DEUR KAREN READ
Nie een van die hospitaal se personeellede het ons dankie-sê vir hulleself toegeëien nie. Elke keer wanneer ons dankie gesê het, was hul antwoord eenvoudig: “Ons is slegs die instrumente waarmee die Here werk.”
LEES OOK:#1 ‘Ek kon hulle nie groet in die chaos nie’
Hulle was soos die Here se engele om ons. Vinkie was steeds baie rusteloos ná die onttrekking. Ons het op 19 Mei foto’s laat druk van die mense naaste aan hom en dit teen sy kamer se venster opgesit. Ek het gehoop dit sal hom troos as hy wakker is en ons nie self by hom kan wees nie. Henro het ook ’n speellys met stories gemaak, en met Vinkie se gunsteling-Afrikaanse musiek.
Ek het, soos reeds gesê, die oorweldigende behoefte gehad om my kind in my arms toe te vou en hom styf vas te hou, maar vanweë sy gebrekkige immuniteit was die personeel baie besorg oor moontlike kieme.
‘Toe het hy gelag’
Toe ons op die 21ste Mei by die kamer ingaan, was Vinkie wakkerder as voorheen. Hy kon steeds nie mooi fokus nie, en het eerder op klank en stemme gereageer. Ek het by hom op sy bed gaan sit, en die suster het gesê ek moet probeer om hom jellie te voer. Hulle wou so gou moontlik die voedingsbuis verwyder.
Ek het hom begin jellie voer, met hom gesels en vir hom gesê dat wanneer hy weer huis toe kom, hy sommer by my op die bed kan kom slaap, net so lank hy wil. Dan, het ek gesê, skop ons sommer sy pa van die bed af.
Toe het hy gelag. My kind het vir die eerste keer weer gelag. Die gevoel wat dit by my ontketen het, was onbeskryflik. Ek was só dankbaar!
Terwyl ons so sit en lag en gesels, het ’n vreemde man ingestap gekom en gevra of dit Handrè Read is. Hy het hom voorgestel: “Ek is die dokter wat jou by die ongevalle-afdeling behandel het.” Hy het gesê dat dit ook hy is wat al Vinkie se hare afgeskeer en die narkose in die teater toegedien het.
Daarop vertel hy dat hy nou drie keer verby dié kamer gestap het, want hy kon nie glo dat dit Handrè was wat hier lag en gesels en jellie eet nie. Hy het ook die susters gevra of hulle seker is dis die regte kamer.
Hy vertel ons hoe hy Vinkie se brein gesien het. Toe het hy stil geword, sy hande op Vinkie se bed gesit en sy kop daarop laat rus. Woordeloos het hy na my kind gestaar. Dis ’n prentjie wat ek altyd sal onthou.
‘Die lekkerste gevoel ooit!’
Terwyl ek so na die dokter kyk, het ek opnuut besef dat ons maklik praat. Ons almal sê dat God ’n wonderwerk in en deur Vinkie gedoen het, maar ons besef nie die omvang en die grootsheid daarvan nie.
Die pediater het ingestap gekom en gesê ek moet op die bank gaan sit. Die volgende oomblik het sy Vinkie opgetel en hom in my arms gesit. Vir die eerste keer in vier weke kon ek my kind vashou, kon ek sy lyfie styf teen my vasdruk. Dit was die lekkerste gevoel ooit!
Op 24 Mei het Vinkie vir die eerste keer, wel met die ondersteuning van die fisioterapeut, geloop. Sy kenmerkende glimlaggie en sy deursettingsvermoë het almal se hart gesteel. Hy was steeds swak en het opvallend baie gewig verloor, maar hy was só dapper.
Op 24 Mei is Vinkie na die Netcare-rehabilitasiesentrum in Aucklandpark oorgeplaas. Daar het hy elke dag arbeidsterapie, fisioterapie en spraakterapie ontvang. Ek het elke dag daarheen gery om by my kind te wees – van 11:00 tot 15:00, dag na dag. Elke middag se groet was bitter swaar. Sommige middae het hy dapper, met trane in sy oë, gegroet. Ander kere moes ek ry terwyl ek hom hoor huil. Ek het meestal in trane by die huis aangekom.
Oupa Thys en ouma Mariana het vir Vinkie ’n foon gegee. Gou kon hy begin WhatsApp-video-oproepe maak, of doodgewoon stemboodskappe stuur. So het hy, sodra ek uit sy kamer is, saam met my “huis toe gery”. En ons het gewoonlik nog gesels totdat ons gaan slaap het.
Op 11 Junie het die boeties mekaar vir die eerste keer weer gesien. Dit was baie spesiaal om dit te aanskou. Om waar te neem hoe lief hulle mekaar het. Selfs Sion, so klein soos hy is, het Vinkie gedruk en by hom bly staan.
