Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Hartsvriende se surrogaat: ‘Ek is lief vir die baba wat ek dra … soos vir ’n susterskind’

Ek en my man Robert het nog altyd saamgestem dat twee kinders vir ons genoeg is. Ek het dit baie geniet om swanger te wees en was besonder gelukkig dat ek met al twee swangerskappe bitter min slegte simptome en géén komplikasies beleef het nie. Dit was regtig ’n aangename ervaring.

Ons eerste dogter, Kathryn, is in Februarie 2018 gebore. En ons tweede een, Philippa, in November 2019.

Nooit weer swanger nie …

Kort nadat Philippa gebore is, het dit my getref: Ek sou nooit weer swanger wees nie. Ek het grappenderwys vir Robert gesê dat ek dalk eendag ’n surrogaat-ma sou kon word. Dan sou ek weer swangerskap kon beleef, maar óns hoef nie nog ’n kind te hê nie. Hy het gelag en my dol hormone die skuld gegee …

’n Paar maande later het ’n vriend, Brenton, ons saamgenooi op ’n naweek-wegbreek waartydens hy die ja-woord vir sy vriendin Estelle sou vra.

Kimberley en Robert se dogtertjies Kathryn en Philippa is nou onderskeidelik ses en vier jaar oud. Hulle is baie opgewonde dat hulle mamma tannie Mariska se babatjie help groei. Foto verskaf

Mariska en Brendan was ook saam; hulle is Estelle se goeie vriende. Ons het hulle daar leer ken en heerlik saam gekuier.

Kort ná die naweek het die pasverloofdes ons vertel dat Mariska en Brendan nie kan kinders hê nie, en dat Estelle vir hulle ’n surrogaat-ma sou wees.

Dié interessante brokkie het my ál meer aan die dink gesit. Eintlik was ek verstom dat hierdie storie tot ons ore gekom het, en dit so gou nadat ek surrogaatskap aan Robert genoem het. Ek het nooit veel daarvan geweet nie, of gehoor van sulke dinge wat in Suid-Afrika gebeur nie. Dit was, trouens, iets wat ek toe nog net in flieks gesien het.

Ná verskeie probeerslae was daar ongelukkig geen goeie nuus vir Estelle, Mariska en Brendan nie en hul surrogaat-kontrak het tot ’n einde gekom. Dit was ’n slegte emosionele reis vir dié drie. Dit het swaar op almal gedruk.

In hierdie moeilike tyd het Robert my gevra of ek steeds surrogaatskap oorweeg, en of ek nie dié moontlikheid met Mariska en Brendan wou bespreek nie. Ek was verras dat hy dit onthou het, en eintlik uit die veld geslaan deur sy voorstel.

Teen dié tyd het ek Mariska en Brendan reeds goed geken en ek het geweet hoe hulle na ’n baba gesmag het. As enigiemand die vreugde van ouerskap moes ervaar, was dit hulle twee.

Ek het toe besluit om hulle te nader. Ek het gedink: As hulle werklik belangstel en steeds die emosionele en finansiële vermoë daartoe het, sou ek meer as gewillig wees om saam met hulle te probeer.

Eintlik het ek gereken hulle het toe reeds te veel hartseer beleef en dat hulle nie sou kans sien nie. Tot my verbasing het hulle dadelik ingestem. Hulle sou regtig graag weer wou probeer.

‘Ons help dat tannie Mariska se babatjie groei’

Ek en Robert het toe met ons dogters gesels. Ek het hulle doodeenvoudig vertel dat tannie Mariska nie plek in haar magie vir ’n babatjie het nie, maar Mamma het wel plek. En ons kan een van tannie Mariska se eiertjies in mý magie sit en kyk of ek haar kan help om ’n babatjie te laat groei. Ek het dit baie, baie duidelik gestel dat dit nie óns baba sou wees nie.

My kinders was absoluut gaande oor die idee dat ons Mariska sou help, en hulle was opgewonde om uiteindelik nog ’n maatjie te kan hê.

Kimberley en Mariska tydens die onlangse ooievaarstee. Lees ook Mariska se #liggetuienis hier. Foto verskaf

Die eerste inplanting het glad verloop, maar die fetus het ná ’n paar weke ophou groei.

In Desember 2023 het ons weer probeer, en dié slag het dit gewerk. Mariska en Brendan word vandeesmaand ’n dogtertjie ryker!

Hierdie swangerskap het feitlik identies aan my voriges verloop; dit was, trouens, in sekere opsigte selfs makliker. Ek ervaar elke emosie as Mariska en Brendan se vriendin. Ek deel in hul opgewondenheid, hulvreugde, hul afwagting.

Ek het wel, emosioneel gesproke, afstand gekry van die swangerskap. Dit was nodig. Ek moes voorkom dat ek te geheg raak aan die baba wat ek dra. Natuurlik is ek lief vir haar, en daar sal sekerlik ’n band wees. Maar ek is lief vir haar soos vir ’n susterskind; ek besef deeglik dat sy nie myne is nie.

Robert het my uit die staanspoor ondersteun. Mariska en Brendan het ons hartsvriende geword. En ons band het, in die loop van hierdie reis, selfs hegter geword. Ons is so gelukkig dat ons almal goed oor die weg kom en dat ons nooit van mekaar verskil het nie. Ek weet hulle het groot waardering vir wat ons vir hulle doen. En hulle het ook vir mý die geleentheid gegee om iets te ervaar waarna ek altyd sou hunker. Ek is so dankbaar vir dié geleentheid.

  • Kimberley Daley (32) en haar gesin woon in Kaapstad se noordelike voorstede. Sy werk vir haar broer in die restaurantbedryf. Kimberley en Robert se dogters Kathryn en Philippa is nou onderskeidelik ses en vier jaar oud.
  • Toe hierdie stuk geskryf is, het Kimberley nog gewag om Mariska en Brendan se baba in die wêreld te bring.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF