Dis onmoontlik om jou kind in watte toe te draai, én dis onwys. Want hoewel jou kind se teleurstellings en terugslae pynlik is, bied dit groeigeleenthede – vir sowel die kind as die ouer. En dít bevorder veerkragtigheid.
“Ons maak kinders groot met ’n lae toleransie vir teleurstelling.”
Só skryf Brené Brown in haar topverkoper The gifts of imperfection. Hoewel ons hulle instinktief wil beskerm, waarsku kenners dat ons hulle op die lange duur ’n onreg aandoen.
“Hoe meer ons ons kinders verskans, hoe erger sal toekomstige teleurstellings wees,” sê Fred Gosman in Spoiled rotten: Today’s children and how to change them.
Die opvoedkundige sielkundige Madeline Levine is dit hiermee eens: “Wanneer ons ons kinders teen mislukking beskerm en hul sukses as ’t ware choreografeer, verwring ons noodsaaklike groei-ervarings.”
Wat ouers kan doen om kinders te help om teleurstellings te verwerk
Weerstaan tog die versoeking om al wat klip is uit jou kind se pad te wil rol! Volgens dr Siggie Cohen, ’n kinderontwikkelingspesialis, fokus die meeste ouers op strategieë om hul spruite se lewe te vergemaklik, terwyl die wete by daardie kinders dat hulle terugslae kán oorkom veel belangriker is.
Beteken dit ons moet hulle aan hul eie genade oorlaat?
Allermins. Lewensvaardighede moet doelgerig gekweek en aktief ingeoefen word; dit ontkiem nie vanself nie. Ons rol is om ons kinders te rig en te ondersteun om eienskappe soos motivering, selfvertroue, optimisme, volharding en ’n positiewe perspektief te ontwikkel.
Empatie eerste
“Kinders het ’n groter behoefte aan ’n veilige ruimte waarin hulle moeilike emosies kan verwerk as aan ’n probleem-oplosser,” sê die gesinsafrigter Shelly Robinson. “Ouers se belangrikste taak is om te luister. En om erkenning te gee aan emosies.”
Wees geduldig, selfs wanneer ’n uitbarsting of tranedal jou begroet. In haar blog “The Therapist Parent” stel Krysten Taprell ’n “erken-en-wag”-benadering voor.
En sy gee toe: “Dis ontsettend moeilik vir ouers. Ons wil dit dádelik regmaak, ons wil dit góú beter maak … Maar wag net eers!
“Kinders moet ontdek dat ongemaklike gevoelens tóg verbygaan. As ons hulle nooit toelaat om die ganse golf emosie te beleef nie sal dit altyd vir hulle skrikwekkend bly.”
“Moedig jou kind aan om ‘in die pyn in te leun’,” sê dr Timothy Verduin van die New York Universiteit se kindersielkunde-afdeling. “Dit mag onveilig voorkom, maar wanneer jy jou omgee en onderskra-ging kommunikeer, en dan plek maak vir intense emosies, sal selfs die driftigste reaksies later weggaan.”
Aan die ouer: Bly deurentyd in voeling met jou eie emosies. Brand jy om Sussa se aandag af te trek of om die hele proses te verhaas? Hoekom wil jy dit doen? Voel jy hulpeloos? Is jy bang ander mense kritiseer jou ouerskap? Voel jy skuldig omdat jy haar vir ’n uitdagende aktiwiteit ingeskryf het? Onthou: Onderdrukte emosies strem meelewing.
Die eerste treetjies na emosionele intelligensie
Alvorens kleingoed hul gevoelens kan uitdruk, moet hulle dit leer identifiseer. Bou van kleins af aan hul emosionele woordeskat. Gee die emosies hul regte naam – hulle s’n én ander s’n. Begin met blydskap, hartseer en woede.
As jou peuter ’n vloermoer gooi, sê iets soos: “Jy is kwaad. Ek verstaan dit. Daardie skerp skroewedraaier hét interessant gelyk.”
As julle sien hoe ’n ander kind ’n roomys laat val, vestig die aandag op daardie kind se reaksie. “Foei tog, hoor hoe snik sy. Sy is hartseer.”
