Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Gerco van Deventer se vrou: ‘Ek is gelouter in hierdie ses jaar, maar ek het nader aan God gegroei’

In die ses jaar wat haar man Gerco van Deventer ’n gyselaar in Mali was, het Shereen voor vele uitdagings te staan gekom. Sy moes gaan werk soek. Sy moes veg om die dak oor hul kop te behou. Vir die eerste keer is haar geloof werklik beproef.    

“Niks kan jou regtig voorberei op die nuus dat jou man ontvoer en gevangene geneem is nie. Ná die agt jaar wat Gerco in Afganistan was, het ons juis gedink dat Libië ’n veiliger plek sou wees om in te werk. Maar toe die nuus oor Gerco se ontvoering insink, was dit eenvoudig verpletterend. Jou hele wêreld tuimel ineen.”

LEES OOK: ‘Ek het die ses jaar as gyselaar nodig gehad om my lewe reg te ruk,’ vertel Gerco van Deventer

So vertel Shereen van Deventer, wat reeds agt jaar in Swellendam woon.

“Die vraag ‘wat nou?’ het oor en oor in my kop gemaal.”

‘Is ek sterk genoeg?’

Shereen is vir baie lank, ter wille van Gerco se veiligheid, nie toegelaat om  enige inligting oor Gerco aan familielede en vriende oor te dra nie. “Dit was baie moeilik. Gelukkig was my ouers uit die staanspoor baie ondersteunend. Ek kon alles met hulle deel.”

In die eerste ses maande ná Gerco se ontvoering het Shereen sleg geslaap. Sy het nie geweet wat aangaan nie, wat Gerco alles moes deurmaak nie. Die vrees dat hulle hom mishandel, het haar wakker gehou. Sy het gebid vir sy veiligheid, asook dat die Vader sy geloof sal versterk.

Die emosionele uitdagings was die ergste, sê sy. “Kan ek goeie besluite neem?” het sy haar afgevra. “Is ek sterk genoeg?”

Geborg

Sy moes enkelma wees. En die finansiële uitdagings was groot. “Dit was nie maklik om een dag ’n huisvrou te wees en die volgende dag om den brode te begin werk nie. Die emosionele ondersteuning wat ek van Gerco gehad het, was eensklaps nie meer daar nie. Dit eis baie van ’n mens.

“Dit was boonop moeilik om die kinders te vertel wat met Gerco gebeur het. Hulle was toe nog klein. Maar ek moes eerlik wees met hulle. Ek moes hulle vertel wat met hul pa aan ’t gebeur is sónder om hul hele wêreld op sy kop te keer.

“Ek moes hulle verseker dat die Vader hom oppas, dat ons ons nie oor hom hoef te bekommer nie. Ek moes hul geloof probeer sterk hou, hulle vertel dat hul pa nog lief is vir hulle, al kan hulle nie met hom kontak maak nie.

“Ek moes sy beeld en die herinneringe aan hom probeer lewend hou. Ek het hulle toegelaat om oor hom te huil, ek het hulle gekoester. Ons het saam vir hom gebid.”

‘Ek moes planne maak om te oorleef’

“As ek nou op alles terugdink, was die finansiële las die swaarste. Daardie eerste drie jaar nadat Gerco weg is …

“Aanvanklik was ek vir hom kwaad omdat ek nie geweet het presies hoe ons geldsake gelyk het nie. Maar ek het ook besef dit help nie om kwaad te wees nie. Hy het immers nie beplan om my in dié situasie te laat beland nie.

“Ek moes uitvind hoe om die huis en die motors te betaal, ek moes planne maak om te oorleef. Ek het aan die Here se voete gesit en hieroor gehuil. Sonder ’n inkomste sou ek nie dié dinge kon bybring nie.”

Geborg

Die bank het die motors kom haal.

“Ek het soos ’n mislukking gevoel. Mettertyd het ek besef dis net aardse goed, dis nie werklik belangrik nie. Gebed was my enigste uitweg.

“Omdat my ouers by my gebly het, kon ek gelukkig hul voertuig gebruik.

