Ek en my man Jan Wagner het in November 2021 van Kempton Park na Jeffreysbaai verhuis. Ons het jare lank in Kempton Park gewoon. Maar Johan was lank werkloos weens Covid-19. Toe kry hy werk in Jeffreysbaai; dit was ook nader aan ons familie.
In daardie stadium het ek ’n baie seer knie gehad, en in April 2022 moes ek ’n atroskopie ondergaan. Een oggend, ses weke ná hierdie prosedure, het ek so goed gevoel dat ek besluit het om te gaan inkopies doen.
Ek het naby die winkel geparkeer, ingeval my knie probleme sou gee. Maar ek het só goed gevoel dat ek die sakkie met inkopies in die kar gaan bêre het en na ’n ander winkel geloop het.
En my eerste gedagte was …
Toe hoor ek ’n harde slag. Iemand wat gil.
En ek besef dis ék, dis mý stem. Die pyn was ondraaglik.
LEES OOK: Aimee Moore Ackers ses jaar ná ongeluk: ‘Ek bid vir krag, vrede en hoop’
Iemand het by my kom buk en gesê ek moet stil lê, ’n kar het my gestamp.
Stadigaan het dit tot my deurgedring dat die impak van die botsing my tot teen ’n groot winkelruit geslinger het. Die ruit is gebreek en ’n stapel bottels in die winkel het inmekaargetuimel. ’n Rooi vloeistof het deur die gebreekte ruit gevloei.
Toe ruik ek dit. Wyn. Rooiwyn. My klere, my hele lyf, was deurdrenk. Selfs my hare.
Eensklaps het ek bewus geword van die Here, van sy teenwoordigheid. En my eerste gedagte was … sy bloed. Dit is wat my bedek het. Ek het begin bid terwyl ek so lê.
My swaer, Johan Buytendag, was gou by my. Hy het vir my gebid terwyl een van die ambulansmanne my gehelp het. Ek onthou hoe Johan gebid het dat elke wapen wat teen my gerig is niks sal kan uitvoer nie. Dat die Here my sal beskerm.
Omdat die pyn in my bene so erg was, moes die noodhelpers my sweetpakbroek van my bene afsny.
Skielik het ek my knie onthou: die operasie-knie!
Ek het afgekyk en ’n oop, bloeiende wond gesien. Dit was só seer, dit het gevoel of alles in al twee my bene gebreek was.
Toe kom die uitslae
Die ambulansrit na die hospitaal in Gqeberha was ’n nagmerrie. Ek was erg getraumatiseer en het baie pyn verduur. By die St George’s-hospitaal se trauma-eenheid wou die personeel niemand by my toelaat nie. Terwyl ek gelê en wag het dat die ondersoeke afgehandel word, ook dié vir moontlike inwendige bloeding, het ek baie alleen gevoel.
Toe kom die uitslae: geen inwendige bloeding nie. Nie ’n enkele been in my liggaam was gebreek nie.
Ek was wel vol kneusplekke, ek was pimpel en pers, en daar moes steke in my wenkbrou kom. Aan my regterbeen was oop wonde wat bloot skoongemaak moes word voor die verpleegpersoneel dit toegeplak het.
Ek is daardie einste aand huis toe gestuur.
Elke personeellid wat my ná die ongeluk gesien het, het my gevra of ek besef hoe gelukkig ek was. Mense wat ligter stampe as ek gekry het se bene is gebreek. Sommiges het gesterf weens sulke ongelukke.
Ek kon vir almal sê ek weet dis die Here wat na my omgesien het.
My ma se gekanselleerde afspraak
’n Klompie weke ná die ongeluk moes ek vir my 93-jarige ma ’n afspraak by die dokter maak. Maar daardie oggend vroeg bel sy en vra ek moet haar afspraak kanselleer, want sy voel beter.
Omdat ek in daardie stadium baie pyn in my regterbeen verduur het, het ek haar afspraak benut. Gelukkig het ons dieselfde dokter.
Hy was bekommerd en het my onmiddellik vir ’n sonarondersoek Gqeberha toe gestuur. My suster Ursula het my daarheen geneem. Daar is dit bevestig dat ek diep veneuse trombose opgedoen het. Ek is weer in die hospitaal opgeneem en vir die trombose behandel.
Ek het die Here se hand in hierdie gebeure raakgesien. Hoe Hy my ma se gekanselleerde afspraak gebruik het om my betyds by die nodige behandeling te besorg.
Ná die ongeluk daardie oggend in Mei 2022 was my lewe nie weer dieselfde nie. Ek verduur baie pyn. Ek word wel geleidelik beter, en wanneer ek terugkyk op my lewensreis, sien ek die hand van die Here op my.
En ek wil vir die vrou sê wat die botsing veroorsaak het dat ek haar vergewe het.
Al hierdie dinge het ook daartoe bygedra dat my en my man se verhouding nog inniger geword het. Hy bly my grootste steunpilaar.
Met hierdie getuienis wil ek al die lof en eer aan die Here gee. En ek wil vir Hom dankie sê dat Hy my gespaar het om sy doel in my lewe te bereik.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.