Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Geen trauma is te groot vir God nie’

Louise Swart sê sy was die produk van ’n verkragting. Sy is as baba deur ’n egpaar aangeneem, maar dié het talle uitdagings beleef en het dikwels met mekaar baklei. Hulle was dus nie ’n goeie voorbeeld vir die dogtertjie wat in hul sorg geplaas is nie.

Louise vertel: “Al het ek van kleintyd af Sondagskool en kerk toe gegaan, het ek glad nie ’n verhouding met Jesus gehad nie. Dit wat ek in ons huis gesien het, was in elk geval nie wat die kerk ons probeer leer het nie.”

Die eerste stap op pad na verslawing

Louise is vandag 39 jaar oud, ’n verkoopsagent en woon in Bloubergstrand. Sy vertel hoe dinge in haar lewe vroeg reeds begin skeefloop het: Sy was maar sewe jaar oud toe haar beste maatjie se ouer sussie en dié se vriendinne haar begin molesteer het. Dit het twee jaar lank so aangehou.

“Ek het dit as ’n speletjie beskou, maar ek weet nou dit het my ’n verwronge idee van seksualiteit gegee.

“Omdat my onskuld so vroeg van my af weggeneem is, het my aanneemma besluit om my in ’n inrigting te laat opneem. Sy was daarvan oortuig dat ek ’n geestesversteuring het.

LEES OOK: ‘Ek het weer besef hoe groot God se genade is,’ vertel gewese dwelmslaaf wat saam met sy dogtertjie gedoop is

“Boonop kon ek nooit stilsit nie. Dalk was dit AGHS, oftewel aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom. ’n Psigiater het Prozac voorgeskryf, en die uitwerking was fantasties – geen emosie, geen hartseer, geen verlange nie. En die gevoel van ‘ek hoort nie hier nie’ was weg.

“Dit was die eerste stap in my reis met verslawing.”

‘Jesus, help my!’

Louise was 14 toe sy haar eerste straatdwelmmiddel gebruik het nadat sy immuniteit teen Prozac opgebou het. Sy het enige poeier, pil of spuit gebruik wat haar kon laat “anders” voel.

“My vriende het ook met dwelms geëksperimenteer, maar hulle het geweet wanneer om op te hou; ek nie. Die pyn was net te rou. Op skool het my vriende hokkie en netbal gespeel terwyl ek net wou ‘hoog’ wees.”

Op 16 het sy seksueel aktief geword. “Dit het my egter vuil laat voel en my verder in die donker dieptes laat aftuimel. Ek het emosioneel dood gevoel. ’n Jaar later het ek na nagklubs begin gaan om my verslawing te voed. En ek het dwelmmiddels, meestal khat, in die klubs begin verkoop.”

Een aand het Louise na ’n straatdwelm-wedren gegaan, en daarna na ’n nagklub. Ná ’n ruk het sy uitgeloop om vars lug te soek. ’n Vreemde man het haar agtervolg.  

Louise onthou: “Ek was onder die invloed van dwelms en het net aanhou loop. Ek het ’n stemmetjie in my agterkop hoor sê: ‘Draai om, moenie verder loop nie.’

“Maar toe ek later omdraai, het die agtervolger eensklaps sy arm om my nek gehad en my na ’n parkie gesleep. Hy het my gewurg en ek het my bewussyn verloor. Hy het my verkrag.

“In ’n stadium het ek bygekom, en ek het een woord gesê – ‘Jesus’.

“Hy het my weer begin wurg. Ek kon sy drankasem ruik, en daar was sy swaar lyf op myne, en sy baard teen my gesig …

“Ek het sonder ophou gebid: ‘Jesus, help my!’

“Skielik het hy opgestaan en weggehardloop.”

’n Stem wat duidelik gesê het: ‘Hardloop!’

Louise het na die nagklub gestrompel. Daar het iemand haar gehelp en haar hospitaal toe geneem. Talle are in haar oë het gebars vanweë die verwurging. En daar moes gruis uit haar gesig gewas word omdat dit so ru teen die grond gedruk is.

Haar aanneemouers het gereken dié voorval was haar eie skuld. En die saak is van die hofrol geskrap weens onbeantwoorde vrae. Louise sê: “Dit het ’n verdere doodsheid teenoor mans en seks by my meegebring.

“Daarna het ek vir ’n onderhoud as ‘elite-sekswerker’ gegaan. Ek moes die aand daar deurbring.

“Maar die volgende oggend vroeg het ek ’n stem gehoor wat duidelik gesê het: ‘Hardloop!’

