Hercie Blaauw is ’n 66-jarige kwadrupleeg. Sy sê sy het van kleins af aanvaar die Here het ’n doel met haar lewe. Haar lewensreis is ’n inspirerende getuienis van durf en deursettingsvermoë, en van ’n rotsvaste geloof.
Hercie (haar doopname is Herculina Johanna) is in Windhoek gebore. Sy was agt maande oud toe sy met serebrale gestremdheid gediagnoseer is. Haar ma Arenda (93) vertel dat Hercie maar twee jaar oud was toe sy gesê het: “Ek wil nie anders wees nie, want die Here het my so gemaak.”
‘Wat weet ’n tweejarige kind nou eintlik!’
Ons gesels in die koesterende wintersonnetjie by Ry Ma-In, ’n sentrum vir kwadrupleë en parapleë in Linden, Johannesburg, waar Hercie reeds dertig jaar lank woon.
Hercie lag oor haar destydse kordaatheid. “Verbeel jou! Wat weet ’n tweejarige kind nou eintlik!
“Ek het van kleins af geweet dat ek, byvoorbeeld, nie saam met my boetie sal kan krieket speel nie. Ek het gekies om my lot te aanvaar omdat dit die Here se wil is. Ek het geweet die Here het ’n doel met my lewe. Daarom het ek nooit gevra ‘hoekom ek, Here?’ nie.”
Daar was nie ’n sentrum vir serebraal gestremde mense in Windhoek nie, en haar ouers het besluit om haar by ’n skool vir serebraal gestremdes in Kaapstad in te skryf. “My oupa en ouma het my toe Kaap toe geneem,” vertel Hercie.
Al die kwalifikasies!
Nadat Hercie gematrikuleer het, is haar pa Johannesburg toe verplaas en sy het saam met haar ouers na die Goudstad verhuis. Die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (nou die Universiteit van Johannesburg) se geriewe was toeganklik vir rolstoelgebruikers en Hercie het besluit om daar in te skryf. Buitestanders staan deesdae verstom wanneer hulle van haar kwalifikasies hoor: ’n BA-graad in regte, ’n LLB-graad, ’n nagraadse hoër onderwysdiploma, ’n honneursgraad in Afrikaans-Nederlands, ’n B ED-graad, sowel as ’n meestersgraad in opvoedkunde.
“My ouers het toe in Florida, Roodepoort, gewoon. My ma het as sekretaresse by die universiteit se Departement Opvoedkunde gewerk. Ek kon gratis studeer én elke dag saam met haar universiteit toe ry.”
Haar ma, sê Hercie, is haar grootste steunpilaar in die lewe. “Toe ek gestudeer het, het ek en sy beste vriendinne geword. My ma is, volgens die lewensafrigter en skrywer Hettie Brittz se kategorisering van persoonlikheidstipes, ’n sierboom. Met ander woorde, sy is ’n goeie luisteraar. Sy is altyd beskikbaar wanneer ek met my probleme na haar toe gaan.”
Ná haar studies het Hercie ’n klompie maande as aflosdosent by die Windhoek Onderwyskollege onderwysstudente opgelei. Dit was in 1988. Daarna was sy ’n paar maande lank aanklaer, en sy het vir Technikon RSA vraestelle (Strafreg) nagesien.
Afhanklik van donasies
Dertig jaar gelede het Hercie by Ry-Ma-In ingetrek. Hier is die inwoners volledig in beheer. Tans is daar vyf inwoners en Hercie sit hand by met die bestuur van die sentrum. Ry-Ma-In word deur ’n klein subsidie van die regering, donasies van weldoeners, sowel as ’n tweejaarlikse bedrag van die nasionale Lotery-kommissie gefinansier.
“Die sentrum het ’n liefdadigheidswinkel en ’n tweedehandsboekwinkel op die perseel. Ons is afhanklik van donasies, van mense wat bruikbare tweedehandse artikels en boeke skenk. Die kerkgemeenskap ondersteun ons ook baie,” vertel sy.
Hercie en van die ander inwoners werk weekdae in die liefdadigheidswinkel. “Ons benodig sowat R130 000 ’n maand om Ry-Ma-In in stand te hou. Die grootste uitgawe is die personeel se salarisse. Hier werk twaalf mense. En ’n sekretaresse, wat ook ’n persoonlike assistent is.
“Hier is 24 uur lank versorgers aan diens omdat hulle ook snags na ons moet omsien en ons, byvoorbeeld, in die bed moet omdraai.”
