DEUR SIMONE GAUCHE
Ek was die afgelope naweek by ’n damesontbyt. Die voorgeskrewe drag by dié geleentheid was semi-formeel. Soos dit enige vrou betaam, het ek lank voor my klerekas gestaan. En gestaar. En ek het gedink wat vroue deur die eeue heen gedink het: “Ek het níks om aan te trek nie!”
Iewers loer ek op my foon. Daar is etlike boodskappe. Almal lui min of meer só: “Wat trek jy aan?”
LEES OOK: Jou krake maak jou mooi
Nadat ek heelwat tyd daaraan afgestaan het om hangers van die een kant na die ander te skuif, so asof ek deur ’n tydskrif blaai, het ek uiteindelik ’n klompie moontlikhede geïdentifiseer. Ek lê die uitverkore stukke op die bed neer. Pas die een ná die ander aan. Dis asof niks regtig wil werk nie …
Ek vermoed waar die probleem lê: Dis in die middel van die winter, en die seisoen het reeds sy tol geëis. Die winter-hibernasie en die gepaardgaande trooskos het tot gevolg dat alles eenvoudig te styf voel.
Dadelik berou ek ál die voorafgaande oggende toe ek my wekker doodgedruk het. Toe ek gekies het om te bly lê en na die reën te luister. Toe ek regtig nie lus was om te gaan oefen nie. En ek dink, skuldig, aan die sêding dat somerlywe in die winter geskep word.
Daar is nou egter niks daaraan te doen nie, en ek kies die beste uit wat ek het.
By die funksie gebeur die onvermydelike: Die vroue kýk na mekaar. Hulle komplimenteer mekaar se onderskeie uitrustings. Hulle bespreek modegiere en deel wenke uit.
Wat sê die Woord?
Daardie Sondag in die kerk hoor ek: “Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie” (Rom 13:14).
Ek dink oor wat dit beteken om met Jesus beklee te wees.
En ek dink weer aan die vrouebyeenkoms. Wat jy aantrek, is vir almal sigbaar. Jy hoef niemand te vertel wat jy aangetrek het nie; almal kan dit sien. Dis trouens een van die eerste dinge wat iemand anders oplet.
Dis ook hoe dit is om met Christus beklee te wees. Dis oop en bloot. Almal kan dit sien.
Wat jy aantrek, verklap ook iets van wie jy is en waarvan jy hou. Elke vrou het ’n persoonlike styl. Dalk duur dit vir sommige vroue langer as ander om hul unieke styl te ontdek, maar uiteindelik gebeur dit tog. Ek dink aan die kere toe ek gereken het ’n vriendin lyk wonderlik – maar terselfdertyd besef het ek sal nooit dieselfde uitrusting kan dra nie. Dis nie my styl nie, dit pas nie by my persoonlikheid nie.
Unieke jy
En dit is die wonderlike daarvan om met Christus beklee te wees: Hy gee jou ruimte om jou op ’n eie, unieke manier uit te druk.
’n Mens moet elke dag aantrek. Dis ’n gegewe. Ons staan op, eet ontbyt, dalk bad of stort ons – maar iewers, voordat ons by die deur uitgaan, trek ons aan. Dalk werk dit ook so as ons ons met Jesus beklee. Elke dag bring ’n nuwe geleentheid om dit te doen. Dalk het jy dit gister nie so goed reggekry nie; vandag kry jy weer ’n kans.
Jou klere sit teenaan jou lyf. Dit hou jou as ’t ware vas. Dit beskut jou teen wind en weer. Met twee peuters in die huis moet ek nie net myself elke dag aantrek nie, maar ek en my man moet ook sorg dat daardie tweetjies aangetrek kom. Ons kyk na die weervoorspelling en probeer verseker dat die klere wat ons vir hulle aantrek hulle sal beskerm.
Om jou met Christus te beklee, bied jou ook beskerming teen wat die dag mag inhou. Die lewe se onweer sal jou nie verbygaan nie, maar Christus beskerm jou teen die uitwerking daarvan.
Die regte klere
Jy kies wat jy aantrek. Ek dink aan Adam en Eva wat hulle ná die sondeval agter vyeblare verskans het. Dit was nooit God se bedoeling dat ons só moes wegkruip nie. Daarom het Jesus gekom sodat ons Hóm kan aantrek. Hy hang nakend aan die kruis om sodoende vir ons iets te gee om aan te trek. En, nee, ek hoef niks te doen om my klere te verdien nie; Jesus het reeds daarvoor betaal. Hoor wat skryf Paulus: “… want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee” (Gal 3:27).
En ons hoef nie besorg te wees oor wat ons gaan aantrek nie. Jesus het self gesê: “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie?” (Matt 6:25).
Vanoggend staan ek weer voor my klerekas en kyk – maar hierdie keer met heel ander oë. En ek herinner my daaraan om my vandag, soos gister, met Jesus Christus te beklee.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.