Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Geen hoop vir baba met breinkanker, maar God hou sy beloftes

Die 55-jarige Norval Kriel en sy 45-jarige vrou Madelaine se storie is gebou op ’n fondament van onwrikbare geloof in ’n God wat sy beloftes hou.

In Januarie 2014 het hulle gemerk dat hul klein Ruben se skedel groter is as dié van sy tweelingsussie Kara.

Norval vertel: “Ons het hom na ’n neurochirurg geneem vir ’n kliniese ondersoek. Die dokter het ons egter gerusgestel en gesê dat sy skedel steeds ’n normale kurwe vertoon, al was dit hoër as gewoonlik.

“Alhoewel daar klinies niks met Ruben geskort het nie, het hy tog stadiger as sy sussie ontwikkel. Ons het dit toegeskryf aan die feit dat seuns dikwels stadiger vorder as dogters.”

LEES OOK: ‘Ek sal altyd sy Naam uitjubel’ getuig ouma nadat kleinkind twee keer ’n hartstilstand oorleef

Ruben het egter ál stiller geword. Hy het nie meer gelag nie en het traag voorgekom. Hy het dikwels sy kop agteroor getrek. Sy spelery met Kara het opgehou en hy het lusteloos bly lê.

Norval vertel: “Ek het gereeld vir Ruben die hande opgelê en gebid vir genesing.”

Ruben was toe sewe maande oud.

Madelaine onthou hoe hy eensklaps ophou spring het in sy bonsstoeltjie, en bloot daar gehang het, so asof hy “afwesig” was.

Kort daarna het hy begin braak. Hulle is dadelik na hul pediater en dié het weer die omtrek van sy skedel gemeet. Omdat die omtrek aansienlik toegeneem het sedert die vorige keer, is daar besluit om hom in die hospitaal op te neem.

Norval onthou: “Hulle het onmiddellik met toetse begin en Ruben het ál lusteloser geword. Madelaine het in die hospitaal by hom geslaap; sy was deurentyd by hom. Ek het soms ingegaan om vir hom sy bottel te gee, en net om na aan hom te wees.

“Een middag het Madelaine my gebel en gesê ek moet dadelik hospitaal toe kom, Ruben was grys in die gesig.”

Met Ruben se koms in die hospitaal was hy baie siek. Hy kon nie sy kop beweeg nie, hy kon nie sluk nie. Die gewas se tentakels het al dié soort funksies belemmer. Hy is deur ’n buis gevoed ten einde sy gestel op te bou met die oog op die chemoterapie. Foto verskaf

‘Die oomblik toe ek my kind volkome aan God oorgegee het’

Toe Norval by die hospitaal opdaag, was die dokters gereed om ’n breinskandering te doen. Ruben was so sonder energie dat daar nie eens verdowing nodig was nie.

Die skandering het uitgewys dat ’n dringende breinoperasie uitgevoer moes word. Ruben is met hidrokefalie gediagnoseer, vog op die brein. Dit is veroorsaak deur ’n massa wat op die serebellum teenwoordig was.

Norval vertel: “Hulle het besluit om ’n uitwendige serebrospinale vloeistof-omleiding (‘shunt’) in sy skedel te plaas en van die vog te dreineer om sodoende sy lewe te red. Ek was emosioneel verwyder van die trauma wat voor my afgespeel het; ek het bloot werktuiglik gereageer.

“Dit was totdat ek Ruben in die teater ingedra en die twee neurochirurge langs die operasietafel sien staan het. Toe het ek net weerloos gevoel. Maar ek was terselfdertyd ook reg om te aanvaar wat ook al oor my pad sou kom.

“Dit was die oomblik toe ek my kind volkome aan God oorgegee het.”

‘’n Plekkie eenkant, om stil te word’

Die gesin se geestelike leiers het saam met hulle kom bid terwyl die twee uur lange operasie aan die gang was. Die operasie was ’n sukses.

Maar dit was nog nie die einde van die reis nie, nie naastenby nie. Daar was wel ’n klein opflikkering toe Ruben, ná ’n maand in die hoësorgeenheid, geglimlag het.

Norval en Madelaine het in hierdie tyd ’n WhatsApp-groepie op die been gebring ten einde die baie mense wat navraag gedoen het gereeld oor Ruben se vordering in te lig.

Ook dit was nie probleemloos nie. Norval vertel: “Soms word mense se empatie verwring deur hul eie belewenis van siekte en dood. Ons wou net stil wees, ons wou in God se vrede bly.

“Ek het in hierdie tyd vir my ’n plekkie eenkant ingerig om stil te word. My Bybel was daar, en ’n foto van Ruben, en ’n brandende kers. Dit is waar ek die Here daagliks ontmoet het en waar ek krag gekry het vir die moeilike pad. Ek het baie gebid en ook soms gehuil, maar ek was nooit kwaad vir God nie.”

