Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Etlike nekoperasies ná gereelde aanranding: ‘God begewe of verlaat my nooit’

Ek het in November 2007 my eerste nekfusie-operasie ondergaan. Alles het goed afgeloop. Dit is wel ook so dat indien een fusie gedoen is, daar na alle waarskynlikheid nog sal volg.

So is die 2007-operasie dan ook in 2015 deur ’n tweede een gevolg. Ook dié een was suksesvol. En ek was geseën om telkens deur dieselfde neurochirurg geopereer te kon word.

Die rede vir al die nekoperasies?

Ek was getroud met ’n man wat my gereeld aangerand het. Vroeg in 2007 het hy my teen ’n muur geslinger en dit het skade aan my nek veroorsaak.

LEES OOK: ‘Jou liggaam onthou,’ sê trourokontwerper Ilse Roux

Maar dié deel van my lewe is ’n getuienis van hoe die Here vir my sorg. Ek deel dit graag:

Die derde operasie

In 2007 het ek ’n lamheid in my een arm ervaar, gepaard met ’n “naalde-en-spelde”-gevoel. ’n Neurochirurg het aan my verduidelik dat ek die gebruik van my arm heeltemal sal verloor indien hulle nie ’n nekfusie* uitvoer nie.

Hy het my kans gegee om self te ervaar wat hy beskryf het. Met verloop van tyd het ek inderdaad presies beleef wat hy aan my verduidelik het.

Met die tweede operasie, in 2015, het ek dieselfde paadjie geloop.

Uiteindelik was ’n derde een nodig, in Augustus 2020. Dié keer was die neurochirurg  wat die vorige twee uitgevoer het nie beskikbaar nie.

Ek was 50 jaar oud toe die derde operasie op ’n nagmerrie uitgeloop het. Toe ek ná hierdie operasie bykom, het ek ontsettende pyn ervaar. Dit was so erg dat ek geskreeu het, en daarna sonder ophou in trane was.

In plaas daarvan om my te ondersteun was die dokter uiters ongeduldig. Ek is streng gewaarsku dat enige beweging my verlam sou laat. Ek moes die hele nag doodstil lê.  

Die volgende oggend is bevind dat die nuut-ingeplante skroewe uitgeskeur het en dat ’n werwel gekraak het. Tot vandag is dit onverklaarbaar dat so iets kon gebeur het.

Ek sou weer geopereer moes word.

Die pyn was ondraaglik, en oral was slange

Met ’n volgende operasie sou titaanskroewe ingeplant word – maar dit het ’n lang aansoekproses by die mediese fonds geverg.

Toe ek kort daarna wou opstaan om te loop, was ek inderdaad verlam: Ek kon nie ’n enkele tree gee nie.

Intussen het ek elke dag gehuil van die pyn. Om nie eens te praat van die vrees vir permanente verlamming nie.

In die drie weke wat dit geduur het vir die mediese fonds se goedkeuring, het ek meer as een keer by die dokter gepleit om my te help. Die pyn was ondraaglik.

Vroeg in Oktober 2020 is ek terug teater toe. Halfpad deur die operasie het die dokter my dogters gebel om te sê die plan het nie gewerk nie. My dogters moes kies: Moes hy die operasie staak en weer later probeer, of moes hy voortgaan?

My kinders het besluit die operasie moes voortgaan. Tydens ’n twaalf uur lange operasie is die fusie vergroot ten einde al die skade te herstel.

Wat ek nie vooraf besef het nie, is dat ’n mens wat so lank onder narkose was hallusinasies ervaar. Ek het oral slange gesien en geglo die personeel hou my vir die gek. Ek het deurentyd ’n erge lawaai buite gehoor. Al dié dinge was baie traumaties.

Weens die destydse Covid-19-maatreëls moes spesiale toestemming gereël word sodat my dogters my kon besoek. Ek het hulle gevra of hulle kan glo dat mense só buite ’n hospitaal kon rumoer. Die personeellede het my dogters eenkant toe geroep en aan hulle verduidelik dis alles hallusinasies.

“My dogters was nog altyd ’n baie groot seën in my lewe. God weet wat ’n mens nodig het, en Hy het goed geweet ek het drie dogters nodig.” Foto verskaf

Nóg een …

Kort hierna is ek na ’n rehabilitasiesentrum oorgeplaas. Ek moes weer leer loop. Ek het selfs gesukkel om ’n tandepastabuisie oop te maak.

En toe tref die volgende ramp my: Toe die steke twee weke later verwyder word, skeur die wond oop.

As noodmaatreël het die verpleegpersoneel die wond “gepak”, dit wil sê gaas en pleisters om die wond geplaas om alles steriel te hou. Vroeg die volgende dag is ek terug teater toe sodat die wond weer van binne na buite geheg kon word. Dit was ’n verdere vyf uur lange operasie.

Toe ek teruggestoot word na my kamer toe, was daar ’n hengse ontploffing. Die muurprop, wat die bed se funksies reguleer, het luidkeels die gees gegee. Asof ’n mens se senuwees dit nodig gehad het …

Nog was dit nie die einde nie

Hierna het ’n lang herstelproses gevolg. Dit is gekompliseer deur, onder meer, ’n verhoogde infeksietelling; antibiotika wat nie wou werk nie; die alternatiewe antibiotika wat my baie siek gemaak het; en beskadigde senuwees wat geweldige pyn in my vingers veroorsaak het.

‘n Psigiater wat in pynmedikasie spesialiseer, het uiteindelik die pyn effens onder beheer gebring. Intussen is bevind dat een van my stembande verlam is en nooit weer sou herstel nie.

Nog was dit nie die einde nie. Nee, ná vier operasies en vier maande in die hospitaal het my nagmerrie nog nie geëindig nie.

Elke keer as ek aan die spesialis verduidelik dat my voete doodgaan, reken hy die probleem “lê in my kop”. My klagtes oor ’n knop in my keel wat my naar maak en my laat verstik, is ook op dié manier afgemaak.

Twee jaar later verwys die neurochrirurg wat die eerste twee operasies gedoen het my na spesialiste in Kaapstad. Hier word bevind dat die derde operasie my spinale koord beskadig het, en dat die betrokke dokters nagelaat het om dit aan my te sê.

Dit was asof ek aan vertraagde skok gely het, want eers ’n week later kon ek begin huil oor hierdie nare waarheid.

‘Die Here jou God trek saam met jou’

Uiteindelik is ek ongeskik verklaar vir my werk as opleidingsbeampte by ’n groot sekuriteitsmaatskappy. Die groot verlies lê vir my daarin dat ek ’n mense-mens is, dat ek daarvan hou om elke dag met mense te werk. Maar dit waarvoor ek so lief was, is van my weggeruk.

Baie mense vertel my hoe dapper ek is, maar Deuteronomium 31:6 dra my elke dag. Dit lui só: “Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees nie, want dit is die Here jou God wat saam met jou trek. Hy sal jou nie begewe of verlaat nie.”

  • Jainni Wille woon in Bloemfontein.

* ’n Spinale fusie-operasie behels die aanbring van metaal- of titaanskroewe bo-oor aangestaste werwels. Dit ondersteun en versterk die werwel-area. Hoewel die beweging tussen die werwels nou beëindig word, verlig dit onmiddellik die pyn.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.