Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Hemelse vrede: ’n Leeftyd se oefen

Vrede op aarde! het die engele tydens Jesus se geboorte gesing. Ons weet vandag dat dit geen kitsoplossing vir ’n wêreld vol konflik sou wees nie; eerder ’n oproep tot ’n lewenslange leerproses. ’n Soort toewyding waarvan ons alles by Jesus sou leer.

DEUR STEPHAN JOUBERT

Wat is die slegste ding wat jou al ooit oorgekom het?”
“Wel, dit was daardie dag toe ek Jesus verloor het!”

Miskien is dit hoe ’n gesprek een goeie dag in Nasaret tussen Maria en ’n vriendin verloop het.

Want dit wás so: Maria en Josef het Jesus op ’n keer verloor. Ons lees in Lukas 2 hiervan. Dit was toe Jesus as twaalfjarige saam met sy gesin Jerusalem toe gegaan het om die paasfees by te woon.

Later, toe die ma en pa saam met ander mense teruggekeer het huis toe, het Jesus in die tempel agtergebly.

’n Dagreis ver – en eers toe het Maria-hulle agtergekom dat Jesus nie deel was van die groot reisgeselskap op pad terug Galilea toe nie. Benoud het hulle omgedraai om hul seun in Jerusalem te gaan soek.

Drie dae lank het Josef en Maria op elke moontlike en onmoontlike plek in die stad na Jesus gesoek, óral … behalwe in die tempel. Watter ouer soek in elk geval na ’n kind by God se amptelike plek?

Maar dit is waar Hy was. Reeds as twaalfjarige was Jesus stilweg besig om Hom in te oefen vir sy vredesending hier op aarde. Volgens die Joodse tradisie was Hy nog nie eens ’n “bar mitzvah” nie. Daarvoor sou Hy eers dertien moes word.

Tot vandag toe word ’n Joodse seun eers op dertien as ’n “bar mitzvah” gereken, dit wil sê as iemand wat volwasse genoeg is om aanspreeklik vir sy eie dade en gedrag te wees. Eers dán sal geleerdes dit dalk oorweeg om na jou menings en standpunte te luister.

Maar Lukas vertel dat die twaalfjarige Jesus in die middel van al die Skrifkenners was. Hy was ’n leergierige leerder, maar ook meer as dit: Sy vrae het almal tot stilstand gedwing. In ’n definitiewe sin was Hy nou leerder en leermeester tegelyk. Sy posisie daar tussen die Skrifgeleerdes vertel ons iets daarvan (vgl Luk 2:46-47).

Dit was nog altyd deel van Israel se godsdiens dat mense vrae vra. Die Joodse fisikus en Nobelpryswenner Isidore Rabu vertel hoe sy maats, wanneer hulle van die skool af gekom het, gedurig by hul ouers dié een vraag moes aanhoor: “Wat het julle vandag geleer?”

Isidore se ma het egter iets anders gevra: “Izzy, did you ask good questions today?”

Om te vra, is om te groei. Om te vra, is om te leer. Presies dit doen Jesus in die tempel. Van sy geboorte af was sy aardse roete een van inoefening, groei en leer. Presies só ontvou sy hemelse vredespad.

Groot gebore?

Adam en Eva is groot gebore. Letterlik. Hulle het geen kinderdae geken nie.

Jesus het ’n heel ander pad gekies. Hy het weerloos in ’n krip hier op aarde aangekom. Die Prins van Vrede se eerste aardse rusplek was ’n voerbak vir diere in Betlehem.

Hierna moes Hy in sy ouers se arms na Egipte vlug om Herodes se moordplanne te systap. En toe, sommer so uit die bloute, word alles stil. Sowat dertig jaar lank het Jesus van die radarskerm af verdwyn.

Dis net Lukas 2:40-52 wat vlugtig die sluier oor Jesus se kinderjare lig. Maar wat ’n teleurstelling vir al die nuuskieriges en inligtingjagters! Hier word g’n enkele woord gerep oor hoe Jesus sy kinderdae deurgebring het nie. Daar word niks gesê oor of Hy toe al, byvoorbeeld, wonderwerke gedoen het nie.