Benut alle moontlike groeigeleenthede. Empatie beteken nie dat jy jou kinders help om verskonings te soek nie. Indien hulle lui was of foute gemaak het, moet hulle verantwoordelikheid aanvaar vir die gevolge daarvan.
Jong mense wat ander vir hul eie foute kwalik neem, ontwikkel maklik ’n “arme ek”-houding.
Wees ’n rolmodel. Deel jou eie teleur-stellings met jou kinders. Wys hulle op dié manier dat negatiewe emosies normaal is, en hanteerbaar, en dat dit op ’n sosiaal aanvaarbare wyse uitgedruk kan word.
Wanneer hulle jou ingesteldheid, emosionele vaardighede en probleemoplos-singsproses in aksie sien, beteken dit veel meer as enige goedbedoelde “les”.
Jy kan byvoorbeeld sê: “My hart is seer. Jy weet mos hoeveel ek na tannie Lisa se kuier uitgesien het. Nou ja, sy moes dit uitstel want oom Tommie is siek.”
Sug hardop, en maak oogkontak sodat jou kinders jou gesigsuitdrukking kan sien.
Brei sulke gesprekke uit na gelang van jou kind se begrip in daardie stadium. Vra iets soos: “Kan jy dink aan ’n keer toe jy ook so teleurgesteld was?”
Gebruik hul belewenis as wegspringpunt om beheer te bespreek: Wat kan ons beheer? Wat is buite ons beheer?
Kinders oorskat die beheer waaroor volwassenes beskik. Dis daarom noodsaaklik om hulle te leer dat niemand eksterne omstandighede of ander mense se optrede kan beheer nie, maar dat almal die vryheid en die verantwoordelikheid het om hul eie reaksie, gesindheid en gedrag te bepaal.
Bestuur die verwagtinge
Teleurstelling spruit uit verydelde hoop. Jy kan jou kinders baie verdriet spaar deur hulle voor te berei op die wesenlike moontlikheid dat dinge mag skeefloop.
Byvoorbeeld: Dis julle voorlaaste vakansiedag by die see. Jou jong kinders het groot planne vir dié dag – maar daar word reën voorspel.
Hoe kan jy hul verwagtinge bestuur?
Wys hulle die wolke op jou slimfoon se toepassing. Moedig hulle aan om hul gevoelens hieroor uit te druk. Reageer dan toepaslik daarop met iets soos: “Julle is hartseer want julle wou só graag vir oulaas skulpies optel en sandkastele bou.”
Sodra hulle kalmer is, kan jy binnens-huise aktiwiteite voorstel: “Wat van fliek kyk? ’n Kombers-fort bou? Of wil julle eerder piekniek hou op die mat?” Dié reeks moontlikhede wys hulle hoe doelgerigte probleemoplossing lyk. En die klompie keuses verlig hul magteloosheid.
Daar is ook iets soos vooruitskouende begeleiding. Byvoorbeeld: Jou kind het alles in die stryd gewerp om die skool se ererol te haal. Nou is die eksamen verby en dis die aand voor die prysuitdeling, die senuwees knaag.
Wag vir ’n ontspanne oomblik voordat jy die onderwerp aanroer. Begin só: “Jy het vanjaar omtrént hard gewerk! Ons het dit raakgesien en dit het ons bly gemaak. Ongelukkig waarborg harde werk nie altyd dat ons hartsbegeertes vervul word nie. Wat belangrik is, is dat jy jou bes gedoen het. Jy kan trots voel. Ons is baie trots op jou.”
“Prys hulle oor wat hulle probeer regkry het,” sê Krysten. “Wys jou kind jy kyk verby die eindresultaat. Karakter is die hoofsaak.”
Indien jou tieners ontvanklik is, kan julle die gesprek selfs verdiep. Span hul verbeelding in met ’n klompie “sê nou maar”-moontlikhede. Byvoorbeeld: “Sê nou maar ’n klasmaat klop jou – hoe sal jy voel?”
- Moedig hulle aan om hul vrese in die oë te kyk, om hulleself af te vra:
- Is jy bang jy bars in trane uit?
- Wil jy kalmeringstegnieke probeer – iets soos stilgebed of asemhalingsoefeninge?