Madelaine en Norval het baie tyd in die kapel by die hospitaal deurgebring. Hier kon hulle rustig word en God se genade ervaar.

Dit was hier waar Madelaine ’n spesiale boodskap van die Here ontvang het. By drie geleenthede het sy haar Bybel by dié belofte oopgemaak: “My siel, keer terug tot jou rus, want die Here het goed aan jou gedoen” (Ps 116:7).

‘’n Aggressiewe soort breinkanker’

Hierna het ’n MRI-skandering gevolg. Dr Elize Basson, pediatriese narkotiseur, ook ’n lid van hul gemeente, het gesê dat sy geen hoop vir die seuntjie gehad het nie. Sy sou Ruben later as “’n wonderwerk” bestempel.

Norval vertel: “Die skandering het gewys dat die massa oor die hele serebellum versprei was. Die dokters het besluit om ook ’n biopsie te doen, en terselfdertyd ’n permanente serebrospinale vloeistof-omleiding.

“Ruben is ná die biopsie met medulloblastoom gediagnoseer, ’n aggressiewe soort breinkanker, wat toe reeds in die vierde fase was.”

Omdat die massa die brein geïnfiltreer het, kon dit nie chirurgies verwyder word nie. Boonop was die kanker reeds besig om na die rugmurg te versprei. En die breinvloeistof was vól kankerselletjies.

Ruben was te jonk vir bestraling; dit het chemoterapie as die enigste opsie gelaat. Hy is na Tygerberg-hospitaal oorgeplaas, waar ’n lang pad met chemoterapie op hom gewag het.

Norval en Madelaine onthou dié tyd soos gister. Buiten al die uitdagings wat Ruben se siekte meegebring het, moes hulle steeds voltyds werk. Gelukkig was daar ’n baie gewillige ouma en oupa wat na klein Kara help omsien het.

Madelaine sê: “Ek kan my ouers nooit genoeg bedank vir hul onwrikbare ondersteuning en liefde nie. Hulle het doodgewoon ‘oorgeneem’ as ons dogtertjie se ouers.”

Die Kriels is ook dankbaar vir ’n goeie mediese fonds, wat die finansiële druk verlig het.

In Tygerberg-hospitaal is daar presies aan hulle verduidelik wat die prosedure behels. Met hierdie kennis was die verwagtinge duideliker omlyn. Dit was egter hul geloof wat hulle in daardie moeilike tyd geanker het.

Ruben was reeds baie siek: Hy kon nie sy kop beweeg nie, hy kon nie sluk nie. Die gewas se tentakels het al dié soort funksies belemmer. Hy is deur ’n buis gevoed ten einde sy gestel op te bou met die oog op die chemoterapie.

‘Môre sal die son weer skyn’

Toe, op ’n dag, sê die dokter vir Madelaine dat sy Ruben na die hoësorgeenheid gaan oorplaas en hom met behulp van morfien gemaklik sal hou. Sy het ook gereken dat chemoterapie nie meer ’n verskil sou maak nie.

Madeleine het dit as ’n doodsvonnis beskou.

In hierdie donker tyd in hul lewe onthou hulle ’n roerende ervaring in saal G3 van Tygerberg-hospitaal se kanker-eenheid. Suster Marang het saans, nadat sy van diens gegaan het, haar kitaar geneem en vir elke kind in die saal gesing. Ruben se liedjie was “Môre sal die son weer skyn”.

Tot vandag toe, sê Norval, maak dié liedjie hom emosioneel, laat voel dit hom broos.

In dié tyd het Norval ook ’n spesifieke teksvers ontvang. Dit was Handelinge 3:16, wat só lui: “Dit was op grond van geloof in die Naam van Jesus dat sy Naam hierdie man, wat julle sien en ken, sterk gemaak het. En die geloof wat deur Jesus kom, het in julle almal se teenwoordigheid hierdie volkome genesing aan hom gegee.”

“Hoor dit!” sê Norval. “Nie gedeeltelik nie, maar volkome.”

Ná drie chemoterapie-sessies was daar slegs drie nodules op Ruben se brein. En volgens die dokter was dit bloot letsels wat oorgebly het. Vandag is Ruben 11 jaar oud en blakend gesond.

Hy het ’n besonder mooi geaardheid. As gevolg van fynmotoriese uitdagings en ’n effense balansprobleem, alles oorblyfsels van sy kankerstryd, gaan hy skool by die Paarl-skool vir kinders met neurale en liggaamlike gestremdheid.

“Dalk is daar ouers in ’n soortgelyke situasie as ons s’n,” sê Norval. “Vir hulle wil ek sê: ‘Wees dankbaar in alles. Dit is wat ek geleer het in ’n staatshospitaal, waar daar soveel mense was wat soveel swaarder gekry het as ons.’

“Geloof maak dinge nie noodwendig maklik nie, maar dit maak dit moontlik.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►