“Ek het al my besittings in ’n kussingsloop geprop en kaalvoet weggehardloop. ’n Paar dae later het ek gehoor dat daar meisies in daardie plek verkoop is. Mensehandel. En ek het dit vrygespring …”

‘Stop, dis nou genoeg!’

Intussen het Louise se aanneempa ’n ontmoeting met die Here beleef. Hy het na haar probeer uitreik. Maar sy, die dwelmverslaafde, wou niks daarvan weet nie.

Toe haal hy ’n vliegtuig Johannesburg toe, na haar toe, sy 24-jarige dogter.

Louise vertel: “Hy sit toe op sy hande en hy bid: ‘Here, ek wil nie meer Louise se pa wees nie, want elke keer as ek haar pa moet wees, is ek onsuksesvol. Vandag gee ek my dogter, wat U aan my geleen het, aan U terug.’

“Ek het dit glad nie verstaan nie. Al waaraan ek gedink het, was dat hy nooit my pa wou wees nie.”

Daardie middag het Louise na vriende toe gegaan om dwelms te gebruik. Sy het twee nagte oorgebly. Die derde dag, nadat almal weer ’n beurt gehad het en sy oorgebuk het om te snuif, het sy ’n hand gesien. “Dit het oor die bord met dwelms beweeg. Ek het gedink ek hallusineer.

“Maar toe die bord later weer voor my beland en ek nog ’n keer die hand sien, hoor ek: ‘Stop, dis nou genoeg!’

‘Ek het ’n diep liefde vir God se woord ontwikkel’

“Ek het so geskrik! En ek het besef dit was ’n bonatuurlike gebeurtenis. Ek het drie dae lank onophoudelik gehuil. Toe het ek my aanneempa gebel. Ek het saam met hom en sy derde vrou, ’n wonderlike mens, Kaap toe gery. Hy het my na Eljada geneem, ’n Christelike rehabilitasiesentrum. Ek het drie maande lank daar gebly.

“En daar het ek Jesus ontmoet. Ek het elke oggend die Bybelstudiebyeenkoms bygewoon en ’n diep liefde vir God se woord ontwikkel.”

Nadat sy ontslaan is, het Louise by ’n ondersteuningsgroep aangesluit. Sy het vir Jacques ontmoet, die groep se fasiliteerder. Hulle is ses maande later getroud.

“Die Here het my beskouing oor seks verander; dis nou vir my ’n rein liefdesdaad.”

‘Volkome vergifnis maak jou vry’

Vandag is sowel Louise as Jacques gekwalifiseerde beraders wat dwelmverslaafdes op die pad na herstel help. Hulle help om die regte rehabilitasiesentrum vir ’n bepaalde individu te identifiseer, en hulle help slagoffers om ’n buitepasiëntprogram te volg, indien nodig. Louise is ook ’n lofsang- en aanbiddingsleier in hul kerk.

Die seer, die trauma en die posttraumatiese stres het egter nie oornag verdwyn nie.

Louise kon ook nie haarself óf die verkragter vergewe nie.

Sy onthou: “So tien jaar gelede het ek ’n stem hoor vra: ‘Louise, het jy jou verkragter vergewe?’

“Die verkragter se oë, sy baard en die reuk wat aan hom gekleef het, was nog helder in my gedagtes. ’n Goeie vriendin het my Jesus se woorde in Lukas 7:47 gegee: ‘Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde.’

“Ek het baie tyd met die Woord deurgebring en by Jesus se voete gesit. Daar het ek gevra dat Hy my moet help dat ek almal vergewe wat my seergemaak het, dié wat my misbruik het. Dat ek ook myself sal vergewe vir die dwelms wat ek verkoop het, en dat ek op dié manier verantwoordelik was vir ander se verslawing.

“En so vyf jaar gelede, toe ek weer die stem hoor wat dieselfde vraag vra, tóé kon ek sê: ‘Ja, ek het my verkragter vergewe. Ek hoop en bid dat hy ‘n ontmoeting met God gehad het en dat dit goed gaan met hom.

“Volkome vergifnis maak jou vry.

“Ek is daarvan oortuig dat geen trauma te groot is vir God se liefde nie. My hartsbegeerte is dat mense nie sal stilbly oor hul seer nie. Daar is hulp. En daar is ander wat reeds die pad gestap het en wat dit saam met jou ook wil stap.

“Vandag is ek vol vreugde. Deur God se genade is ek verlos én genees. In Christus is ek ’n nuwe mens, vry van die kettings wat my so lank vasgebind het.”

  • Louise Swart is deeltyds betrokke by die Project Exodus-bediening, wat dwelmverslaafdes en hul geliefdes help. Kontak haar by 079 516 8430.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.