Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

God gee genesing ná ouers se selfdood: ‘Waar dood was, het Hy lewe gebring’

Nicole en Pieter Viljoen het albei die seer van ’n ouer wat selfdood gepleeg het met hulle saamgedra. Maar nog ’n donker oomblik, een waarin Nicole en Pieter byna gesterf het, het ’n keerpunt gebring. Vandag het dié paartjie genesing gevind. Hulle weet nou dat God groter as hul pyn is.

Van kleins af het Nicole Viljoen van Bloemfontein ’n besonderse aanvoeling vir die Here se stem gehad. “Ek het geweet ek is geroep,” sê dié 41-jarige vrou. “Toe ek ’n tiener was, was ek daarvan oortuig dat ek eendag ’n evangelis sou word. Die droom om ander na God se liefde te lei, het in my gebrand.”

Maar nog voor sy die drumpel na volwassenheid kon oorsteek, het haar kinderhart in duisend stukke gebreek: Sy was maar dertien toe haar pa homself om die lewe gebring het. “Daardie dag het alles inmekaargestort.”

Sy sê sy onthou die harde slag, en toe kom die besef wat gebeur het. Daar was ook dié woedende woorde wat onwillekeurig uit haar mond geborrel het: Ek sal U nooit weer dien nie!”

Nicole vertel: “Ek kon eenvoudig nie verstaan hoe God dit toegelaat het nie. Ek was kwaad. Ek het gevoel Hy het my vir die wolwe gegooi, dat Hy my nie beskerm het nie.”

LEES OOK: Vrou rig houtkruis op ná mislukte selfdood: ‘Jy hoef nie ook die doringkroon te dra nie’

Daarop het sy besluit om haar eie paadjie te stap. Sy het nooit aan God se bestaan getwyfel nie, maar sy het ’n muur om haar hart gebou en die seer alleen gedra.

Vreugde, en ’n verdere tragedie

Die jare wat hierop gevolg het, was moeilik. Daar was verhoudings wat nie uitgewerk het nie en vrees en onsekerheid wat haar gevolg het. “Ek het ál verder van my roeping af weggedwaal. Maar daar was altyd ’n sagte draad van geloof. ’n Hoopvolle fluistering wat nooit heeltemal stil geword het nie.”

In hierdie tyd het sy haar man ontmoet. Pieter (nou 42) is haar beste vriend en sielsgenoot. Hulle is getroud en het saam aan ’n lewe begin bou. Hulle het twee pragtige kinders wat hul liefde vir mekaar gekroon het.

“Ons het baie mooi oomblikke met mekaar gedeel,” vertel Nicole, “maar ons verhouding met die Here was nie diep nie. Ons was sulke ‘halfpad-Christene’. Soms het ons kerk toe gegaan, en soms nie. Ons het gereken ons kan self oor die weg kom.”

Toe tref nog ’n tragedie hulle: Pieter se ma het haarself om die lewe gebring. Dit het hom ’n wond toegedien wat hy diép gevoel het. Hy vertel: “Die lewe was toe net te veel vir my. Ek het pas ’n plaas gekoop, daar was finansiële druk, daar was familie-gevegte – en ons het ’n babatjie gehad. Ek het probeer om die pyn met dagga en drank te besweer.”

Die donkerste oomblik

Al hierdie worstelinge het, uiteraard, baie spanning in hul huwelik gebring. Nicole vertel: “Dit het gevoel asof ek my man aan die verloor was. Hy was vasgevang in sy pyn, en die druk was ondraaglik.”

Een nag het alles ’n krisispunt bereik. Pieter vertel: “Ek kan nie verduidelik wat in my kop plaasgevind het nie; ek weet net ons was in die kar en ek het besluit ek gaan dit alles beëindig.”

Nicole onthou daardie oomblikke: “Ek het skielik besef wat hy wou doen. Ek het net geskree: ‘Here, help ons!’ Gelukkig was die kinders nie by nie.”

Daar was ’n geweldige botsing, en toe gebeur die onverklaarbare: Hulle het ongedeerd uit die wrak geklim. Daar was nie ’n skrapie aan een van hulle nie. Daar was net stilte. Nicole sê: “Dit was asof ’n onsigbare hand ons vasgehou het. Reeds in daardie oomblikke het ek geweet dis net God se genade.

“Dit was egter uiters traumaties vir my. Ek kon nie verstaan hoe iemand wat vir my lief is so iets kon doen nie. Vir die eerste keer in my lewe was ek bang vir my man. Trouens, dit het gevoel asof elke man in my lewe my in die steek gelaat het.”

’n Keerpunt

Maar in dit alles was daar ook ’n keerpunt opgesluit: Pieter het besef hy kan nie langer so voortgaan nie en hy het by ’n rehabilitasiesentrum gaan aanmeld. Daar het hy sy lewe aan die Here oorgegee. Vandag getuig hy: “Ek glo vas ek het ’n gees van duisternis in my gehad, en dat God my vrygemaak het.”

Nicole het die herstelpad nie as maklik beleef nie. “Een van die eerste treë op dié pad was vergifnis,” vertel sy. “Ons moes die bitterheid en woede laat vaar, die drang om te wil terugslaan. Dit was ook nie ’n eenmalige besluit nie; dis ’n daaglikse keuse. Maar dit het die lig na ons huwelik gebring, en ons kon die nuwe reis aanpak.”

Saam het hulle ontdek hoe min werd hul eie krag is, en hoe groot God se genade is. “Hy het nie net ons lewe gespaar nie, Hy het ook ons hart herstel en ons roeping vernuwe.”

’n Herontdekte roeping

“Die Here se vrede het my siel gevul,” sê Nicole vandag. “Die droom wat ek sedert my kinderdae koester, naamlik om ander mense na Hom te lei, het weer in my begin leef. Daar was wel meer diepte en groter wysheid daarin.”

Nou leef sy daardie roeping uit. Sy is ’n sangeres wat God deur haar musiek loof, en sy getuig oral waar Hy ’n deur vir haar oopmaak. Deur The Prodigal Daughter Podcast bedien sy mense met stories en getuienisse. Vanaf hierdie platform word die kykers en luisteraars bemoedig, en só probeer sy om harte aan te raak en dit vir haar Vader se liefde oop te maak.

“Ek het geleer dat pyn dikwels die poort na nuwe lewe is,” vertel sy. “Die Here het my gebrokenheid gebruik om my ’n ‘andersoortige’ getuie te maak, een met ervaring, een wat Hom in die donkerste tyd denkbaar ontmoet het.”

’n God wat herstel

Die Viljoens beskou hul lewe as ’n getuienis van God se genade. Hul huwelik en hul gesin en hul bediening is alles tekens van ’n God wat herstel. “Ons gee aan Hom alleen die eer,” sê Pieter.

Nicole se gebed is dat hul storie ander harte sal aanraak. “Ek hoop dit herinner mense daaraan dat God altyd groter is as ons pyn, en dat sy genade genoeg is in elke seisoen van ons lewe.”

Sy onthou daardie dertienjarige kind wat geskree het: Ek sal U nooit weer dien nie!” Vandag kan sy sê dat God daardie woorde omgedraai het: Waar eensaamheid was, is nou ’n roeping. Waar vrees was, is nou geloof. En waar daar dood was, het Hy lewe gebring.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF