die voorbereiding op Ruben se dood in ’n mate geslaagd was, dat dit vir hulle troos gebring het, dat dit hulle gehelp het om dit makliker te aanvaar.”
In die gene
Zoë is nou 18 jaar oud en Bella 16. Hulle het van kleins af ’n belangstelling in sport en veral tennis getoon. Lize vertel: “Ruben het hulle ondersteun toe hulle nog tjokkertjies was.
LEES OOK: ‘Vyf groot lesse wat my nader aan God gebring het’
“Hy het saam met hulle balle in die motorhuis geslaan, en ook vir hulle wyse raad gegee. Hy het byvoorbeeld gesê dis nie belangrik hoeveel Grand Slam-toernooie of trofeë hulle eendag gaan wen nie, maar dat die karakter wat jy toon baie belangriker is.”
Lize het haar dogters se talent raakgesien en hulle van kleins af aangemoedig om aan toernooie deel te neem. “Albei het bepaalde eienskappe van hul pa geërf. Isabella is baie gedrewe en sal nie maklik tou opgooi nie, terwyl Zoë ’n onblusbare veggees het.”
Sowat agt jaar gelede het die Krugers se paadjie met dié van die voormalige Sweedse tennisster Thomas Hogstedt gekruis. Laasgenoemde het by ’n tenniskliniek op Stellenbosch dadelik die twee sussies se talent raakgesien en voorspel dat hulle nog eendag Grand Slam-toernooie kan wen.
Lize vertel laggend: “Zoë, wat ’n ekstrovert is, het vir Hogstedt gesê sy is sy jong Maria Sharapova. Sy was op daardie stadium tien jaar oud.”
Hogstedt was uit die staanspoor beïndruk met sowel Zoë as Isabella se spel. Hy het voorgestel dat dié twee aan ’n mededingende tennisomgewing en aan rolmodelle blootgestel word – en Amerika, waar die gebore Sweed deesdae woon, sou ’n goeie plek wees om hul talent te ontwikkel.
Hy het kennelik geweet waarvan hy praat, want hy kon toe reeds spog dat hy beroemdes soos Maria Sharapova, Simona Halep, Caroline Wozniacki en Li Na op ’n jong ouderdom onder sy vlerk gehad het.
So het dit gebeur dat ma en dogters sak en pak na Branderton, Florida, verhuis het, waar Zoë en Isabella by die wêreldbekende IMG Akademie afgerig is. Dit was inderdaad ’n stimulerende omgewing. Die twee susters het talle bekende tennissterre soos Roger Federer, Maria Sharapova en Garbine Muguruza ontmoet, en het selfs die kans gekry om saam met kampioene soos Kei Nishikori en Tommy Haas te oefen.
“Dit was ’n groot voorreg dat hulle daar onderrig kon ontvang,” vertel Lize. Sedertdien het Zoë en Isabella aan junior toernooie dwarsoor die wêreld deelgeneem en oral presteer. Zoë is byvoorbeeld vier jaar gelede, toe sy 14 jaar oud was, as die onder-18-Afrikakampioen in Tunisië gekroon.
Zoë en Bella is tans onderskeidelik Suid-Afrika se nommer twee en drie senior vrouespelers. Albei is gekies om Suid-Afrika in Junie vanjaar by die Billie Jean King-bekertoernooi (voorheen die Federasiebekertoernooi) in Estland te verteenwoordig.
Lize vergesel graag haar dogters wanneer hulle na toernooie reis. Sy vertel: “Zoë is baie onafhanklik en sy reis gereeld alleen. Sy hanteer haar eie vlugbesprekings. Wanneer sy en Bella saam na ’n ver land moet reis, is ek altyd gerus omdat ek weet Zoë hou ’n wakende oog oor haar kleinsus.”
Terug in Suid-Afrika
Die gesin het vroeër vanjaar na Suid-Afrika teruggekeer en woon nou in Seepunt, Kaapstad. Zoë en Bella word by die Anthony Harris-tennisakademie afgerig. Anthony Harris rig ook Lloyd Harris af, wat tans ons land se voorste manspeler is.
LEES OOK: ‘’n Winkelsentrum vol mense het vir mý kind gebid’
Daar is elke dag ’n stywe oefenprogram, maar dit beteken nie hul studies het agterweë gebly nie. Zoë het verlede jaar matriek aanlyn voltooi. En al gaan sy vanjaar voltyds tennis speel, begin sy ook met aanlyn studies wat haar later sal help om medies te studeer. Bella studeer ook aanlyn en is vanjaar in graad 10.
Zoë vertel hoe opwindend dit is om na so baie lande te reis en om gereeld op internasionale vlak mee te ding. “Ek leer so baie van ander mense se kos en hul kultuur, maar diep in my hart sal ek altyd ’n Suid-Afrikaner bly en altyd na Suid-Afrika terugkom.”
My ouers, my geloof
Sy het baie by haar pa geleer, vertel Zoë. “Veral dat jy hard moet werk en dat niks in die lewe verniet kom nie.”
Haar ma is ’n groot steunpilaar in haar lewe. “Ek het by my ma geleer om altyd liefdevol teenoor mense op te tree, waar jy ook al is.”
Bella sê: “Ek het by my pa geleer om hard te veg as jy iets wil bereik. Ek het by my ma geleer om nie maklik tou op te gooi nie en tot op die laaste punt te veg.”
Geloof speel ’n groot rol in albei dogters se lewe. “Ek is so bly ek het die Here reeds jonk-jonk leer ken,” sê Zoë. “Ek glo die Here dra jou deur alles in jou lewe. Die Here het my die talent gegee om tennis te speel. En ek gebruik my tennis ook as ’n platform om sy Naam te verheerlik.”
Bella vertel dat sy met elke groot wedstryd waarin sy speel ’n koki-pen neem en ’n Bybelvers op haar arm skryf. “Filippense 4:13 is een van my gunstelingverse. Dit inspireer my en gee my krag.”
Lize het wyse raad vir haar tennisspelende dogters: “Ek leer hulle om hul spel ná elke wedstryd te ontleed. As hulle goed gespeel en gewen het, moet hulle die sukses en die erkenning geniet. Maar hulle moet nooit te hoog wil vlieg nie, want as hul emosies so hoog opgejaag word, kan dit hul volgende wedstryd negatief beïnvloed.
“En wanneer hulle verloor, moet hulle nooit te ver val nie.”
Psalm 91 was deur die moeilike jare altyd vir Lize ’n rigtingwyser. “Ek het my dogters ook geleer dat die Here hulle altyd sal liefhê, onvoorwaardelik, dit maak nie saak of hulle ’n wedstryd wen of verloor en of hulle hul doelwitte bereik of nie. Ek het deur die jare ook geleer die Here bly altyd in beheer.”
Dan keer haar gedagtes terug na haar oorlede man. “Daar kom so baie dae wat ek wens Ruben kon hulle sien,” mymer sy. “Hulle het soveel ooreenkomste met hom.”