DEUR ILETTE COETZER
“Dis al ’n maand. ’n Maand sonder jou. ’n Maand van leë ure en verlore oomblikke. ’n Maand van huil op onverwagte tye en in opdaag-oomblikke. Ons mis jou. Alles van my mis jou, Elandri. Liefde sonder einde …”
Dit is die hartroerende woorde van Huipie van Wyk van Windhoek in Namibië, skaars ’n maand ná haar dogtertjie Elandri se dood. Elandri het aan ’n baie rare soort gestremdheid gely en dokters het min hoop gehad dat sy langer as ’n jaar sou leef. Elandri se klein lyfie was feitlik deurentyd in ’n spasma, ’n seldsame toestand wat slegs een uit 100 000 kinders tref.
Loutere hel
Die Van Wyks was ’n doodgewone, gelukkige gesin met twee gesonde dogtertjies, Hailey en Danelle. Huipie het haar derde kind verwag en sy en Schalk was baie opgewonde oor hul jongste se koms, vroeg in 2013. Alles het normaal verloop tydens haar swangerskap. Behalwe vir ’n lugweginfeksie was Huipie gesond.
Sy het egter begin om vrugwater te verloor en die kleinding is twee weke te vroeg gebore, op Schalk se verjaardag op 21 Februarie. Tog was sy ’n gesonde 2,6 kilogram. Huipie vertel: “Sy het aanvanklik gesukkel om aan die bors te drink en sy het ’n vreemde rukbeweging uitgevoer terwyl ek haar gevoed het. Ek het haar sommer self met ‘refluks’ gediagnoseer.”
Die volgende ses weke was egter loutere hel. “Ons het niks geslaap nie. Elandri het sonder ophou gehuil. Ek het destyds gedink dat dit krampe was. Vandag besef ek dat sy toe reeds aanvalle beleef het, stuiptrekkings. Ons klein, brose lyfie het tussen agtien en dertig sulke aanvalle per dag beleef.”
’n Doodsvonnis
Huipie was met haar ses weke-ondersoek radeloos, maar sy wou nog nie aan haarself erken dat daar iets fout kon wees nie. Elandri se kop het nie gegroei nie en sy het ook nie gewig opgetel nie. “Ek het geglo die dokter maak ’n fout, maar hy het aangedring op ’n video as sy weer daardie ‘krampe’ kry. Toe het alles verander.”
Elandri is, ná ’n reeks toetse, aanvanklik met “agenises of the corpus callosum” gediagnoseer. Dit was ’n baie stresvolle tyd vir die Van Wyk-gesin. Sowel Huipie as haar man het amper hul werk verloor: Huipie was gedurig by die hospitaal en Schalk moes na die ander twee omsien. Die kleingoed was destyds onderskeidelik een en twee jaar oud.
Elandri is uiteindelik deur ’n Kaapse professor met “lissencephaly” gediagnoseer. Dit is in werklikheid ’n doodsvonnis, en daar is aan Huipie gesê dat Elandri waarskynlik nie ouer as ’n jaar sou word nie. Huipie het alles oor die siekte opgelees, en daar was niks positiefs oor dié rare toestand op die internet te vind nie. Daar was bloot begrippe soos “vroeë afsterwe” en “geen kwaliteitlewe”…
‘Ons woestyntyd’
“Ons wêreld het tot stilstand gekom,” vertel Huipie. “Hoe berei jy jou en jou gesin voor vir so iets? Sy het dan glad nie so siek gelyk nie! Maar die dokters het aan ons verduidelik dat Elandri heeltemal afhanklik van ons sou bly. Sy het selde geglimlag toe sy ’n baba was, en sy was nie dikwels wakker nie.”
In daardie tyd is die gesin se dae met doktersafsprake, hospitaalbesoeke en terapeute gevul. En daar was dikwels mense wat vir hulle kom bid het. Huipie het maar min geslaap. Saans moes Elandri gereeld gedraai word om bedsere te voorkom. En sy is deur ’n spesiale opening in haar maag gevoed. Huipie moes haar mond met oefeninge stimuleer om die spiere daar te versterk.
Die eerste drie jaar was bitter moeilik, vertel Huipie. “Ons huwelik was op ’n baie seer en stukkende plek. Ek het feitlik in die hospitaal gebly, terwyl Schalk ’n enkelpa vir ons ander twee dogtertjies was. Ons het baie van ons vriende verloor, maar wel ook wonderlike nuwe vriende bygekry.
“Ek dink terug aan daardie jare as ons woestyntyd. Die Here het ons van alles wat ons gedink het ons het, gestroop. Maar ek moes eers op dié punt beland voordat ek God met alles in my kon vertrou.”
