Verlede jaar, 2023, was vir seker die moeilikste jaar van my lewe.
Eerstens: My seun se werk het hom na Kaapstad verplaas. Ons woon in Brakpan en dit was vir my iets verskrikliks dat ek nie meer deel van my kleinkinders se daaglikse lewe kon wees nie.
Tweedens: Die situasie by my werk was onhoudbaar, en ek het geen ander keuse gehad nie as om te bedank.
Voeg hierby dat ’n vriend en geestelike mentor gesterf het.
Vanweë die swak ekonomie het ons ses van ons groot kliënte verloor. Ons kon sien hoe ons reserwes soos sand deur ons vingers glip – en ons kon niks daaraan doen nie.
LEES OOK: Motor slinger vrou teen winkelruit: ‘God se hand was op my’
En toe word ek op 20 November 2023 met pankreaskanker gediagnoseer.
Die Here voorsien …
Deur dit alles heen was ons Vader getrou. Ja, 2023 was ook ’n jaar vol genade. Kyk dan net hoe lyk sy voorsienigheid:
Ons was in Mei verlede jaar gelukkig genoeg om vliegtuigkaartjies teen gróót afslag te kon bespreek. En daardie September kon ons by ons Kaapse kinders gaan kuier.
Intussen, in Juliemaand, het ons noodgedwonge van mediese fonds verander; ons kon net nie meer die premies bekostig nie. Die makelaar het ’n ander fonds voorgestel, wat ook gapingdekking ingesluit het. Dit was iets wat by die vorige fonds ontbreek het.
Die eerste premie was op 1 Augustus betaalbaar – en teen die einde van daardie maand het ek siek geword. Die dokters en spesialiste kon nie vasstel waar die fout lê nie.
… en sy genade is vir my genoeg
Op 1 September het ek en my man Jan Kaap toe gevlieg vir ons lang verwagte kuier by die kinders. Maar op 3 September het ek weer siek geword.
Die dokter by die hospitaal se ongevalle-afdeling was jonk, maar baie bekwaam. Hy het gesê hy voel nie gerus nie en dat daar bloedmonsters geneem moet word. Daarna het hy ’n CT-skandering aanbeveel, want die uitslae van die bloedtoetse het hom gepla.
Sommer gou het hy langs my bed kom hurk, my hand in syne geneem en gesê: “Mevrou, ek is jammer. Ons gaan jou opneem vir verdere toetse. Daar is kolle op jou pankreas en jou maag.”
Die internis het ’n MRI-skandering aangevra. Ek het nie gedink dis iets ernstigs nie en het gevra dat hy my ontslaan en die uitslae aan my huisdokter stuur.
Kort daarna het die internis se ontvangsdame my gebel en gesê dat die verslag wel aan die huisdokter gestuur is, en dat ek so gou moontlik by hom moes uitkom.
Die e-pos met die verslag is aan my ook gestuur, en ek het dit gelees. Ek kon egter nie veel daarvan verstaan nie. Toe gaan google ek die woorde en kodes – en dit tref my: pankreaskanker.
Ek het my boeglam geskrik. Daar in die slaapkamer het ek, foon in die hand, op die bed gaan sit en net biddend gesê: “Here?”
Die Heilige Gees het geantwoord: “My genade is vir jou genoeg. Ek sal jou krag gee wanneer jy swak is.”
Groot terugslae
Toe ek en Jan kort daarna by my huisdokter instap, het hy reeds ‘n afspraak by die gerekende professor José Ramos van die Donald Gordon-mediese eenheid gemaak.
Professor Ramos wou sommer dadelik opereer. Maar 21 Oktober sou my dogter se troudag wees en ek wou niks daarvan vir haar bederf nie. Ek het gevra dat ons met die operasie wag tot sy van haar wittebrood af terugkeer.
Van vroeg November af het die een mediese prosedure ná die ander gevolg. Daar was onder meer ’n endoskopie om seker te maak dat my ingewande skoon is. Daarna het die groot operasie gevolg, waartydens twee derdes van my pankreas en milt verwyder is.
Dit was baie traumaties. Ek is my lewe lank ’n voorstander van orgaanskenking, en bloot die gedagte dat ek nou van my organe verloor was skrikwekkend. Dit was ook bitter seer.
Vyf dae ná die operasie het twee erge terugslae gevolg: My longe het platgeval en my pankreas het begin lek. Ek moes dadelik na die radiologie-afdeling sodat ’n nuwe dreineringsbuis ingeplant kon word. Daar moes dringend vog uit my longe verwyder word.
Op 20 November is bevestig dat die gewas kwaadaardig is.
In die weke hierna is ek gereeld ondersoek om vas te stel of my pankreas steeds lek. Daar moes ook ’n stent in die pankreas kom. Op Tweede Kersdag moes die dreineringsbuis verwyder word, en teen einde Januarie die stent.
‘Laat u wil geskied’
Die hersteltyd verloop stadiger as wat ek gehoop het. Pas, in Meimaand, is ek boonop met diabetes gediagnoseer. Die stukkie van my pankreas wat oorgebly het, vervaardig nie genoeg insulien nie.
Hoekom? het ek vir ons Vader gevra.
En die Heilige Gees het my geantwoord: Josef was onskuldig in die tronk; Daniël onskuldig in die leeukuil. Job was onskuldig toe hy alles verloor het; Maria is onskuldig veroordeel oor haar buite-egtelike swangerskap. Paulus was onskuldig in die gevangenis; Stefanus is onskuldig gestenig. Jesus is onskuldig gekruisig.
Alles gebeur tot God se eer.
Daarom buig ek bloot my hoof en sê: “Dankie, Heer. Laat u wil geskied.”
Aan God alleen die eer!
Vandag weet ek: As ons nie die vliegtuigkaartjies vir die bestemde tyd gekoop het nie, sou ek nie so gou gediagnoseer geword het nie.
As ons nie van mediese fonds verander het nie, sou ons nou met astronomiese skuld gesit het.
As my dogter nie in daardie spesifieke tyd getrou het nie, sou ek geopereer geword het sonder dat die gapingdekking in ons mediese fonds geldig was.
God is so goed!
En deur sy genade is die hele gewas verwyder. Daar was nie bestraling óf chemoterapie nodig nie.
Dis nou ses maande later, en ek begin weer voel soos ek moet voel. Ná die eerste sesmaande-ondersoek het professor Ramos gesê hy is baie tevrede.
Aan God alleen die eer!
My gebed is dat my getuienis jou vandag sal bemoedig, want God se genade is vir ons genoeg. Hy gee krag as ons swak is. Hy voorsien tot in die fynste besonderhede.
- Hannelie van der Vyver (52) van Brakpan is die ma van drie kinders en ouma van twee pragtige kleinkinders.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.