Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

God is goed. Punt.

Dis ’n nuwe jaar, maar in die dae wat kom, sal baie mense steeds “2023” sê, en dink en skryf. Aanpassings kom nie vanself nie; dit vra ’n wilsbesluit …

Baie mense maak ook in dié dae gereed om terug te keer werk toe en skool toe. Dit het tyd geword om ons nuwejaarsvoornemens prakties uit te voer. Dit het natuurlik ook tot gevolg dat ons soms terugdink aan die jaar wat verby is.

LEES MEER: Jesus dans saam met jou

Wat geïmpliseer word

En net hier gebeur iets wat my nogal pla. Om die waarheid te sê, dit kriewel behoorlik in my wanneer ek hoor hoe mense sê: “Die Here was laas jaar goed vir ons.”

Ook ek, as ek eerlik moet wees, het dit al gesê. Maar nadat ek ’n bietjie daaroor nagedink het, het ek besef dis nie eintlik wat gesê word wat my pla nie, dis wat geïmpliseer word. Dit klink so asof die Here, wat laas jaar vir ons goed was, dalk in vorige jare nie so was nie. Of in die jare wat voorlê dalk ook nie so goed sal wees nie, in elk geval nie vir ons nie.

Die werklikheid is natuurlik dat God goed is. Punt. Dit is hoe Hy is. Hy is altyd goed. Hy sit nie eenkant en beplan slegte dinge nie. Ja, daar ís baie slegte en seer dinge in ons wêreld, maar dis nie God se handewerk nie. Hy voel ons pyn, Hy ly saam met ons. Sy medelye is trouens ’n seker teken dat Hy persoonlik by ons lewe betrokke is. Daarom neem Hy dikwels die slegte dinge wat met ons gebeur in sy diens, Hy keer dit om, Hy laat dit alles uiteindelik ten goede meewerk (Rom 8:28). 

Hoor hoe juig die Psalmdigter, sonder ophou: “Loof die Here, want Hy is goed. Aan sy liefde is daar geen einde nie” (Ps 136).

Tweede implikasie

Die tweede moontlike implikasie van “die Here was laas jaar goed vir ons” is dat daar mense is vir wie die Here nié goed was nie. En as ons om ons kyk, sien ons hoeveel swaarkrymense daar inderdaad in ons wêreld is, mense vir wie 2023 ’n besonder moeilike jaar was. Daar is dié wat treur, wat ly, wat finansieel bitter swaar kry, wat werkloos is. Kyk anderkant die grense en sien die oorloë, die vernietiging, die onskuldige slagoffers.  

Beteken dit dat God willekeurig besluit dat dit met sommige mense goed sal gaan en met ander nie? 

Hieroor moet ons baie versigtig praat … Ons weet regtig te min om ons hieroor slim te hou.

Die wêreld is stukkend en ons moet uiters sensitief wees vir al die seerkrymense om ons. Ons word ook geroep om in God se goedheid te leef en dit uit te leef. Om te genees, te voed, te sorg en te versorg. Om te verwelkom, om wonde te verbind en pyn te verlig. Om sy hande en voete te wees en sy goedheid sigbaar te maak.

Derde implikasie

Daar is ook ’n moontlike derde implikasie van ons woorde dat God laas jaar goed was vir ons: dat ons iets gedoen het om dit te verdien. Niks kan verder van die waarheid af wees as dit nie; alles wat ons het, is genade. As ons wil glo dat ons sy goedheid verdien, moet ons natuurlik ook glo dat ons swaarkry sy straf is vir ons slegte dade.

En hoe vertrou ’n mens so ’n God? Hoe voel jy veilig by Hom?

God is tog nie lief vir jou omdat jý goed is nie, maar omdat Hý goed is. Hy kan immers nie anders as om sy beeld in jou lief te hê nie. Niks wat jy doen of aanvang, verander aan sy liefde vir jou nie. Aanvaar dit en wees dankbaar daaroor.

Dalk het die tyd aangebreek, hier aan die begin van 2024, om by die werklikheid aan te pas. Om anders te begin dink en anders te begin praat. Weet dit en sê dit: God is goed. God is vir ons, wie kan teen ons wees?

Weer rus ons in die Psalmdigter se jubellied: “Prys die Here, want die Here is goed, sing tot eer van sy lieflike Naam” (Ps 135:3). 

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF