Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Ek wil nie hê mamma moet weer my Barbie-pop verkoop nie,’ smeek Hillbrow-dogtertjie

In die briefie wat sy aan Kersvader geskryf het, was daar net een versoek: ’n Barbie, asseblief. Ek het maar niks vir die vaalhaar-Hillbrowdogtertjie gesê toe sy haar briefie vir my gee nie. Ek het onthou dat sy die vorige Kersfees ook ’n Barbie gevra het. Wat sou van dié geword het? 

DEUR ELISE BOSCH

So het Kersvader met sy wattebaard en boepens toe in Hillbrow opgedaag en by die jaarlikse funksie vir die kinders hul geskenkies uitgedeel. En ek het gehoop die meisiekind se hartewens is vervul. 

Laat in Januarie gaan lewer ek kos af by die vaalhaar-kindjie en haar ma. Twee jaar gelede het die pa hulle verlaat, en die mamma is later met ’n outo-immuunsiekte gediagnoseer. Die dokters beweer dat die skok dit aangehelp het. Nou is sy te swak om te werk en sy word boonop baie gou moeg. Soms kry sy ’n ligte werkie, soos om tuis sepies toe te draai vir ’n gastehuis. Dit bring nie veel in nie, maar elke sent help. 

Toe ek met die kos by die woonstel opdaag, kry ek die dogtertjie op ’n stukkende rusbank. Die mamma is nêrens te sien nie. Op die kind se skoot lê die vuilste Barbie-pop wat ek nog ooit gesien het. Daar kleef stukkies droë modder aan die pop se hare, haar lyfie is besmeer. Die pienk blinkertjierok is geskeur en vol vuil kolle. 

Die kind sien my verbasing oor haar bemorste Barbie-pop wat sy skaars ’n maand gelede by Kersvader gekry het. Sy begin huil, en vertel: “Tannie Elise onthou mos ek hét al ’n Barbie by Kersvader gekry, die vorige Kersfees. Ag, Tannie, maar die dag ná daardie Kersfees het Mamma my Barbie-pop, wat toe nog in die boks was, gevat en gaan verkoop.” 

Sy snik. “Vir kos, Tannie.” 

En ná ’n ruk: “En dis hoekom hierdie nuwe Barbie so vuil is.”

Sy sien seker ek verstaan nie, en verduidelik: “Toe Kersvader nou die dag by die partytjie my Barbie gee, het ek die boks stukkend geskeur en my nuwe Barbie  onder die kerksaal se buitekraan gehou sodat sy papnat word. 

“Ag, Tannie, toe sleep ek haar deur die grond langs die sypaadjie. En ek skeur haar klere. Ek wil nie hê Mamma moet my nuwe Barbie ook verkoop nie.” 

Daar het wel ’n ander geskenk op haar gewag, soos op ander behoeftige Hillbrowkinders: Hulle is met ’n bus see toe, Durban toe. Daar was egter ’n probleem met die vaalhaar-kind. Of, beter gesê, met haar ma. Dié ervaar erge skeidingsangs as haar kind nie by haar is nie. 

Uiteindelik is ’n spesiale vergunning gemaak sodat die sieklike mamma kon saamgaan. Ons het haar ’n fluitjie in die hand gestop, met die opdrag dat sy die kinders op die strand moet dophou. “En as jy sien daar is fout by een van die kinders, bláás jy op die fluitjie! Dan sal die ander volwassenes kom help.” 

So het sy die klompie dae op Durban se strand geniet – strandsambreel, strandstoel, ’n verkyker en ’n fluitjie. En haar kind was deurentyd onder haar oë. 

Die vaalhaar-meisiekind se seevakansie het ook ’n nuwe baaikostuum ingesluit, ’n strandhanddoek en lekker plakkies. Sy het daardie paar dae omtrent in die swembroek en plakkies gelééf. Maar toe ons huis toe ry, het die een plakkie per ongeluk in die bus gebreek. Die baaikostuum, het ek gesien, was behoorlik hard van elke dag se seesout. 

Ook maar goed, het ek so onderlangs gedink, nou kan die plakkies en die swembroek ten minste nie verkoop word nie.

  • Elise Bosch is ‘n geliefde rubriekskrywer en omgee-mens. Sy werk al dekades in Hillbrow, waar sy Jesus se liefde en sorg aan swaarkrymense bring. Hier vertel sy hulle stories. Sy kan by 083 484 9088 gekontak word vir skenkings of optredes.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.