‘Tot in die fynste besonderhede’
As ek nou op alles terugkyk, sien ek God se hand in elke dag. Ons het later verneem die hospitaal het net ’n week voor die ongeluk ’n groter gebou betrek. Dit het onder meer beteken die intensiewesorgeenheid was groter as tevore, en daarom kon hulle Vinkie akkommodeer.
Die professor wat die operasie uitgevoer het, is een van ons land se beste neurochirurge. Hy was nie daardie aand aan diens nie; hy het ’n kollega uitgehelp. Te midde van al die pyn, hartseer, trane en trauma, het die Here tot in die fynste besonderhede gesorg.
Vinkie was steeds in ’n rolstoel; hy was nog nie sterk genoeg om alleen te loop nie. Op 25 Junie het ons ’n spesiale vergunning gekry en Vinkie kon vir een aand huis toe kom. Dit was baie lekker, en bitter gou verby.
Op 28 Junie het ons sy oë laat toets omdat die terapeute bang was hy het dubbelvisie. Maar die Here het ook daar gesorg en die oogkundige kon geen skade bemerk nie.
Ná die oogtoets het ek by Vinkie op sy bed gesit, en ’n oproep gekry om te hoor of dit met ons reg sal wees as Vinkie daardie Vrydag ontslaan sou word. Vinkie het hard geskree en dadelik vir sy oupa ’n stemboodskap gestuur om te sê hy kom huis toe – nie net vir een aandjie nie, maar vir altyd en altyd!
Henro was in trane toe ons hom bel om die nuus oor te dra. En op 1 Julie is Vinkie ontslaan. Uiteindelik kon ons hom huis toe neem, en hom daar hou. Hy kon self uit die hospitaal loop.
Juffrou Elske
Dit gaan goed met my kind. Ons het hom by ’n kleuterskool ingeskryf, waar hy baie gelukkig is.
Sy juffrou Elske is ook deur God op ons pad geplaas. Toe Vinkie nog in die intensiewesorgeenheid was, het ek al planne begin maak vir die dag wanneer hy sou huis toe kom. Elske het deur ’n gemeenskaplike vriendin van die ongeluk gehoor en met my kontak gemaak. Ek het destyds elke dag vir ’n klompie mense laat weet hoe dit met hom gaan, en sy het deel van die groepie geword.
Ek het vir Henro gesê dat wanneer ek aan ’n skooltjie vir Vinkie dink, Elske se naam telkens by my opduik. Op ’n keer het ek vir Elske ’n boodskap gestuur en gevra of sy bereid sou wees om vir Vinkie by haar skool in te neem wanneer daardie dag aanbreek. Haar antwoord was dat die Here haar daarop voorberei het en dat sy dit met liefde sal doen. Sy het ook gesê sy sal my meer daaroor vertel wanneer ons mekaar sien.
Ná Vinkie se ontslag het ons by Elske ’n draai gemaak om die skool van naderby te beleef. Elske het toe vertel dat sy in haar tuin by haar groot akkerboom gestaan en vir die Here gesê het dat as sy ons enigsins kan help, Hy haar moes wys. In dieselfde week het sy my versoek gekry, en dit was vir haar die bevestiging. Haar gebed is verhoor.
LEES OOK:#2 ‘Die hardste woorde wat ek nog ooit moes aanhoor’
Elske is ’n wonderlike mens, sy kyk so mooi na Vinkie. Sy leer hom met soveel liefde en geduld. Sy ogies blink. En hy hardloop weer rond, nadat die dokters eens op ’n tyd gesê het hulle weet nie of dit ooit moontlik sal wees nie.
Die Here is getrou. Daar is steeds ’n lang pad wat voorlê, met weeklikse terapie, maar ons hanteer dit een dag op ’n slag.
Dankie, dankie, dankie
Ons het sóveel om voor dankbaar te wees. Dankie, Here, vir ons familie en vriende. Dankie vir elkeen wat vir ons ingetree het. Dankie dat julle daar was toe ons julle nodig gehad het. Dankie vir al jul liefde en ondersteuning.
Dankie vir kennisse, en selfs mense wat ons nie eens ken nie, wat vir ons gebid het. Jul gebede het ons elke dag opgetel en gedra.
Dankie aan die ambulanspersoneel vir jul omgee, bystand en hulp. Julle doen nie slegs ’n werk nie; julle leef ’n roeping uit.
Dankie aan elke dokter en hospitaalsuster, en elke ander hand wat Vinkie aangeraak en ’n bydrae gelewer het op sy pad na herstel. Ek sal nooit genoeg kan dankie sê nie. Die Here het engele as gewone mense gestuur om ons op te tel, by te staan en te dra toe ons dit die nodigste gehad het.
Ek wil my dankbetuiging afsluit: My heel grootste dankie aan die Here. Aan Hom alleen ál die eer. Sy genade is groot. Ek sal elke dag, vir die res van my lewe, dankie sê dat Hy ons gesin gespaar het en ons ’n tweede kans gegee het.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.