Ek het in 2011 ’n belofte aan die Here gemaak wat ek tot vandag toe nog nie nagekom het nie. Ek wil dit graag nou doen.
Ek het destyds vir ’n klein sekerheidsmaatskappy in Bloemfontein gewerk, wat ek en ’n vriend op die been gebring het. Ek was alleen nadat my vrou my weens verskille in geloofsoortuiging om ’n egskeiding gedagvaar het.
Dit was vir my ’n traumatiese ervaring. En daarom het ek Kestell, ’n klein dorpie in die Oos-Vrystaat, waar ek ’n goeie werk gehad het, agtergelaat en Bloemfontein toe verhuis.
LEES OOK: ‘Die onkoloog noem my haar wonderwerk-pasiënt’ getuig vrou wat longkanker oorleef het
‘Oom, ek gaan oop kaarte speel’
Iewers in 2011 het ek begin agterkom dat my linkerbors gereeld jeuk en dat dit sensitief is. Aanvanklik het dit my nie gepla nie, maar ek het opgemerk dat die tepel pers geword en dat die bors begin swel het.
Aangesien ek nie aan ’n mediese fonds behoort het nie, het ek dit nie oorweeg om ’n dokter te raadpleeg nie. Mettertyd het die bors ál meer geswel. Die tepel was nou byna swart. Maar ek het eers regtig bekommerd geword toe ek ’n bloederige afskeiding bemerk het.
In 1994 het my moeder borskanker opgedoen en albei haar borste moes verwyder word. ’n Kort rukkie ná die operasie is sy ook met longkanker gediagnoseer, hoewel sy nooit gerook het nie. Sy is drie maande later oorlede. Met al dié dinge wat by my gespook het, het my kommer toegeneem.
Uiteindelik het ek die moed bymekaar geskraap en die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein besoek om raad te vra. Ek moes reeds vyfuur daardie oggend daar wees – om die dokter sowat agt of nege ure later te kon spreek. Dit was ’n uiters onaangename ondervinding.
Die dokter het my na die Universitas-hospitaal verwys vir skanderings, X-strale, asook ’n mammogram. Met die opvolgondersoek by Pelonomi, ná die gewone ure lange wag, het ek by ’n spreekkamer ingestap. Daar was ’n jong dokter wat met sy hospitaaljaar besig was. Hy het die verslae gelees, toe stip na my gekyk en gevra of ek hom sal verskoon.
Ná sowat tien minute het ’n ander jong dokter ingekom en agter die lessenaar gaan sit. Hy het sorgvuldig deur al die verslae gelees, en opgestaan en uitgeloop.
’n Opsigtelik meer ervare dokter, dalk so in sy dertigs, het later ingekom en ook die mediese verslae op die lessenaar deurgegaan. Oplaas het hy gevra: “Oom, waar is die tannie?”
Ek het hom vertel ek is geskei en dat daar nie ’n “tannie” in my lewe is nie.
Sy volgende vraag was: “En Oom se kinders?”
Ek het hom vertel dat ek alleen woon en dat my kinders elders is.
“Oom,” het hy toe gesê, “ek gaan oop kaarte speel. Oom het borskanker. Ons sal so gou moontlik moet opereer.”
‘Waarheen nou, Marius?’
Dit was ’n enorme skok. My eerste gedagte was aan my ma.
Die dokter het my oor die prosedure ingelig, en bygevoeg dat daar ’n 50%-kans was dat ek ná die operasie nie die volle gebruik van my linkerarm sou herwin nie aangesien hy die limfkliere in my armholte sou moes verwyder. Ek sou ongeveer twee weke in die hospitaal moes bly en fisioterapie moes ontvang indien daar ’n verlies aan beweging of gebruik van my arm was.
Die chirurg het gevra of ek ’n borsrekonstruksie sou oorweeg sodat die letsel nie so opmerklik sou wees nie. My instinktiewe antwoord was “nee”. Hoe sou ek vir die wêreld kon vertel ek is in ’n oorlog gewond en ek het geen letsel om daarvoor te wys nie?
Ek is ’n dag voor die operasie opgeneem. Een van my werk se voertuigbestuurders het my by die hospitaal besorg.
Ek het daar uitgeklim en gewonder: Waarheen nou? Dis ’n enorme hospitaal, ’n spreekwoordelike miernes van bedrywigheid.