Huipie het in 2015 saam met Sandra Hollweg van die organisasie Side by Side begin werk om te leer hoe om Elandri ’n kwaliteitlewe te gee. “Namibië het destyds glad nie oor rehabilitasiesentrums beskik nie. En ek het as ’t ware oornag van ’n boekhouer in ’n gesondheidwerker verander. Ek het letterlik onder begin – op die grond in ’n klein plakkershut in ’n baie arm gebied in Windhoek. Maar hier is ek geleer hoe om Elandri lief te hê, net soos sy is.”
‘Nooit ’n las nie’
Huipie vertel hoe haar ander dogters hul sussie se situasie op verskillende maniere hanteer het: “Ons oudste, Hailey, is ’n hartsmens. Sy wil net almal om haar gelukkig maak. Sy het van kleins af geleer om haar sussie se melk en medikasie deur ’n pypie te gee. Sy kon ook haar sussie op die regte manier posisioneer wanneer sy ’n aanval kry. Hailey moes leer om in sulke tye dapper te wees, totdat sy die aandag van ’n grootmens kon kry.
“Danelle is weer die een met die sterk persoonlikheid, wat ’n ding sê soos hy is.” Huipie se kinders het grootgeword met die wete dat hul sussie moontlik voor hulle hemel toe sou gaan.
Elandri is op 5 Oktober vanjaar oorlede, om twee minute oor twee die oggend. ’n Vriendin het net ná Elandri se dood vir Huipie dié vertaling van Hooglied 2:2 gestuur: “Yes, you are my darling companion. You stand out from all the rest. For though thorns surround you, you remain as pure as a lily.”
Maar niks kon die Van Wyks regtig op die finaliteit van die dood voorberei nie. Hoewel Huipie dit verwag het, het sy tog gehoop die dokters is weer verkeerd. Elandri sou dan, volgens hulle, nie ouer as ’n jaar word nie – en sy is al nege!
Maar van Junie af was Elandri dikwels in die hospitaal en sy het baie pyn verduur. Huipie het haar ’n week voor haar dood huis toe geneem. “Hulle kon niks meer vir haar doen nie. Ná maande se dokters- en hospitaalbesoeke het ek ophou bid vir genesing, eerder vir verlossing.
“Elandri was nooit ’n las nie. Dit was nie moeite om alles om haar behoeftes te beplan nie. Sy het saam gaan kamp en visvang. Sy was langs die hokkieveld en gimnastieksaal met haar sussies, langs die rolbalbaan saam met haar mamma en pappa. En in die tuin saam met haar ouma, op die plaas saam met haar oupa tussen die bokke. Ons mis haar, ons mis alles aan haar.”
Elandri se nalatenskap
Vandag is Huipie voltyds by die Side by Side Early Intervention Centre in Windhoek betrokke. Sy het teen die einde van 2017 Sandra se pos oorgeneem. Hier streef sy daarna om aan Namibië se gestremde kinders ’n stem te gee, en ’n plek waar hulle kan veilig voel. “Ons het destyds vier en twintig kinders in ons sorg gehad en vyf programme bestuur,” vertel sy.
Namate Elandri se behoeftes toegeneem het, is ook die programme aangepas. Vandag, net meer as ’n maand ná Elandri se dood, help die sentrum tot 95 kinders per week, en daar word sowat duisend vrywilligers per jaar opgelei. “Ons beskik oor ’n multidissiplinêre span, wat uit arbeids-, spraak- en fisioterapeute bestaan, asook maatskaplike werkers en dieetkundiges.
Dié sentrum is Elandri se nalatenskap. Ek weet nie wat sou van die gestremde kinders in Namibië geword het sonder die sentrum nie. Hulle verdien om raakgesien te word, hulle verdien om gehoor te word. My kind het aan my ’n doel in die lewe gegee. Sy was my inspirasie.”
Huipie sê sy hoop dat die wêreld verby die kinders se gebreke sal kyk en die reus in hulle sal raaksien. “Ek hoop dat hierdie kinders die terapie sal kry om hul lyfie te ondersteun, en dat hulle geestelik opgebou sal word sodat hulle ambassadeurs vir ander in ’n soortgelyke situasie kan wees. Ek hoop dat hulle die mense om hulle kan wys wat dit beteken om jou vlees neer te lê en geestelik voluit te leef.”
Huipie wil nie slegs in Windhoek ’n verskil maak nie, maar ook in ander dele van Namibië. Sy hoop om later ’n opvoedkundige sentrum op die been te bring waar kinders met ’n liggaamlike of intellektuele agterstand gehelp kan word.
Sy droom groot, gee sy toe. Maar dis wat Elandri haar geleer het. As jy glo, kan jy enige iets bereik.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.