“Om ons huis te behou moes ek met die bankbestuurder praat om my te help. Die Vader het die regte mense oor my pad gestuur. Hy het my gewys watter plan om te volg.”  

“Ek probeer tans om my geloof voluit uit te leef noudat Gerco veilig tuis is. Ek probeer seker maak ek val nie terug in allerlei ou gewoontes nie,” vertel Shereen. Foto verskaf

‘Sommige dae was ek sterk …’

Shereen kon administratiewe werk op ’n plaas buite Swellendam kry.

Toe was daar kos op die tafel. “Jy kan nie terugsit en wag dat die Vader iets in jou skoot laat val nie.

“Die ander voordeel van die werk was dat ek iets gehad het om my gedagtes mee besig te hou, iets anders om te doen as om oor die situasie te tob.” 

Geborg

In dié tyd het Shereen haar toenemend tot haar Vader gewend. Hy het haar wysheid gegee, haar rustig gemaak en die pad vir haar aangewys. “Sommige dae was ek sterk, ander dae wou ek net huil.”

By terugskoue, sê Shereen, het sy ook besef dat daar dinge in haar en Gerco se verhouding was waaraan hulle moes werk. Dat hulle, onder meer, nóg nader aan die Vader moes leef.

Sy het geweet dat haar situasie nie sy skuld was nie; dit was die gevolg van hul eie keuses en besluite. Daarom was sy in die swaar jare nooit kwaad vir God nie. Sy was eerder dankbaar oor hoe Hy haar in haar moeilike omstandighede gehelp het om dinge so goed te hanteer.

In die ses jaar wat Gerco gyselaar was, het Shereen sewe video’s van hom ontvang om te bewys dat hy lewe. “Om dié video’s te kyk was traumaties. Maar dit het my ook bemoedig.

“Daar was een waarin hy gehuil het, en ek het nie geweet wat om daarvan te dink nie. Dit het my wel ontstel. Ek kon ook sien hoeveel gewig hy verloor het.”

In 2020 het nog ’n terugslag Shereen getref toe haar pa uitgevind het hy het kanker. “Dit was bitter traumaties om te sien hoe my pa siek word en wegkwyn. Dit was boonop in die Covid-19-tyd en doktersafspake was moeilik bekombaar.

“Ek het probeer positief bly. My pa het by die dood omgedraai, en vandag is hy kankervry en gesond. Dit het my weer laat besef hoe goed die Vader vir ons is.”  

Om weer Gerco se stem te hoor

Toe Shereen hoor dat Gerco vrygelaat gaan word, was sy skepties. “Maar toe hy bel en ek sy stem hoor, was dit asof daar ’n berg van my skouers af rol. Ek kon vir die eerste keer asemhaal. Dankie, Here, hy is regtig uit die woestyn, en vry!

“Die ses jaar waartydens geen kommunikasie moontlik was nie het regtig soos 40 jaar gevoel.

“Ek het gehoop dat hy versterk in sy geloof sou terugkeer. Maar, het ek gewonder, is hy nie dalk mishandel nie? Het hy baie verander?

“Toe staan hy voor my. Ek het hom aanvanklik nie herken nie. Hy was baie maer. Hy het soos ’n vreemdeling gelyk.

“Maar my seun het na hom toe hardloop en hom vasgegryp, en toe het ek besef dit is regtig hy. Ek was so verlig! Ons almal het mekaar vasgedruk, ons het saam gehuil en saam die Vader gedank dat hy veilig is.

“Ons al twee het verander. Ek is gelouter. My geloof het in die ses jaar sterker geword. Gerco het net so gegroei in sy geloof. Ons weet nou ons is ‘daar’ vir mekaar.

“Ek probeer tans om my geloof voluit uit te leef noudat Gerco veilig tuis is. Ek probeer seker maak ek val nie terug in allerlei ou gewoontes nie.

“My gebed is dat ons sal bly groei in ons verhouding met die Vader. Dat Hy my en Gerco se verhouding steeds sterker sal maak.

“Want hy is die Pottebakker en ons die klei. Soms moet Hy jou eers afbreek, aan jou werk, en dan verder bou. Slegs op dié manier kan jou verhouding met Hom verdiep.”

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.