Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

“Genesing is ’n keuse,” sê Felicia Goosen wat in ’n Thailandse tronk gebore is

Sy het baie jare lank met ernstige geestesgesondheidsprobleme gesukkel nadat sy as driejarige dogtertjie van haar ma Vanessa in ’n Thailandse tronk weggeneem is. Sy het by pleegouers grootgeword. Vandag is Felicia ’n vervulde, gelukkige jong vrou wat die Here leer ken het. En sy ploeg terug in die gemeenskap deur jong mense met hul probleme te help.

“Ek was gebroke. ’n Stukkende kind.”

Haar oë is die kleur van molasse. ’n Introvert met ’n warm hart, baie liefde en deernis vir ander. Sy dink ver terug wanneer sy alles herleef. Sy praat sag en rustig.   

Die emosionele trauma van ’n driejarige

Toe Felicia Goosen (28) op ’n brose drie jaar haar ma Vanessa, wat weens beweerde dwelmhandel tronk toe is, in Lard Yao-tronk in Thailand moes groet, het haar hart versplinter. Die reëls van dié tronk het bepaal dat ’n gevangene se kinders slegs daar mag woon totdat hulle drie jaar oud is.

Felicia se ma se beste vriendin Melanie Holmes het klein Felicia daar kom haal. Die Holmesgesin sou haar voortaan as pleegouers bystaan.

Die pyn en verwerping het diep gesny. Maar dié hoop het haar bygebly: “Mammie kom binnekort huis toe!”

Felicia het almal met haar glimlag gebluf. Sy het egter gevoel sy pas nêrens in nie. Haar groot wens was om soos ander kinders te wees, gelukkig en sorgvry.

En hoewel haar pleegpa Hilton en ma Melanie baie lief was vir haar,  soos haar sussies Lerell en Tatum, het sy menige aand haar kussing sopnat gehuil. Vanessa het briewe gestuur en kontak behou, maar Felicia se emosionele trauma het ná haar aankoms in Suid-Afrika in liggaamlike simptome begin manifesteer. Sy het begin hakkel, sy het erge beenpyne ontwikkel.

Vier keer het sy haar ma Vanessa in die tronk in Bangkok besoek. Net om daarna nog meer verward en getraumatiseer terug te keer.

Die jong Felicia het op skool gesukkel om te fokus. Sy het toe reeds selfdood-gedagtes begin kry. Sy was maar nege jaar oud. Vele uitdagings het op haar gewag: paniekaanvalle, selfskending, depressie, enkele selfdoodpogings. Later het alkoholmisbruik gevolg.

Selfskending, depressie

Met die ontydige dood van haar pleegma Melanie, toe Felicia maar 15 jaar oud was, het haar wêreld nogeens in duie gestort. “Ek het gedink: ‘Daar gaan ’n deel van my,’” onthou sy. “Ek het nie gedink dat die leegheid en eensaamheid, wat toe reeds so deel van my was, kon vererger nie. Maar dit het.”

Die depressie en selfskending het toegeneem. Sy het met haar vingernaels in haar kopvel gegrawe totdat dit bloei, sodat sy op haar skoolwerk kon fokus. Mettertyd het sy die inhoud van ’n naelstelletjie gebruik om haar arm aan die binnekant te sny. ’n Skêrtjie, ’n naelknipper, ’n naelvliesknipper, ’n lemmetjie – afhangend van die soort emosionele pyn wat sy verduur het.

Sy vertel: “Ek het my altyd op dieselfde plek gesny omdat ek nie lelike letsels wou oorhou nie. Die pyn het my gehelp om ‘lewendig’ te voel. Dit het die adrenalien laat bruis, wat ek nodig gehad het om te kon voortgaan.

“Daarna het ek die verskillende stukke sny-gereedskap gesteriliseer, ’n paar verbande gewas en die wonde skoongemaak. Ek het dit verbind – en my arm probeer wegsteek.” 

‘Wat gee jou hierdie vrede?’

Ná 16 jaar, 6 maande en 6 dae is ma Vanessa vrygelaat. Sy het na Suid-Afrika teruggekeer en Felicia het gehoop die lewe sou voortaan anders verloop.

“Maar dit het nie. My hele lewe lank het ek gewag dat die leegheid in my sal weggaan. Maar nie net het dit gebly nie, dit het vererger.”

LEES OOK: ‘Jou stukkendwees is jou grootste getuienis,’ sê ma ná seun in fratsongeluk sterf 

Felicia en Vanessa kon nie dadelik by mekaar aanklank vind nie. Dit het baie jare geduur voordat hulle mekaar aanvaar het. Dat hulle besef het dat hulle, ten spyte van hul verskille, mekaar liefhet. Mettertyd het die verhouding gegroei en het hulle besonder goeie vriende geword.

Intussen het Felicia ook haar pa Felix ontmoet en hom behoorlik leer ken. Sy het besef dat sy meer na haar pa lyk, en dat sy haar rustige geaardheid van hom en sy familie gekry het.

Ná skool het Felicia ’n BSc-graad in sielkunde en kinder- en jeugontwikkeling aan die Monash-universiteit in Roodepoort behaal. Maar haar geestesgesondheid was steeds nie na wense nie. Sy het te veel gedrink en met angs en depressie gesukkel.

Toe ontmoet sy iemand wat haar lewe radikaal sou verander – Keila, ’n student wat uit Mosambiek kom. Keila het ’n kalmte uitgestraal, ’n soort vrede wat Felicia begeer het.

Felicia vertel: “Ek onthou die dag toe ek aan Keila oor ’n koppie koffie vertel het dat sy iets het wat ek nie het nie, en dat ek dit bitter graag ook sou wou hê. ‘Wat gee jou hierdie vrede?’ het ek gevra.”

‘Dit is Jesus’

“Toe antwoord sy: ‘Dit is Jesus. Ek het Jesus in my lewe.’”

Hoewel Felicia soos Keila wou wees, was sy lewensmoeg. Sy het nie geweet hoe om haar lewe te verander nie. Die donker gat waarin sy haar bevind het, was te diep.

Maar op ’n dag het haar ma vir haar gesê: “Felicia, jy moet nou besluit. Gaan jy hier sit en jammer voel vir jouself, of gaan jy opstaan en anders begin lewe?”

Vanessa het Felicia van die Here vertel en wat Hy alles vir haar kan doen.

Felicia onthou: “Eers was ek kwaad. Wat weet my ma? Maar ek het ook besef dat ek ’n laagtepunt bereik het en dat dit dalk ’n goeie idee was om Jesus ‘te probeer’.

“Ek het besluit om Jesus in my lewe toe te laat – en as dit nie werk nie, sal ek wel kan sê dat ek álles probeer het. Daarna sal ek die finale uittrede uit my uitputtende lewensreis beplan.”

Vanessa het Felicia na die Here gelei, en Felicia het Hom as haar Verlosser aangeneem. Sy het begin om die Bybel te lees. Sy het baie met die Here gepraat.

Hierna het Keila haar geestelike mentor geword. Dit was nie ’n maklike pad nie. Tog het sy hierdie keer hoop gehad.

Sy kon in 2016, ná 18 maande se probeer, dit regkry om op te hou drink. Vir die eerste keer sedert haar hoërskooljare. “Ek het besef dat ek nie nader aan God kan kom en steeds van drank afhanklik wees nie.”

Intussen het sy ook met vergifnis gesukkel. Op ’n dag lees sy wat Paulus aan die Kolossense skryf: “Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe” (Kol 3:13).

Om te vergewe, ook jouself

Daarop het Felicia besluit om almal in haar lewe te vergewe: haar ma Vanessa en haar pa Felix; haar pleegma Melanie wat haar in hierdie wrede wêreld agtergelaat het. Asook haarself.

Laasgenoemde was moeilik. Al die selfskending, die selfdoodpogings. Maar toe sy dit oplaas regkry, het sy baie ligter gevoel.

Felicia het by die jeug in townships betrokke geraak. Sy wou die jonges leer oor selfwaarde, oor persoonlike higiëne, oor vergifnis en liefde.

Omdat Felicia nie veel van haar besoeke aan haar ma in Lard Yao onthou nie, veral nie haar gevoelens tydens daardie besoeke nie, is sy op 24 saam met ’n sendinguitreikgroep na Thailand.

“Sodoende het ek met alles rakende Lard Yao en die verlede vrede gemaak, ek het dit aanvaar. Ek het afsluiting gevind. Heling. Ek het myself toestemming gegee om met ’n ligte hart aan te beweeg, vry van al daardie negatiewe emosies.”

’n Instrument in God se hande

Felicia se droom was om jong mense met hul emosionele nood te help sodat hulle kan aanbeweeg na ’n stresvrye lewe. “Ek het ’n besluit geneem dat ek deur God geskape is vir hierdie soort werk. Dat ek waardig is om dit te doen, om ’n instrument in God se hande te wees.”

In 2019 het sy haar private praktyk, FG-wellness, van stapel gestuur. Hier volg sy ’n holistiese benadering met beradingsessies vir die jeug. Omdat haar onderneming ál sterker geword het, kan sy deesdae haar praktyk aanlyn bedryf vanuit haar huis buite Johannesburg.

“Sedertdien het ek nog nooit ’n dag in my lewe gewerk nie. Om motiveringspraatjies te lewer — waar ek my storie by skole en kerke met jong mense deel — en om my werk te doen, is my passie. My werk is my leefwyse, en ek is gek daaroor!

“Die mens wat ek vandag is, is die gevolg van my genesing. Genesing is ’n keuse, en ek moes daardie keuse maak.

“Psalm 147:3 het my op die pad na herstel bemoedig. Dit lui só: ‘Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde.’”

Felicia leef vandag soos ’n sorgvrye kind – opgewonde en vol verwagting. “Want,” sê sy, “die lewe moet voluit geniet word. Elke oomblik moet gekoester word.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.