Goeie gesondheid is nie iets wat as vanselfsprekend aanvaar kan word nie; dis ’n geskenk uit God se hand.
As ’n graad R-opvoeder is ek reeds langer as agt jaar ’n “mamma-by-die-skool” vir baie kinders. Hoewel dit ’n groot voorreg is om met klein kindertjies te kan werk, was dit vir my en my man CJ ’n groot behoefte om ons eie kindjie te hê.
Dit het ongelukkig nie so maklik gebeur nie. Ons eerste swangerskap het vroeg geëindig, en daarna het ons jare lank na antwoorde gesoek.
Elke maand vol hoop
Elke vrou wat na ’n baba smag, kan vertel hoe seer dit is om maand ná maand te hoop op ’n positiewe swangerskaptoets. Daardie klompie dae wat jy moet wag voor ’n toets gedoen word, voel elke keer soos ’n ewigheid.
Jy is só vol hoop …
LEES OOK: ‘Ek moes eers ’n winter deurgaan om die lente in my lewe te waardeer’
Soms begin jy jou selfs verbeel dat jy swangerskapsimptome ervaar – maar dan is die toets weer negatief.
Nadat ek met endometriose gediagnoseer is, is ons na ’n fertiliteitspesialis verwys. Dié het gesê dat die kanse op swangerskap baie skraal is. Dat ek eers ’n operasie sou moes ondergaan om die endometriose te probeer verwyder.
Maar voor ons ’n operasieteater kon bespreek, moes ons eers ’n groot deposito betaal. In daardie stadium het ons nie soveel geld gehad nie.
Ons moed het in ons skoene gesak.
Ek sukkel om ons kinderloosheid te aanvaar
Een oggend lees ek Abraham en Sara se storie vir my klas. Weer het ek die Here gevra of Hy dan nie vir ons ook ’n kindjie wil gee nie.
Ek was eerlik met Hom. Ek het gesê dat ek nie kans sien vir die operasie nie. Dat ons in elk geval nie die geld daarvoor het nie. Ek het gevra dat Hy die beker van infertiliteit by ons moet laat verbygaan.
Ons is bevoorreg om deel van ’n spesiale groepie gelowiges te kan wees. Almal het geweet wat ek en CJ deurmaak en hulle het gereeld saam met ons gebid.
Een spesifieke aand het ek weer vir hulle gesê dat ek sukkel om ons kinderloosheid te aanvaar. En, het ek bygevoeg, soos ek God ken, wéét ek Hy wil niks minder as die beste vir ons hê nie.
Daarop het CJ sy hande op my gelê en my gesalf, terwyl die res van ons groep saam gebid het.
Ongeveer twee weke later het ek ’n positiewe uitslag gekry! Ons was in ekstase en kon nie wag vir ons volgende byeenkoms om ons nuus met hulle te kon deel nie. Natuurlik was almal saam met ons baie bly, en baie dankbaar.
Vashou aan God se belofte dat ek ’n mamma sal wees
Die swangerskap het wel allerhande uitdagings gebied. Ná die 31ste week moes ek in die bed bly. Ek is met plasenta previa gediagnoseer, wat beteken die plasenta is verkeerd ingeplant. Dit het bloeding veroorsaak.
Maar die bloeding ten spyt, het ons baba deurentyd mooi gegroei. Alles was verder reg.
Toe ek egter die derde keer weer begin bloei, is ek in Worcester se Medi-Clinic opgeneem. Daar moes ek lê totdat die baba op 37 weke met behulp van ’n keisersnee gebore is.
Net nadat die dokter ons klein Anmi uitgehaal het, het die plasenta erg begin bloei. Die dokter het verduidelik dat hy ongelukkig ’n noodhisterektomie moet uitvoer ten einde my lewe te red.
Dit was vir CJ baie erg om dit alles te hoor. Hy het later vertel hoe erg dit was dat hy niks vir my kon doen nie. Dat hy bloot kon aanhou bid.
Daar was oomblikke waarin ek gewonder het of ek dit sal oorleef, maar ek het vasgehou aan God se belofte dat ek ’n mamma sal wees. Dat ek saam met my man ons wonderwerkie sal grootmaak.
Die Here was só goed vir ons! Ek het herstel, en ons prys die Here elke dag vir sy goedheid en grootheid.
Ons dogtertjie is nou agt maande oud. Ouerskap is die grootste seën denkbaar.
Alhoewel ons tevrede is met die wete dat ons nie nog ’n baba sal kan hê nie, sal ons ook nie die Here se krag onderskat nie. As Hy my baarmoeder wil laat teruggroei, sal ek sowaar nie teëstribbel nie! Hy het immers reeds gewys dat die onmoontlike vir Hom moontlik is.
- Die Boshoffs is van Prince Alfred Hamlet, ’n dorpie naby Ceres.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.