In November 2022 het ek een aand skielik sleg begin voel en my bloeddruk het aanhou styg. Ná ’n besoek aan die hospitaal se ongevalle-afdeling was dit egter beter en ek het my nie verder daaroor bekommer nie. Dit was amper die einde van die jaar en omdat ek onder druk was met my werk, het ek dit aan te veel spanning toegeskryf.
In Februarie 2023 het ek op pad terug vanaf Pretoria skielik baie sleg begin voel. Ek kon net aanvoel dat iets verkeerd is en het vir my man gevra om my dokter toe te neem. Ná bloedtoetse en ’n EKG kon die dokter geen probleem vind nie en het dit gediagnoseer as ’n angsaanval. Dit was die begin van drie maande waarin ek elke dag verskeie kere “angsaanvalle” gekry het. Ek het ook snags wakker geword wanneer ek gevoel het dat dit besig is om te gebeur.
Die simptome wat ek ervaar het, was drukking op my bors waartydens dit gevoel het asof ek nie kon asem kry nie, lighoofdigheid, pyn in my nek en ’n gevoel in my regterarm asof daar geen bloedtoevoer was nie. Wanneer dit gebeur het, was ek in staat tot niks nie en het ek net met alle mag probeer asem kry.
LEES MEER: ‘Ek was gereed om te gaan as dit sy wil was,’ vertel vrou ná haar hart 15 keer gaan staan
‘Ek was selfs bang om saans te gaan slaap’
My lewe het handomkeer verander, aangesien ek naderhand nie meer kon werk nie en heeldag moeg gevoel het. My dokter en sielkundige het my aangeraai om enige moontlike stressors uit my lewe te verwyder. Selfs wanneer ek na my kombuis toe gestap het, het dit soms so ’n aanval veroorsaak. Ek het bang geword om saans te gaan slaap. Jesaja 41:10 was vir my ’n groot troos: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red ek jou.”
Gedurende hierdie episodes waar ek nie geweet het wat my makeer nie, het ek gebid en met God gepraat en vasgehou aan Psalm 73:25-26: “Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie. Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd.”
Saans het ek musiek geluister in ’n poging om my te herinner dat God by my in hierdie storm is. Gedurende die aanvalle het ek my in gebed beroep op die naam van Jesus.
Gedurende 2021 en 2022 het ek ’n geloofspad saam met ’n gelowige vriendin begin stap en in ’n stadium vir haar vertel hoe ek bewus geword het van die krag van Jesus se Naam. Sy het toe vir my gesê dat Vader my met ’n rede daardie bewuswording gegee het. Min het ek toe besef wat die rede sou wees.
In my daaglikse stryd met die “angsaanvalle”, het iets vir my gesê dat ek weer die dokter moes besoek. Hierdie keer is ek na ’n kardioloog verwys wat dadelik vasgestel het dat die bloedtoevoer na my hart te min is. Ek was dankbaar dat die onsekerheid tot ’n einde was, maar ’n prosedure moes nog uitgevoer word. Psalm 18:2-3 was my anker in hierdie tyd: “Ek het U baie lief, Here, my Sterkte. Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting.” Ek het dit die heeltyd voor die prosedure in my gedagtes herhaal. Ek het ook Jakobus 5:13-16 in gebed verklaar – dat God die gelowige gebed sal hoor: “As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid …” Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking. Ek het onmiddellik ná my angiogram verligting ervaar, en sedertdien het ek nog nooit weer so ’n aanval beleef nie.
Dankbaar vir ’n tweede kans
Ek lewer hierdie getuienis sodat God al die eer kan kry, want Hy het my ’n tweede kans op die lewe gegee. Vir drie maande lank het ek elke dag en nag verskeie van hierdie aanvalle ervaar. Omdat die dokters gedink het dat dit angsaanvalle is, het ek probeer om ligte oefeninge soos stap en fietsry te doen. Soms het die aanvalle ook tydens hierdie oefeninge gebeur. Dit het my diep bekommer.
Die kardioloog, wat self ’n gelowige is, het my egter verseker dat ek nooit in daardie tyd ’n hartaanval gehad het nie, maar dat elkeen ’n waarskuwing was. Hy het vir my gesê dat ek God elke dag moet dank. Die kliniese tegnoloog wat saam met hom werk, het my ook verseker dat enige van daardie aanvalle moontlik fataal kon wees.
Op die TV-program, Hannes aan huis, is daar onlangs ’n gesprek met Hardus Sevenster van Groot FM, Radio Tygerberg en Die Groot Ontbyt gevoer. Hardus het getuig hoe God sy lewe verander het, en van die wonderwerke in sy lewe, onder meer hoe hy uit die see gered is. Hy het sy boot ongedeerd teruggevind nadat hy God vir ’n teken gevra het, hoe hy gered is ná ’n hartaanval, en nog vele meer. Ek het soveel aanklank gevind by die volgende stellings wat hy gemaak het (in my eie woorde):
- Ek weet die Here se genade in my lewe is ’n werklikheid.
- Ek sien God se hand in dit wat met my gebeur.
- Ek vertrou op God.
- Ek vertrou in die krag van gebed.
Sy storie het my geïnspireer en ek het gevoel dat my storie moontlik vir ander kan beteken wat Hardus se storie vir my beteken het. Dit is belangrik om vir God te getuig. God is ’n werklikheid en Hy doen steeds wonderwerke. Ek gee Hom al die eer!
- Marita Nieman (53) was tot in April vanjaar ’n dosent by ’n universiteit in die Vaaldriehoek, terwyl haar man Riaan (59) ’n arbeidspesialis is. Hulle het ’n tweeling, René en Christian, wat vanjaar matriek skryf. Die gesin is lidmate by die NG Kerk, Drie Riviere-Oos. Marita se gunstelingaktiwiteit is bergfiets ry, wat sy, benewens stap, graag saam met Riaan beoefen.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.