Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Elke wedloop word ’n getuienis,’ vertel dié paralimpiese atleet

“Geloof is een van die belangrikste dinge in my lewe.” Só sê die bekende paralimpiese atleet Louzanne Coetzee, wat tydens die Paralimpiese Spele in Tokio in 2020 ’n bronsmedalje in die maraton en ’n silwermedalje in die 1 500 meter-wedloop ingepalm het.

“Geloof speel nie net ’n belangrike rol in my alledaagse lewe nie,” sê sy, “maar ook tydens elke wedloop wat ek hardloop. Want so ’n wedloop word vir my ’n getuienis wat ek daarna met ander mense kan deel.”

’n Normale lewe, sover moontlik

Die dertigjarige Louzanne is blind gebore. Sy vertel: “My ouers het aanvanklik nie geweet ek is blind nie. Hulle het dit eers tydens my eerste besoek aan die pediater uitgevind. Toe is Leber se amourose, ’n seldsame siekte wat die ontwikkeling van die retina beïnvloed, by my gediagnoseer.

’n Dokumentêre rolprent, ’n Gids vir Louzanne, wat haar lewensverhaal vertel, is vroeër vanjaar by die kykNET Silwerskermfees in Kaapstad bekendgestel.

“Maar my ouers het my uit die staanspoor grootgemaak met die siening dat my lewe nie deur uitdagings gekenmerk moet word nie. Dat ek, sover moontlik, ’n normale lewe moet lei. En indien daar hindernisse opduik, moet ek dit oorkom. Dit het hulle my geleer. Daarvoor sal ek hulle ewig dankbaar wees.”

Louzanne het in Bloemfontein grootgeword. Sy was sewe jaar oud toe sy Worcester toe is waar sy haar skoolloopbaan aan die bekende Pionierskool voltooi het. Ná matriek het sy vir ’n BA-graad in kommunikasiekunde aan die Universiteit van die Vrystaat ingeskryf. “Ek het aanvanklik nie geweet waarin ek verder wou studeer nie, maar ek het gereken kommunikasiekunde bied verskeie loopbaanmoontlikhede, byvoorbeeld joernalistiek en skakelwerk.”

‘Elke medalje het sy eie storie’

Sy het voor haar universiteitstudies nooit juis aan atletiek gedink nie. Sy was in elk geval nie juis baie aktief nie. “Maar,” vertel sy,  “in 2012 het ek saam met ’n gids aan die 100 meter-wedloop tydens die eerstejaarsbyeenkoms deelgeneem. Een van die huiskomiteelede het my ná die byeenkoms aangemoedig om ’n afrigter te kry. En dis waar die atletiekgogga gebyt het.”

Sy wou aanvanklik nie die langer afstande aandurf nie, maar toe begin sy om aan padwedlope deel te neem. “Ek het mettertyd meer op die middelafstande begin fokus en by ’n oefengroep aangesluit. Ek was verras toe ek in 2013 vir die Paralimpiese Wêreldatletiekkampioenskap gekwalifiseer het en uiteindelik vir die Suid-Afrikaanse span gekies is.”

LEES OOK: Gouemedaljewenner Anruné: ‘Ek eer God vir wat Hy in my en my pa se lewe gedoen het’

In 2016 het Louzanne aan die Paralimpiese Spele in Rio de Janeiro deelgeneem. En vier jaar later is haar harde werk en deursettingsvermoë met ’n brons- en ’n silwermedalje by 2020 se Paralimpiese Spele in Tokio bekroon. “Dit was ’n onbeskryflike gevoel om die twee medaljes te kon wen. Vandat ek begin hardloop het, het ek dikwels gewonder waarheen ek met my atletiek op pad is. En of al die harde werk en die strawwe oefenprogram die moeite werd is. Maar toe ek die medaljes ontvang, is ek met groot dankbaarheid vervul. Elke medalje het sy eie storie – en ek dink die storie agter die medalje is soms belangriker as die medalje self!”

‘Dit was die perfekte dag’

Toe Louzanne aan die Universiteit van die Vrystaat begin studeer het, het gestremde studente nie juis geleenthede gehad om aan sport deel te neem nie. “Maar sedertdien het ek my daarvoor beywer om ’n department vir gestremde atlete te ontwikkel sodat hulle welkom kan voel by die universiteit.”

Louzanne werk die afgelope vyf jaar as koshuisbestuurder by dié universiteit. Sy wissel haar loopbaan hier af met atletiek. Haar oefenprogram is redelik straf. “Ek oefen sewe tot tien ure per week. Dan is daar drie keer per week se kondisioneringsessies in die gimnasium.”  

Dié aantreklike, lewenslustige blondekop se beker van geluk het oorgeloop toe sy op 7 Oktober vanjaar met Jeandré Badenhorst getroud is. “Dit was die perfekte dag, en ek sou niks daaraan anders wou hê nie.”

Jeandré en Louzanne het mekaar in 2017 ontmoet toe Jeandré en sy broer Estean op soek was na oefenmaats. Estean is sedertdien Louzanne se gids tydens wedlope.

Louzanne vertel: “Die liefde tussen my en Jeandré het eers twee jaar ná ons ontmoeting vlamgevat. Ons het in daardie stadium albei geweet wat ons in ’n lewensmaat wil hê. Dit is ook vir my wonderlik dat hy my so baie in my atletiekloopbaan ondersteun.”

Louzanne se huidige gidshond Isabella en haar vorige (afgetrede) gidshond Oakley was die ringdraers tydens die stylvolle huwelikseremonie. Estean en haar suster Anmari het die gidshonde ingebring.  

’n Groeiproses

Jeandré is ’n videograaf en ook die bestuurder van die klank en musiek by die NG Kerk Heuwelsig in Bloemfontein. Louzanne vertel dat sy graag sing. “Musiek speel ’n belangrike rol in my lewe en ek luister graag gospelmusiek om my te inspireer.”

Sy sê sy het ’n “dankbaarheiddagboek” waarin sy elke dag twee dinge neerskryf waaroor sy dankbaar is. “My familie, vriende en my man inspireer my baie. Hulle is ook op my dankbaarheidlysie. Voorts is ek baie dankbaar dat ek ’n werk het.”

Louzanne sê sy hou daarvan om lysies te maak. Dit motiveer haar om elke dag bepaalde take aan te pak en dit te voltooi. Haar lewensfilosofie is om nie op uitdagings te fokus nie, maar om eerder ’n oplossing daarvoor te vind.

’n Dokumentêre rolprent, ’n Gids vir Louzanne, wat haar lewensverhaal vertel, is vroeër vanjaar by die kykNET Silwerskermfees in Kaapstad bekendgestel. “Dit was vir my ’n groot voorreg om deel van die vervaardiging- en verfilmingproses te kon wees. Dit alles was ook vir my ’n groeiproses. En ek was heel in my noppies oor die wyse waarop my storie op film vasgevang is.”

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.