Elke ouer ken dit: ’n kind wat doodluiters kluitjies bak. Aanvanklik is dit snaaks, en net soms irriterend. Maar dit hou aan en aan … en die kind is al in die skool! Is daar ’n klein krimineel in my huis?
Dr Kang Lee van die Universiteit van Toronto in Kanada bestudeer reeds dekades lank oneerlike gedrag by kinders. Met een van sy innoverende eksperimente wou hy vasstel hoe gereeld kinders jok. “Ons gaan ’n raai-raai-spele-tjie speel,” het die navorsers die betrokke kinders ingelig. “Die wenner kry ‘n gróót prys.”
Terwyl die speletjie aan die gang was, het die navorsers die vertrek verlaat en gemaan: “Moenie na die kaart kyk nie!”
Negentig persent van die kinders het dadelik geloer. Toe die navorsers hulle later vra wie geloer het, het 30% van die tweejariges, 50% van die driejariges en 80% van die vierjariges ontken dat hulle geloer het. Die onderskeie kinders se geslag, godsdienstige oortuigings of nasionaliteit het geen rol gespeel nie.
Is jok normaal?
Dit kom dikwels as ’n skok wanneer jou eens onskuldige kleuter skielik begin wolhaarstories uitryg. Ontspan gerus, dis ’n normale deel van ontwikkeling, sê Kang. Meer nog, dis ’n mylpaal wat twee denkvaardighede vereis:
- Gedagte lees beskryf die wete dat ander se belewenisse van joune mag verskil. Gestel die hond se leiband hang altyd langs die agterdeur. Op ’n dag steek Boeta dit weg om Mamma te fop. “Moet niks sê nie!” beveel hy kleinsus Amelie. Wanneer die hakie-sonder-leiband Mamma dronkslaan, besef Amelie ander mense kan mislei word, dat selfs grootmense nie alwetend is nie.
- Ongelukkig laat Amelie se gegiggel die aap uit die mou. Oortuigende misleiding verg selfbeheer, snap sy en begin oefen om haar gesigsuitdrukking, liggaamstaal en woorde daarvoor in te span.
Is jy dalk verleë omdat jou tweejarige eensklaps leuens ontdek het voor die portuurgroep dit kon regkry?
Dis eintlik ’n prestasie, troos Kang grappenderwys. Dis ’n teken van gesonde en selfs gevorderde ontwikkeling. Gedagte lees en selfbeheer is waardevolle kommunikasie- en sosiale vaardighede.
Dis ’n komplekse saak
Volgens dr Victoria Talwar, skrywer van The truth about lying: Teaching honesty to children at every age and stage, kan ouers nie staatmaak op leer-deur-osmose nie. Eerlikheid moet doelbewus gekweek word.
Dis natuurlik makliker gesê as gedaan. Kinders snap klein-klein al dat die waarheid beter as leuens is, maar namate hulle ontwikkel, word die toepassing van hierdie beginsel ál meer gekompliseerd.
Hulle word bewus van gemengde boodskappe. Juffrou sê: “Praat altyd die waarheid!” Maar môre fluister Oupa: “Moenie aan die kleintjies sê Kersvader bestaan nie, hoor?”
Dan is daar hul toenemende empatie, wat sake verder kompliseer. Hoe gemaak wanneer eerlikheid iemand anders sal seermaak?
Kleingoed se moraliteit is swart-en-wit. Gestel jy neem jou spruite na ’n perdry-les toe, min wetend dis uitgestel. Teleurgesteld verwyt die vyfjarige: “Pappa het belowe ons gaan perdry. Hy jok soos ’n bok.”
“Is nie,” stry die ouboet, wat op sewe reeds opregte bedoelings begryp en dit as versagtende omstandighede beskou. “Pappa het net nie die perdry-tannie se e-pos gesien nie.”
Bespreek gerus ’n hipotetiese situasie met die tweetjies. Iets soos: “’n Onskuldige tannie kruip in ons huis weg. Die skurk wat haar wil seermaak, klop aan ons voordeur. Is dit oukei om te sê die tannie het weggery?”
Jou jongste reken heel waarskynlik jok is jok, terwyl die ouboet reken die doel heilig die middele.
Hoekom jok?
Die gedragswetenskap onderskei tussen antisosiale en pro-sosiale leuens – of, in leketaal, “swart”-leuens en witleuens. Eersgenoemde word vir eie gewin ingespan: om straf of onaangename take te ontduik; om aandag of aanvaarding te verkry; om grense te toets.
Pro-sosiale leuens, daarenteen, spruit voort uit altruïsme. Dis meer kompleks en verg gevorderde denkvaardighede soos empatie, asook die lewenservaring en verbeeldingskrag om woorde se moontlike impak op ander te voorspel.
Sal my kinders die gejok ontgroei?
Dalk, en dalk nie. Kinders word oor die algemeen eerliker namate hulle ouer word, veral wat antisosiale leuens betref.
Tog verdraai die meeste volwassenes dikwels die waarheid om ander se gevoelens te spaar. Dit veroorsaak skynbaar weinig innerlike konflik. Antisosiale leuens aktiveer skuldgevoelsentrums in die brein; altruïstiese leuens nié.
’n Voorbeeld: Die teleurstellende geskenk
Hier is ’n scenario wat elke ouer al laat sweet het: Victoria het, in die eerste van ’n reeks eksperimente, aan drie- tot elfjariges ’n geskenk beloof. ’n Versameling aanloklike speelgoed is uitgestal om afwagting te bou – wat telkens verpletter is deur … ’n koekie seep as geskenk.
