Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘God stuur engel om my van selfdood te red’

’n Paar jaar gelede het ek in Upper Woodstock in Kaapstad gewoon. Verskeie dinge het oor ’n tyd in my lewe skeefgeloop en meegebring dat my moed in my skoene was. Die lewe se opdraand het sy tol stadig begin eis en ek het moedverloor se vlakte bereik.

Die sleg van die lewe wou my soos ’n modderwal verswelg, asof ’n doodskaduwee soos ’n donker wolk oor my kop gehang het. Wanneer hoop in die niet verdwyn en die dag van môre nie meer uitkoms bied nie, maak die lewe net nie sin nie, want sonder hoop kan daar nie lewe wees nie.

Daar was nie baie Christene waar ek gewoon het nie. Die meeste mense daar was Moslems. Toe ek een dag huis toe stap, het ek op pad besluit om met ’n Moslemvriendin te gaan gesels. Ek moes met iemand praat, maar het by haar huis voor dooiemansdeur te staan gekom.

LEES OOK: ‘Aan dié wat eensaam agterbly ná selfdood: Jy is nie alleen nie’

Daar en dan, sonder enige twyfel in my hart, besluit ek om my lewe te neem. Ek was sonder hoop, gebroke en platgeslaan deur die lewe – nie eens my diere, vir wie ek my lewe op ’n altaar sou offer, kon my wilsbesluit stop nie. Ek het geen selfbejammering of vrees ervaar nie, net ’n doodse kalmte terwyl ek huis toe stap.

Net voordat ek my stoephekkie oopmaak, hoor ek iemand na my roep. Verbaas kyk ek na waar die stem vandaan kom.

Vyftig tree verder sien ek ’n vrou wat met swaaiende arms aangestap kom. “Brenda, Brenda! Wag daar vir my!”

Ek het die vrou – kom ons noem haar Angel – ’n ruk vantevore terloops ontmoet. Ek moes by Kaapstad se kleinsakekamer ’n eis gaan instel teen iemand wat my te na gekom het, en beland toe in die wagkamer langs haar. Sy was besig om dokumente deur te blaai en het my vriendelik gegroet. Die ys was gebreek en ek was onmiddellik tuis in haar geselskap. Ek maak my hart oop: “Waarom is daar altyd mense wat uit hul pad uit gaan om jou lewe suiwer hel te maak? Wat bereik hulle tog daardeur?”

Vol deernis kyk sy na my en sê: “Ek ken jou nie, maar ek weet die Vader het jou lief. Kom volgende Sondag na een van ons kerkdienste. Ek sal jou op Elsiesrivierstasie ontmoet.”

Ons ontmoeting was nie om dowe neute nie – die Vader het dit so bewerkstellig, dit glo ek. Angel was ’n diep gelowige. Sy het telkemale gebid om my te verlos uit die hel van depressie.

Op daardie dag toe ek besluit het om selfmoord te pleeg, het Angel na my gehardloop. Uitasem sê sy: “Brenda, ek is gestuur. ’n Engel het aan my verskyn en my gewaarsku dat jy jou lewe gaan neem. Ek is hier om vir jou te bid en die gees van selfmoord te bestraf. Sal ons binnegaan?”

So het sy my verskeie kere aan huis besoek. Terwyl ons tee drink, het ons oor die hartseer en swaarkry van die lewe gepraat, maar ook oor Jahwe se genade, vergifnis en liefde. Met haar besoeke het sy my moed ingepraat, vir my gebid, my met raad bedien en belowe dat die lig weer vir my sal skyn.

Ek word somtyds nog swartgallig as die lewe ’n bietjie druk, want dis nie maklik as jy op jou eie is nie. Die lewe met sy opdraande kan jou tot die uiterste beproef, maar ek dank die Vader dat ek staande bly en nog nie weer selfmoordneigings ervaar het nie.

Angel was daar vir my, en gebed het my gedra.

  • Brenda van der Westhuizen woon op ’n kleinhoewe buite Calitzdorp in die Klein-Karoo waar sy met olywe boer en gereeld diere – veral bergskilpaaie – red. Sy skryf ook graag en het twee boeke op haar kerfstok. Haar jongste boek, Die lewe – ’n reis, het vanjaar verskyn.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF