Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Help! Ek is ’n nuwe ma

Jy is reg vir jou baba se koms. Almal gee raad en jy lees elke denkbare boek – totdat die kleinding opdaag. Eensklaps voel jy asof niemand jou hiérop voorberei het nie. Skielik het al jou vrae uitroeptekens … deur René Badenhorst

 

Wanneer gaan ek weer behoorlik kan slaap?

“Aanvanklik slaap geen baba deur die nag nie,” sê Irene Bourquin, verpleegster, vroedvrou en nageboorte-opvoeder. “Dit is ook maar goed so, want as hulle sou ‘deurslaap’, sou hulle dit nie oorleef het nie.”

Maak dus vrede daarmee dat jy (en die nuwe pappa) daardie eerste week of twee maar min slaap gaan kry. Irene het darem troos: “Borsvoed jou baba, en laat hom of haar by julle in die kamer slaap. Dit is waarskynlik jou enigste hoop op ’n beter nagrus.”

Daar is nóg hoop. “Dit is wel moontlik dat ’n baba ná selfs drie maande kan ‘deurslaap’,” sê Mariana Symington, ’n verpleegster en vroedvrou.

Daar is egter ’n voorwaarde: “Die baba moet so gou moontlik – enige tyd ná twee weke – na ’n ander kamer toe geskuif word. Hoe later die baba uitgeskuif word, hoe moeiliker gaan dit word om dit reg te kry.”

Mariana beveel ook aan dat elke nag in skofte verdeel word – en dat die ma en die pa om die beurt kans kry om te slaap.

“So ’n reëling werk meestal goed,” sê Irene. “Die moeë ma moet haarself ’n blaaskans gun – dalk op ’n Vrydag- of Saterdagaand, veral as sy boonop in die week werk. En dit is hier waar vriende en familie regtig kan help. Bied aan om die baba op ’n Sondagmiddag op te pas, sodat die ma en pa ’n bietjie kan rus.”

 

Ek voel knaend skuldig dat ek as ouer tekortskiet!

“Dit is soms nodig om met mense in dieselfde bootjie as jy in aanraking te kom – al is dit bloot om te besef dat jy nie so ’n slegte ma is nie,” sê Mariana.

Irene sluit hierby aan en sê: “Skuldgevoelens kan destruktief wees. Woon voorgeboorte- en ouerskapklasse by om selfvertroue te kry. Doen dan wat reg is vir julle en julle baba. Doen jou bes, doen dit met liefde – en basta met die res!

 

Iets so doodgewoon soos inkopies doen, lê deesdae soos ’n berg voor my!

’n Honger, moeë en lastige kind is geen plesier nie, en veral nie tydens ’n inkopie-tog nie, sê Mariana. “My raad is eenvoudig: Moenie jou kind saam neem winkel toe nie. Soek iemand wat jou baba kan oppas, en gebruik sommer die inkopietyd as ’n lekker blaaskans. Maak ’n lysie van dié dinge wat jy nodig het en kry net wat daarop staan. Dit is natuurlik koste-doeltreffend én in jou geval ’n groot stresverligter.”

“Koop aanlyn!” is Irene se raad. “Dit is ’n baie nuttige hulpmiddel vir ’n moeë ma.”

 

Gaan ek ooit weer krag hê vir seks?

Chroniese moegheid het ’n besliste uitwerking op ouers se seksdrang. Irene sê: “Moenie toelaat dat julle onder druk kom om intiem te verkeer nie. Julle moet wel sorg dat julle ’n gereelde afspraak met mekaar maak – sonder die baba. Al wat dan nodig is, is ’n goeie baba-oppasser en ’n selfoon. Wanneer julle hulp benodig word, is julle net ’n oproep ver.

“Dit is veral vir die ma belangrik om soms uit te kom, en om weer uit te vind dat daar ander dinge in die lewe is as groen doeke!”

Mariana sê: “Gelukkig is dit ’n fase wat verbygaan. Maar terwyl dit voortduur, moet julle moeite doen met julle onderlinge intimiteit. Kerse is belangrik, die TV nié. Vát net weer aan mekaar …

“Homeopatiese druppels soos Lande F (“female”) of Lande M (“male”) kan hier nuttig wees. Maar maak net seker julle voorbehoeding is in orde!”

 

Hoe op aarde kom ons uit met ons geld?

“My beste voorstel vir besparing is borsvoeding, want formulemelk is baie duur,” sê Mariana. “Jy kan baie spaar deur eenvoudiger te lewe. Loop verby die koffiewinkel as jy inkopies doen en gaan drink eerder koffie by die huis. In plaas van ’n duur restaurant-ete, kan jy piekniek hou in die tuin.”

Klere is duur, en kinders groei uit hulle klere – koop maar by die goedkoopste plek op die dorp. Gaan loer ook wat in die duur potte kos in die winkels is; maak dan jou eie weergawe daarvan tuis en vries dit. Moenie onnodige toestelle koop nie.

Irene sê: “Onthou wel dat dit nooit te vroeg is om te begin spaar nie. Jy moet reeds voor jou kind se geboorte begin spaar met die oog op die ekstra uitgawes, al is dit klein bedraggies op ’n slag. En begroot saam met jou maat!”

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF