Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Jou stukkendwees is jou grootste getuienis,’ sê ma ná seun in fratsongeluk sterf 

“Die pyn was onbeskryflik. Dit was asof honderde messteke my hart deurboor. Die dood van ’n kind is ’n seer wat jou stukkend breek, maar wat jou op ’n verrassende manier ook kan heelmaak. Want God se genade is groot!”

Só vertel Hestia Basson van Hartbeespoort oor haar geloofsreis nadat haar oudste seun, Ian Malan (25), op slag dood is ná ’n fratsongeluk by die werk. Daar was net gou, knap voor huis toe gaan-tyd, ’n laaste verstelling aan die remme – en toe val die 1,5-ton-vurkhyser bo-op hom. En ’n kosbare lewe, in die fleur van jong volwassenheid, word in ’n oogwink kortgeknip.

Soos legkaartstukke van genade

Lewensveranderend. Geloofsverdiepend.

Nadat Hestia die skoknuus, dat Ian gesterf het, moes hoor, het sy plat op die slaapkamermat gaan lê, weerloos. En gebid: “Here, ek kan nie langer hierdie pyn verduur nie. Vul my met u Heilige Gees”. Foto verskaf

Dis hoe Hestia haar heelwordproses beskryf. En wanneer sy terugkyk op die tyd voor en ná sy dood, staan sy verstom oor hoe die gebeure soos legkaartstukke van genade in mekaar pas. Elke stukkie het sy plek in God se groter geheel.

Die jaar was 2018. Die dag, 21 Junie. Dis ’n bekende datum, dis die kortste dag en langste nag van die jaar. Dis gepas simbolies, sou sy later beleef.

“Ek is van nature ’n vreugdevolle mens, maar twee dae voor die fratsongeluk het dit gevoel asof ’n donker wolk oor my vou,” onthou sy. “Totaal onverklaarbaar, want ek het soveel dankbaarheid in my hart gedra – oor ons gesin, oor die kinders, oor werk. Sommer oor alles.”

LEES OOK: ‘God alleen bring berusting en vrede,’ sê vrou ná albei haar dogters sterf

Daardie aand, op haar knieë langs die bed, het Hestia spesifiek vir haar twee seuns en hul toekoms ingetree. Eers vir die jongste, Scott, en toe vir sy ouboet.

“Here,” het sy gepleit, “mag Ian u beste en hoogste doelwit vir sy lewe bereik.” Sy het dit met haar hele wese gebid én geglo.

 Die volgende oggend was sy weer piekfyn.

Later daardie week het ’n onverklaarbare opgewondenheid in haar opgebou. “Dit was asof iets groots op die punt was om te gebeur. Ek het net nie geweet wát nie.”

Die oproep

Donderdag, vroegskemer, het die oproep gekom. Die besonderhede was vaag. Dit was ’n familielid wat gebel en gesê het: “Daar was ’n ongeluk. Ons weet nie presies wat gebeur het nie. Maar Ian … is weg. Hy het dit nie gemaak nie.”

Hestia se man Philip se hande het gebewe toe hy die foon neersit. Hy was stram van skok. “Bokkie …” het hy sag gesê. Versigtig. “Iets het gebeur. Ian … Hulle sê hy is … weg.”

Sy oë het die erns van die situasie verklap. Maar soms is dit makliker om jou blind te hou vir die waarheid.

Ian? Weg? Waarheen? 

“My eerste gewaarwording was hoop,” onthou Hestia. Sy het haar dadelik wysgemaak: Goed, Ian het seergekry, maar hy gaan oukei wees. Ons gaan hospitaal toe ry en hom nou-nou sien.

Dan tik die minute verby en die werklikheid daal neer.

Weg?

Sy het haarself hoor vra: “Bel terug, Philip. Maak seker.”

Toe kom die verskriklike bevestiging. Dis finaal. Dis klaar. Verby. Sy gaan haar oudste seun nooit weer sien nie.

Selfverwyt het ’n brandende pyl deur haar broosheid geskiet: Sy wou Ian vroeër daardie middag bel. Sy wou ’n paar woorde met hom wissel. Maar nou was dit te laat, vir altyd te laat.

‘Ek was gebreek’

“Ek het in ’n dwaal in die bed gaan klim. Gehoop om die volgende oggend wakker te word en te ontdek alles was net ’n aaklige droom.”

Maar toe word die “langste nag” nóg langer, en die nuwe dag folter haar opnuut met dieselfde pyn as die vorige. “Ek was gebreek,” vertel Hestia. “Leeg, en so verskriklik seer.”

Daar was net een uitweg: Neem die pyn en die leegheid na die Here toe. Familie en vriende probeer troos, maar dis net Hy wat regtig kan help. Dit het sy geweet, en sy het haar hart daarvoor oopgemaak.

Haar gebed was eenvoudig en opreg. ’n Smeking vanuit haar diepste wese. Sy het plat op die slaapkamermat gaan lê, weerloos. En gebid: “Here, ek kan nie langer hierdie pyn verduur nie. Vul my met u Heilige Gees”.

Telkens wanneer die seer haar aan flarde wou ruk, het sy die smeekgebed herhaal: “Asseblief, Here. Ek weet U kan.” En sy het dit geglo.

Teen die derde dag het die lig deur haar gebrokenheid gebreek. “Ek kon voel hoe die leemte met God se Gees gevul word. Tussen die trane deur kon ek vol vreugde uitroep: “Dankie, dankie, Jesus!”

’n Verandering van perspektief

Dis daar waar die verdieping in haar geloofsreis begin het: by ’n verandering van perspektief. Sy kon ’n blik kry op die lewe vanuit ’n hemelse, “groter-prentjie-denke”. Die besef dat God werklik in ons ergste erg en seerste seer teenwoordig is, dat Hy steeds in beheer is. Die wete dat sommige dinge wat met en in en om ons gebeur nie noodwendig toevallig is nie.

Hestia het grepe uit daardie verskriklike dag, en die gebeure rakende haar seun se sterwe, helderder begin onthou. Dit het groot vrede en berusting gebring.

Sy vertel: “Ek het teruggedink aan die skielike naarheid wat my daardie noodlottige middag, so teen huis toe gaan-tyd, oorval het.” Die naar gevoel het slegs ’n paar sekondes geduur. En toe, met ’n harde asem-uitblaas, was dit weg.

Sy het eers later besef dat die tyd wat die naarheid haar oorweldig het, ooreengestem het met die tyd van Ian se sterwe. “As ma het ek sy eerste asemteug beleef. En toe weer, met die naarheid daardie middag, die uitblaas van sy laaste asem. Ek kan nie anders nie as om dit as ’n voorreg te beskou.”

Nog ’n groot genade was dat sy, voor die verassing, kon gaan kyk hoe sy liggaam lyk. Weens die aard van die ongeluk was Hestia dae lank onder die indruk dat haar seun halfvergruis is. Sy is afgeraai om te gaan kyk. “Sy kop en bolyf is verbrysel,” is aan haar gesê.

Dié beeld het by haar gespook en haar aanhoudend laat vra: “Hoekom, Here? Was dit regtig nodig?”

En toe gebeur dit dat sy haar in die lykshuis bevind, heeltemal tevrede om vir oulaas bloot sy hand vas te hou, onder die kleed wat hom bedek het.

Maar met die instapslag, heel onverwags, pluk die begrafnisondernemer die kleed af.

Hestia het probeer wegkyk. Te laat.

Sy het gekyk, na haar asem gesnak en verbaas uitgeroep: “Haai, maar Ian is dan pragtig!”

Want daar het haar kind gelê, sy liggaam toe nie vergruis nie. En die uitdrukking op sy gesig was vredig, kalm. Die tekens van die ongeluk was skaars sigbaar.

Om hom só te kan onthou

Hestia vertel: “Dit was ’n geweldige verligting, en ’n groot geskenk, om op hierdie manier finaal afskeid te neem. Om hom só te kan onthou – heel, en nie vergruis nie.”

Daar was ook ander genade-oomblikke. Soos tydens die gedenkdiens. “Dit het meer na ’n feesviering as ’n begrafnis gevoel,” vertel sy. “Ons het gelag en gesels. Dit was nie slegs ’n viering van Ian se lewe op aarde nie, maar ook ’n viering van sy heengaan. Van die wete dat hy nou, ongeskonde, by die Here is. In sy ewige, hemelse tuiste. Daar waar ons eendag by hom gaan aansluit.”

Sy het die woorde van haar gebed twee dae voor sy dood onthou: “Mag Ian u beste en hoogste doelwit vir sy lewe bereik.”

Toe kom die besef: Ian het sowaar God se beste en hoogste doelwit vir sy lewe bereik – die ewige lewe.

Tydens Moedersdag herinner Hestia haar daaraan dat sy twee seuns het. “Een op aarde, en een daar Bo.” En dae soos sy verjaardag maak haar eerder opgewonde as ongelukkig, “want dan vier ek, in my hart, een van die mylpale in sy lewe”.

Hestia sê die grootste les wat sy geleer het, is dat ’n mens nie verpletter hoef te bly nie. “Die Here wil en kan ons heelmaak. En ons hoef nie daaroor skuldig te voel nie. Sommige mense sê dis nie reg teenoor die een wat gesterf het nie. Dat hoe langer jy treur, hoe beter dit vir die oorledene is.”

Dis glad nie waar nie, sê sy.  “Om weer te kan heel wees, om voluit te leef, is ’n geskenk. Gryp dit aan! My ervaring is dat jou stukkendwees juis jou grootste getuienis kan word.”

Sy moedig ouers, wat ’n kind verloor het, aan om nie te bly lê nie. “Die vyand verlekker hom daarin. Staan op, kyk op en sien die groter ewigheidprentjie raak.

“Die Here ken en verstaan ons seer en verlies. Maar Hy sien ook die ander kant van ons pyn raak. Daar waar lig, vrede en vreugde deurbreek om op ander te skyn.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.