Laat wiel!
Hercie is nie net ’n bekende inwoner by Ry-Ma-In nie, maar ook ’n geliefde lidmaat van die Gereformeerde gemeente in Linden. Haar kennis van die Bybel verstom almal met wie sy te doen kry.
Hercie vertel: “Soos baie ander serebraal gestremdes is ek geseën met ’n goeie geheue. Ek onthou, byvoorbeeld, sowat 400 mense se onderskeie verjaardae. En omdat ek ’n goeie geheue het, memoriseer ek baie Bybelgedeeltes.”
Dit is nie vreemd vir die inwoners van Linden en omgewing om Hercie op ’n Vrydagoggend in haar elektriese rolstoel teë te kom nie. Sy ry dan van die sentrum in 5de Straat na die Gereformeerde kerkgebou in 3de Laan. Daar woon sy die gemeente se “preekskaaf” by. Dit is die voorbereiding vir die Sondag se erediens.
En Sondagoggende laat wiel sy met dieselfde roete kerk toe.
“Ek ry ook soms met my rolstoel na Cresta-winkelsentrum, drie kilometer van hier, om te gaan inkopies doen.”
En wat is motoriste se reaksie wanneer hulle haar in die pad met haar rolstoel sien?
“Ag, daar is dié wat soms op my skree. Een ou het geskree: ‘Jy ry nie ’n Mercedes nie!’” Sy lag.
‘Hy het my gebede verhoor’
Sy het ook al met dié ryery geleer hoe belangrik dit is om op die Here te vertrou: “Ek was op ’n keer op pad en het gesien daar is ’n dreigende storm. Ek het hard gebid dat die Here asseblief tog nie die storm moet laat losbars terwyl ek op die pad is nie; dit sou katastrofies wees.
“Hy het my gebed verhoor. Want eers toe ek by my bestemming aankom, het die druppels begin val. Dit was weer vir my ’n teken van die Here se almag.”
Haar geloof is haar grootste anker, sê sy. “Die Here rig my hele lewe. As ek nie vir Jesus gehad het, het ek nie vir die lewe kans gesien nie.”
Ten spyte daarvan dat sy liggaamlik gestrem is, en maar 22 was toe sy met bipolêre depressie gediagnoseer is, sê sy onomwonde: “Die Here het my nog nooit gedrop nie. ’n Mens se geloof bly nie altyd standvastig nie, maar God bly standvastig.”
Geloof is vir haar soos die spreekwoordelike mosterdsaadjie, waarvan Jesus vir sy dissipels gesê het: “Dit verseker Ek julle: As julle maar geloof het so groot soos ’n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan staan daar anderkant!’ en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie” (Matt 17:20).
En wat beteken hoop vir haar?
“Hoop is vir my die ewige lewe. Maar dit beteken nie dis die toekoms nie; die ewige lewe begin nou en hier. Want in Johannes 17:3 lees ons hoe Jesus bid: ‘En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus wat deur U gestuur is.’”
’n Ander mens se stille teenwoordigheid
Sy sou nie dieselfde mens gewees het as sy nie gestrem was nie, sê sy. “Want hoe kan jy die Here loof en prys as jy nie swaargekry het nie?”
Sy haal Psalm 119:75 aan. “Dat U my laat swaarkry, is ’n teken van u trou.” Ook 2 Korintiërs 12:9: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is. Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.”
Hercie besoek soms pasiënte wat ná ’n motorongeluk of ander trauma verlam gelaat is. Sy vertel: “Ek probeer hulle bemoedig. Dit is egter moeilik, veral aan die begin. Want jy kan nie vir so ’n weerlose mens in daardie stadium sê die Here het jou lief nie.
“Soms is dit goed genoeg om bloot daar te gaan sit en niks te sê nie. ’n Ander mens se stille teenwoordigheid beteken ook iets …”
Daar het reeds ses geestelike boekies, waarvan ’n klompie werkboeke is, uit Hercie se pen verskyn. Dit sluit in: Slegs Uit Genade Gered; Van Melkkos tot Vaste Spyse; Jesus Wins, Bybelverse (dit is gedigte wat sy oor bekende Bybelse mense geskryf het); Die Bedeling van die Gees; Jesus Is die Uitnemendste – boodskap van die Hebreërs.
Indien jy geld wil gee of ’n skenking aan Ry-Ma-In se liefdadigheidswinkel wil maak, óf van Hercie se boeke bestel, kan jy Hannetjie van der Westhuizen skakel, by 011 888 3335.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.