Uit pure moedeloosheid, radeloosheid, het ek op die grond onder ’n boom gaan sit en gedink: Wat nou, Marius? Waarheen nou? Dié plek is so groot … en ek is doodbang vir wat voorlê. Gaan ek dieselfde paadjie moet loop as my liewe ma?
Ek het net daar op die grond bly sit, en ek het gebid: “Here, vandag gee ek my aan U oor. Ek vra U om my kalm te hou en deur alles te dra. En as U my genees, belowe ek dat ek dit oral sal verkondig.”
Daar het ’n kalmte oor my gekom en ek het my sak klere opgetel en begin loop. Waarheen, het ek self nie geweet nie. Op met die trappe, af met die gang. Draai links, draai regs, weer ’n stel trappe …
In ’n stadium het ek besef dat ek êrens sal moet navraag doen oor waar ek moet aanmeld. Ek het by ’n saal ingestap en gemik-mik na die plek waar die verpleegpersoneel sit. Ek het my opnamebrief gewys en gevra waarheen ek moes gaan. Iemand het na die vorm gekyk en gesê ek is by die regte saal. Hulle wag juis vir my.
‘Hier het ’n wonderwerk gebeur’
Die volgende oggend was ek verbasend kalm. Weer het ek om genade gebid, en vir krag.
Toe ek ná die operasie my oë oopmaak, was my eerste gedagte aan my linkerarm. Kan ek dit beweeg?
Ek kon! Die arm was piekfyn. Een van die verpleërs het my ’n inspuiting vir pyn kom gee – en dit was die laaste een. Tot vandag toe het ek geen verdere medikasie nodig gehad nie.
Twee dae ná die operasie het ek die dokter gevra of ek ontslaan kan word. Ek het goed gevoel. Boonop is ek feitlik onophoudelik van die werk af gebel met probleme wat opgelos moes word. Die dokter het ingestem aangesien my linkerarm perfek gefunksioneer en fisioterapie oorbodig gemaak het. Die verpleegpersoneel het my gewys hoe om die wond en dreineringsakkie skoon te maak, en ek is ontslaan.
By die huis het ek vinnig in ’n langmouhemp verklee om die dreineringspypies en sakkie te verbloem. Ek het kantoor toe gery en my werk hervat.
Later is die steke verwyder. Ek moes weer by die Universitas-hospitaal aanmeld vir X-strale, bloedtoetse en skanderings. Hulle sou die uitslae na die Pelonomi-hospitaal stuur en ek moes reël vir ’n opvolgondersoek.
In hierdie tyd het ek geen kommer of vrees ervaar nie, ook nie die dag toe ek weer ondersoek moes word nie.
Die dokter het die vertrek ingekom en die verslae bestudeer. Weer en weer het hy gekyk, toe ’n telefoonoproep gemaak. Hy was sigbaar omgekrap. Ek kan nie meer die fyner besonderhede van die foongesprek onthou nie, maar ek weet hy het met ’n professor oor die aanvanklike diagnose gepraat.
Ek het hom gevra hoe die pad vorentoe lyk. Wat van bestraling? Chemoterapie?
“Nee, Oom,” het hy gesê. “Hier het ’n wonderwerk gebeur. Dis nie nodig vir chemoterapie óf bestraling nie.”
‘Ek verbly my elke dag in die Here’
Vyf jaar gelede is ek weer in die hospitaal opgeneem, dié keer vir moontlike bloedklonte. Een van die professore het weer al die skanderings en bloedtoetse laat doen, en ek was steeds “skoon”.
Dit gaan nou wonderlik met my geestelike lewe. Ek is ’n gelowige kind van ons liewe Heer en ek poog om die pad te stap soos Hy dit van my verwag. Psalm 37:4 is my motto in die lewe: “Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.”
Ek verbly my elke dag in die Here. Hy gee my nie baie geld of ’n duur motor of ’n groot huis nie; Hy gee my die nodige kennis, insig, gehoorsaamheid, dankbaarheid en alle ander dinge wat ek nodig het om Hom te aanbid en sy Naam te verheerlik.
Hier is dus my getuienis. Alle dank en eer kom ons Vader toe wat die hemel en die aarde gemaak het, en ook vir my. Amen.
- Marius Blignaut (62) woon deesdae op Despatch in die Oos-Kaap en doen datavaslegging vir ’n bekende sitrus-uitvoermaatskappy. Hy voel hom geroepe om sy getuienis met ander te deel ná sy destydse belofte aan die Here.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.