Asof ’n simpel geskenk nie erg genoeg was nie, wou die navorsers by die kinders weet of hulle daarvan hou. Die meeste, selfs ’n klompie driejariges, het “ja” gesê, veral wanneer hul ouers vooraf benadruk het dat hulle hoflik moet wees.
“Hoekom hou julle daarvan?” het die navorsers gevra.
Baie outjies bo vier kon witleuens uitdink om hul “tevredenheid” te motiveer, en selfs daarin slaag om ’n gelukkige uitdrukking op hul gesig te plak.
Victoria het gevind die heel kleintjies se leuens was eerder selfbeskermend as altruïsties. Hulle het erken hulle was bang die navorser of ouer sal kwaad wees.
Daar was ook ’n opvolgstudie. Hier is die deelnemers vooraf verseker dat hulle die geskenk mag omruil as hulle nie daarvan hou nie.
En wat was die geskenk? Bruin sokkies, oorhandig deur ’n jong, vroulike navorsingsassistent. “Ek het dit self gebrei,” het sy gesê. “Daarom hoop ek regtig jy hou daarvan.”
Hoe ouer die kinders, hoe meer gewillig was hulle om die sokkies, uit empatie, te aanvaar en sodoende ’n beter geskenk op te offer.
Om eerlikheid te kweek
Kang het sy raai-raai-speletjie aangepas om uit te vind watter stories eerlikheid bevorder.
Tydens hierdie opvolg-eksperiment het navorsers ná die onderbreking vir die kinders stories voorgelees. Groep A het Die skilpad en die haas gehoor. Groep B se verhale, Pinocchio of Die seun wat wolf geskree het, het geïllustreer hoe leuenaars hul rieme styfloop.
Groep C se storie het só geklink: Die sesjarige George Washington vaar ‘n kersieboord binne met sy verjaardaggeskenk, ’n byl. Toe sy pa hom konfronteer, bieg George: “Ek kan nie jok nie.” Sy pa druk hom vas en sê eerlikheid is meer werd as duisend kersiebome.
Eers ná storietyd het die navorsers gevra of die kinders op die kaart geloer het. Groep A en Groep B het ewe geredelik gejok. Groep C was aansienlik eerliker.
Ja-nee, bevestig Kang, ’n wortel werk beter as ’n stok. Verhale wat eerlikheid prys, kweek karakter.
Dr Victoria Talwar se veertien wenke:
- Ouers moet oor hul eie norme besin, en dit as riglyn vir die hele gesin gebruik.
- Wees ’n waardige rolmodel; dubbele standaarde is verwarrend. Weerstaan die versoeking om te jok oor jou kind se ouderdom bloot omdat die fliekkaartjie dan goedkoper is. Die prys wat jy daardeur betaal, is te hoog.
- Hou gerus jou verduidelikings eenvoudig, maar vermy vals gerusstellings, soos dat jul afgestorwe hond op ’n plaas gaan bly het.
- Pasop vir aannames. Fokus liefs op hoekom jou kind jok. Motivering verskaf belangrike inligting. Victoria noem ’n voorbeeld: Jou seunskind kom smiddae rasend honger by die huis, maar sweer hoog en laag hy eet sy skooltoebroodjies. Jou eerste instink is dissipline – maar sê nou hy jok uit vrees vir die boelie wat sy kos afneem?
- Gee erkenning aan eerlikheid. Ons is geneig om slegs onwaarhede raak te sien en daarop te reageer.
- Moenie leuens ignoreer óf daarop oorreageer nie. Leuens dui nie noodwendig op ’n foutiewe morele kompas nie. Kry professionele hulp indien oneerlikheid jou kind se menseverhoudings skaad, of indien dit slegs een van talle gedragsprobleme is, of indien jy sukkel om dit te hanteer.
- Hou jou verwagtinge ouderdomsgepas. Jou driejarige gáán die planne vir Ouma se verrassingspartytjie uitlap. Laat dit liefs vir hom of haar ook ’n verrassing wees.
- Maak dit maklik vir jou kinders om eerlik te wees, veral wanneer iemand se welsyn ter sprake is. Moet hulle nie probeer uitvang nie. Sê eerder iets soos: “Hoewel leuens my pla, is jy nie in die moeilikheid nie. Jy kan my enigiets vertel.”
- Dreigemente stook oneerlikheid. Straf ook. Volgens Victoria swyg kuberboelieslagoffers dikwels uit vrees om hul foon te verloor. Ouers se beskermende gedrag is soms tieners se “straf” vir eerlikheid.
- Skep geleenthede vir ouderdomsgepaste gesprekke gedurende die kinder- en tienerjare.
- Leer jou kleuters om skadelike leuens en geheime (soos potensiële molestering) te herken. Moedig hulle aan om dadelik ’n grootmens te vertel, al het die skuldige dit verbied.
- Verken die gevolge van oneerlikheid. Veral antisosiale leuens vorm ’n web waarin jy jou vasdraai. Bespreek die versoeking om ter wille van aanvaarding te jok, en oor hoe dit juis verwerping kan meebring.
- Ouer kinders geniet gesprekke en debat oor morele dilemmas. Praat oor vrae soos: Is deernisvolle misleiding ooit aanvaarbaar vir ons gesin? Wanneer? Hoekom?
- Benut alledaagse en hipotetiese situasies, rolspel, en stories – fiksie én niefiksie. Hou aan om voor te lees, selfs vir jou tieners.
Loer gerus op ons gesinsblad vir verdere artikels oor ouerskap en raad vir gesinne.