- Hoe kan jy jou later troos as jy weer by die huis is?
- Wat het vorige kere gewerk toe dinge ook nie verloop het soos ons gehoop het dit sou nie? Het dit jou gehelp om iets te teken? Om musiek te luister? Om die hondjie te streel?
Almal verwerk teleurstellings anders
“Elke kind beleef teleurstelling op ’n eie manier,” sê Krysten. “Dis ’n hoogs subjektiewe belewenis wat van verskeie faktore afhang.
Ouderdom is een daarvan. Jonger kinders word harder deur teleurstellings getref.
Kleuters het ’n alles-of-niks-uitkyk op die lewe. Hul beperkte lewenserva-ring het tot gevolg dat selfs skynbare nietighede as rampspoedig en hartverskeurend deur hulle beleef word.
Boonop is hul selfreguleringvermoë nog onderontwikkel. Krysten sê: “Moenie hul gevoelens afmaak as ‘laf’ nie. Stellings soos ‘dis nie die einde van die wêreld nie’ skep bloot die indruk dat ouers nie verstaan of omgee nie, en dit laat die kinders voel dat hulle en hul behoeftes onbenullig is. En dit lei dalk daartoe dat kinders hulle onttrek. Dan beland hulle in ’n afwaartse maalkolk van pynlike, skadelike emosies.
“Plaas jou vierkantig in jou kind se skoene voor jy enigiets sê. Dink terug aan jou eie teleurstellings toe jy jonk was. Hoe het jy gevoel? Hoe het jy daarop gereageer?
“Respekteer die kind se eiesoortige gevoelens. Om, byvoorbeeld, met ’n suster of broer vergelyk te word maak seer. “
Aan die ouer: Benut elke moontlike geleentheid om positiewe reaksies te prys. Sê dan iets soos: “Ons het gesien jy het hul kaptein ná die wedstryd op die skouer geklop. Dis mos mooi sportmangees!”
Bitter of beter?
Teleurstelling vanweë onregverdige behandeling is vir almal, ook vir grootmense, ’n bitter pil om te sluk. Navor-sing het uitgewys dat die belewing van onreg die amigdala aktiveer, die brein se sogenaamde gevaarsentrum. En dit het gevoelens van bedreiging, woede en walging tot gevolg.
Hoe hanteer ’n ouer dit wanneer iemand, veral ’n gesagsfiguur, teen jou kinders diskrimineer? As gelowige wil jy immers nie die persoon afkraak nie. Jy wil ook nie hê dat jou kinders verbitterd word of ’n soort “slagoffer-sindroom” ontwikkel nie. Of brûe verbrand nie.
Empatie is die doeltreffendste strate-gie. Fokus op jou kinders se gevoelens en nie op die onregpleger se gedrag nie. Waarom beskou jou kinders dit as onregverdig? Hoekom het dit gebeur? Het hulle enige beheer daaroor? En, indien wel, wat?
Begelei jou kinders sagkens na die gevolgtrekking dat hul beheer beperk is tot hul eie ingesteldheid en optrede. Besin saam met hulle oor hoe die situasie hulle óf bitter óf beter kan maak.
Sê nou maar ’n onderwyser het negatiewe opmerkings by ’n opstel geskryf: Was daar ’n goeie rede daarvoor? Indien wel, hoe kan die skryfwerk verbeter word? As die terugvoer onduidelik was, oorweeg dit om die onderwyser in ’n hoflike e-pos vir wenke te vra.
“Teleurstelling kan wel ’n besonder doeltreffende motiveerder wees,” sê Krysten. Maar sê nou dis onmoontlik vir jou kind om te verbeter?
“Soek dan saam na jou kinders se sterkpunte. Niemand doen alles meesterlik nie, maar tog is elkeen goed met en passievol oor iéts. Help jou kinders om hul nis te identifiseer, om doelwitte te stel, om hul drome pligsgetrou na te jaag.
“Sukses kweek sukses. Die bereiking van elke mylpaal bring selfvertroue, wat na die res van jou kinders se leefwêreld sal oorspoel.”
Lees ook: Help, my kind jok.