Môre gaan ons met vakansie. Die kinders is báie opgewonde oor hul kuier by Oupa en Ouma. En ek lê in my bed en dink aan die lang pad wat voorlê, en wonder of ek alles ingepak het.
Ek kan nie anders as om ook daaraan te dink dat ek die afgelope week dikwels oor noodlottige motorongelukke gelees het nie. Al dié verhale het diep in my hart kom lê. By elkeen was daar ’n pragtige foto van ’n mens wat glimlag. ’n Slagoffer. Iemand se kind. Iemand se ouer. Iemand se sielsgenoot.
Sulke tragiese berigte bevat soms ’n paragraaf of twee oor die ellendige situasie op ons land se paaie: die slaggate, die magdom lorries op die pad, die aantal onpadwaardige voertuie.
En môre moet ons dié paaie aandurf. Ek voel ’n angstigheid in my opborrel, wat dit moeilik maak om aan die slaap te raak. Ná ’n gestoei in my gedagtes bid ek myself aan die slaap. Toe ek wakker word, voel ek behoorlik kruppel, soos Jakob.
Die gawe van vrede
Maar toe onthou ek Jesus se woorde: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie” (Joh 14:27).
Jesus het goed geweet hoe maklik dit gebeur dat ons vrees toelaat om in ons lewe in te kruip. Hy het alte goed geweet dat ons sy vrede sal nodig hê. Menslike vrede kan nie aan ons behoeftes voorsien nie. Ons bron van vrede moet bonatuurlik wees, dieper en groter as wat ons ooit in ons menswees sal kan verstaan.
LEES OOK: Met Jesus beklee
Die Amerikaanse prediker Harry Emerson Fosdick het op ’n keer gesê: “Niemand kan innerlike vrede kry deur dit te probeer najaag nie, deur dit uit eie krag te probeer verkry nie. Vrede is ’n bron van krag wat ons toevou te midde van ons daaglikse behoeftes. Vrede is om bewus te word van fonteine wat te diep is vir aardse droogtes om by te kom. Vrede is nie die gawe van vrywillige stryd nie, maar van geestelike vrygewigheid. Vrede is ’n bewustheid van reserwes buite onsself, sodat ons krag nie soseer ín ons nie, maar déúr ons sigbaar word.”
Ons ry deur die dorre Karoo, en ek dink aan hierdie fontein van vrede wat geen aardse droogte kan bykom nie. En die waters van vrede spoel oor my. Ja, Hy bring my by water waar daar vrede is.
Wat ’n wonderlike gawe is vrede nie! Ek het niks gedoen om dit te verdien nie. Die toestand van die paaie waarlangs ons reis het nie verander nie, en die pad het nie korter geword nie. Maar ek is daarvan bewus dat vrede ’n gawe van die Heilige Gees in my is; dis nie ’n funksie van my omstandighede nie.
Dis die vreemde ding van vrede: Jy vind dit nie deur daaroor te tob nie, maar deur aan God en sy groot genade te dink.
Ons kom veilig by ons bestemming aan, en my hart is vol dankbaarheid. Wanneer ons later die terugreis aanpak, sal ek weer Viktor Hugo se woorde lees: “Hou moed tydens die groot smarte van die lewe en bly geduldig met die kleintjies. En wanneer jy met moeite jou dagtaak afgehandel het, gaan slaap in vrede. God is wakker.”
God is altyd wakker. Mag dié woorde jou bybly en troos.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.