Ek het voorheen vertel van my en my man Alex se ondervinding met in vitro-bevrugting (IVF). Ná vyf probeerslae is ons in 2022 geseën met klein Alexander – en ons prys ons Vader elke dag vir dié wonderwerk!
Vandat ons getroud is, wou ek en Alex baie graag ’n gesin hê. Ek het altyd in my hart gehoop ek sal twee kinders kan hê, want ek wil nie ’n alleenkind grootmaak nie. Ek glo ’n kind moet maatjies hê om mee te speel, om saam met hulle groot te word.
Ná Alexander se geboorte het ons weer probeer om eiers in te plant, maar dit was onsuksesvol. Ons moes toe weer oes. Van die 18 geoeste eiers is 13 bevrug, en net drie het oorleef. Een van dié was baie klein, maar dit het mettertyd gegroei sodat ons dit kon vries. Die ander twee was gelukkig gesond en is toe ingeplant.
Ten spyte van alles – my ouderdom, die gehalte van die eiers, die feit dat dit my eerste vars oes in vier jaar was – het dit sommer met die eerste probeerslag gewerk. Teen die einde van November 2023 het die dokters bevestig dat ek weer swanger is. Dr Tume het vir my gesê: “God het vir jou geglimlag en jou gekies, want dis ’n wonderwerk.”
En iewers in daardie Desember was daar nóg ’n verrassing: twéé hartkloppies. ’n Dubbele seën!
Ek het baie meer gemoedsrus en kalmte in my hart as wat dit met die eerste swangerskap die geval was. God is alomteenwoordig en Hy is so goed vir my. Ek is nie siek of naar nie. Ek is wel twee keer groter as wat ek was toe ek Alexander verwag het, maar ek is vol vreugde!
Ek het geleer ’n mens moet God in alles sien en nooit jou getuienis oor sy wonderwerke verswyg nie. Ná my vorige getuienis het ’n baie spesiale vrou my gekontak, en ek kon vir haar ’n lig wees. Daar was ook nie vir haar hoop op swangerskap nie en haar hart was stukkend oor inplantings wat nie gewerk het nie. Met gebed, hoop en vertroue kon ons mekaar bemoedig en aan die Here opdra. En nou is sy swanger met ’n babadogtertjie.
Ek is dankbaar ek kon God loof oor die wonderwerke wat Hy weer en weer in ons lewe doen. My les was om nooit hoop te verloor nie. Om vas te hou aan God, want Hy hou sy beloftes.
’n Mens hoef nie baie geld te verdien nie, maar as jy ’n ware vriendin in Christus het, is jy skatryk. Daar is ’n besonderse groep mense wat saam met ons bid. Sonder hul gebede sou die pad regtig bitter swaar gewees het.
Ek weet daar is krag in gebed. En ek weet waar twee of meer in sy Naam byeen is, is Hy ook (Matt 18:20).
Ek het voorheen ook vertel oor die simboliek van die syfer vyf in my lewe. Ek onthou dat ek die oggend voor die vyfde IVF – wat ons met Alexander geseën het – om 5:55 gebid het dat die Here my moet vashou. Ek het dié syfer oral raakgesien; dit het vir ons ’n simbool van God se goedheid geword.
Toe ek verlede jaar “’n Koppie tee met God”-oggend hou, het vyf vriendinne met vyf rose by my opgedaag. Hulle het vyf pare hande in gebed op my gelê.
Vanjaar is ek en Alex ook vyf jaar getroud.
Nou, saam met Alexander en sy tweelingboeties wat op pad is, sal ons vyf in die huis wees.
My hart is propvol. Die tweeling se verwagte aankoms is 6 Augustus, maar weens die risiko wil ons dokter eerder ’n keisersnee doen. Ons hou ons dus gereed om ons seuntjies so teen middel-Julie te ontmoet. En ons kan nie wag nie!
- Adri McDonald (38) en haar man Alex woon in Windhoek, Namibië. Hulle werk saam by Namagri, hul eie landbou-onderneming. Hul seun Alexander is nou byna twee jaar oud en die gesin word in Julie twee seuns ryker.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.