In 2014 het ek die vreeslikste maagpyne denkbaar gekry. Ek is dokter toe, en die oënskynlike oplossing was om my galblaas te verwyder. Ná die operasie het dinge ’n bietjie beter gegaan en ek het weer soos ’n mens begin voel.
Baie gou het die pyn egter teruggekeer en ek het gal opgebring. Ek is weer dokter toe.
Dit was ’n Vrydagoggend. Die chirurg was ietwat geïrriteerd en het gesê die pyn sal nog drie dae lank duur.
Daar was ’n moontlikheid om my op te neem, maar die dokter sou die naweek uitstedig wees. Daarop het hy besluit om my eers huis toe te stuur. Die pyn en braking sou binne drie dae opklaar, is ek verseker. Ek moes net vasbyt.
LEES OOK: ‘Ek was gereed om te gaan as dit sy wil was,’ vertel vrou ná haar hart 15 keer gaan staan
‘Ek kon nie meer nie’
Ek is huis toe, maar ek kon amper nie loop nie. Die uitmergelende pyn op my maag het my behoorlik laat dubbel vou. Die sweet het my afgeloop en ek het gehuil van die pyn.
Maar ek het sterk gebly, ek het geglo dat pyn relatief is. Die dokter het gesê ek moet uithou. Ek sou uithou. Ek was geskei en ’n enkelma, ek was ’n sterk vrou. Ek kan pyn verduur …
Daardie Sondagaand het ek op en af in my huis geloop. Ek het gehuil, gebid en gesmeek, maar die pyn wou nie skietgee nie. Maandagoggend sesuur het ek die dokter gebel. Ek kon nie meer nie, die pyn was te erg.
Nadat hy my ondersoek het, het hy vasgestel my blindederm het gebars, waarskynlik reeds die Vrydag of Saterdag.
Ek is vir die nood-teater voorberei. Ná die operasie moes ek vyf dae lank in die hospitaal bly om te herstel. My oudste dogter Stacy en haar man Michael het ingespring en my versorg. Hulle het elke dag hul hande op my gelê en vir my gebid. Hul gebede het my aan die lewe gehou.
’n Ses maande lange nagmerrie
Uiteindelik is ek ontslaan; ek sou verder by die huis moes herstel. Daar was ’n yslike wond op my maag. Stacy het my met die versorging van die wond gehelp.
Intussen het daar egter sweersel op die pleister gevorm. Ons het foto’s daarvan geneem om vir die saalsuster te wys, die een wat my vroeër gehelp het. Sy het laat weet ek moet dringend hospitaal toe kom.
Die dokter het my in isolasie geplaas en die steke net daar losgesny. Hy het op my maag gedruk – en toe stroom die etter en ander vuilgoed uit. Ek is terug teater toe. Die dokter het die wond skoongemaak, maar dié keer nie steke ingesit nie.
So het ’n ses maande lange nagmerrie met sepsis begin. Drie verskillende bakterieë, wat almal eintlik in ’n toiletbak hoort, het blykbaar in my maag begin groei. Ek was baie siek.
’n Siamese tweeling
Die dokter het ’n sogenaamde vakuummasjien op die wond geplaas wat dit skoon gehou het. Dit het my soos een van ’n Siamese tweeling laat voel; ek moes dié yslike masjien ronddra waar ek ook al wou gaan.
’n Verpleegkundige wat in wondsorg spesialiseer moes kort-kort ’n draai kom maak om die nodige te doen. Ná elke besoek het alles om my soos ’n moordtoneel gelyk.
Ek was te swak om enigiets te doen. Stacy moes my help stort. Sy het ook vir my gesorg, en vir my seun, wat nog op skool was. Sy en Michael het sonder ophou gebid.
‘Ek is gereed om te gaan …’
In een enkele maand is ek vyf keer teater toe en terug. Toe het die dokter opgegee. Daar was niks meer wat hy vir my kon doen nie. Die wond wou nie genees nie.
Ek het met God gepraat en vir Hom gesê ek is gereed om te gaan as ek moet. Hy moet asseblief net sorg dat daar na my jongste seun omgesien word, dat my kinders vertroos sal word.
Toe skenk Hy my ’n soort vrede en rustigheid wat geen mens of medikasie my ooit kon gee nie.
‘Die bad van genesing’
Ek is een Sondag met my Siamese tweeling en al kerk toe. Die pastoor het almal wat gebed nodig gehad het genooi om vorentoe te gaan. Die Here het my gewys dat die mat op die grond “die bad van genesing” is, en die pastoor die engel wat die water roer.
En dat ek moet opstaan, vorentoe gaan en in die bad klim.
Ek het dit toe gedoen en die pastoor het sy hande op my gelê en vir my gebid.
Toe ek na my sitplek terugkeer, het die Here my twee dinge gewys: Loftus Versfeld, en ’n enorme oor. Hy het vir my gesê ek moet gaan getuig hoe Hy my genees het. Soveel mense soos wat in Loftus Versfeld kan inpas, moes van die wonderwerk hoor.
Ná hierdie ervaring is ek weer teater toe; die wond was steeds oop. Ek het egter elke dag sterker geword, en dit sonder pille of enige ander medikasie. Slegs geloof.
Ná ses maande was die wond op my maag volkome genees. Ek was gesond.
Ek sal altyd getuig oor wat God vir my gedoen het. Ek was voorheen in die mediese bedryf en ek ken talle dokters. Almal stem met my saam dat dit bykans onmoontlik is dat ek dit oorleef het. Maar ek het.
Ons Vader is almagtig!
- Lindie Mariais (52) woon tans in Port Shepstone in KwaZulu-Natal. Sy doen administratiewe werk. Sy het drie kinders – Stacy (34), JJ (27) en Kevin (21). Haar nagmerriestryd het destyds in Pretoria afgespeel, waar sy toe gewoon het.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.