Maar Lukas deel iets baie belangriker as dit met ons: Uit die staanspoor hoor ons in Lukas 2:40 dat wysheid Jesus se kinderdae gekenmerk het. In vers 52, waar hierdie blitsvinnige kyk na sy kinderdae afgesluit word, hoor ons dit nogmaals: Ná die wegraak-episode in Jerusalem het Jesus selfs toegeneem in wysheid en in guns, voor God én tussen die mense.

Ja, die Jesuskind wat in wysheid voor God gegroei het …

Wie lees ooit hierdie lewensbelangrike woorde in Lukas 2:52 raak? Wie praat of preek ooit hieroor? Is dit omdat ons dink Jesus is eintlik maar “groot gebore”?

Is Hy in ons oë bloot ’n klein grootmens daar in die krip?

Dit sou foutief wees. Om te groei, was uit die staanspoor deel van sy aardse reis. Dit was ’n liggaamlike en karaktervolle groei in sy Vader se teenwoordigheid.

LEES OOK: Verskilmakers: ’n Moderne verlore seun se genadepad

Dis veral in die Hebreërbrief wat ons leer hoe Jesus mens moes word sodat Hy medelye met ons elkeen kan hê. Al beklemtoon die Hebreërbrief in dieselfde asem Jesus se sondeloosheid, neem dit niks weg van sy groei in wysheid en insig voor sy Vader hier op aarde nie.

Jesus se “stil” kinderjare was presies dit: inoefen-tyd, groei-tyd, karaktervorm-tyd. Daarom hoor ons in Lukas 2:52 dat God in dié tyd verheug was oor Jesus. En, o ja, ook die mense het van sy wysheid kennis geneem.

’n Leeftyd

Toe Jesus gebore is, het die engele gesing dat sy koms hemelse vrede na die aarde toe bring. Dertig jaar later gebeur dit by die kruis.

Volgens die Johannesevangelie praat Jesus ’n hele paar keer oor hierdie beslissende uur waarvoor Hy aarde toe gekom het. Onthou jy hoe Jesus aan Maria by die huweliksfees in Kana gesê het sy uur het nog nie gekom nie?

Later, in Johannes 12 – 13, hoor ons dat hierdie uur voor die deur is. Dit verwys na daardie oomblikke toe Hy sy eie lewe aan die kruis vir ons s’n sou inruil.

Jesus was deeglik bewus hoe lood­swaar hierdie groot uur sou wees. Wanneer die kruis se skadu dan oor Hom begin val (vgl Joh 12:27), word Jesus ontsteld. Nogtans vra Hy nie dat God dit moet wegneem nie; dis immers sy uur! Die kruis is die beker wat Hy tot die droesem sou drink.

Daarom onderwerp Jesus Hom in Getsemane nogmaals aan sy Vader se wil. Dis geen wonder nie dat Hy uiteindelik aan die kruis kon uitroep: “Tetelestai.” Sending afgehandel! Die sending is suksesvol voltooi.

Daar is ewige vrede gesluit. Van daardie oomblikke af raak hemel en aarde weer aan mekaar, en soos nooit tevore nie.

Vrede vir die lewe

“Give me six hours to chop down a tree, and I will spend the first four sharpening the axe.” Hierdie woorde, wat aan die VSA-president Abraham Lincoln toegeskryf word, dra ’n groot waarheid: Enigiets wat die moeite werd is, vra tyd en voorbereiding.

Karaktergroei vra selfs méér; dit vra ’n leeftyd se tyd.

Presies só het Jesus se aardse roete verloop. Sy “uur” aan die kruis het ’n hele lewe se voorbereiding gekos. Jesus het gekies om dertig aardse jare lank “stil” te wees, ter voorbereiding van sy eie uur aan die kruis.

Leer asseblief die regte soort stilte by die Prins van Vrede!

Leer in hierdie Kersfeestyd by Hom om stil te wees voor die Here. So word jou karakter tot eer van die Heer gevorm. So neem ’n dieper vrede in jou lewe gestalte aan.

Ek praat van ’n vrede van die hart. Ek praat van ’n hemelse vrede wat ’n groter stilte in jou bring. ’n Vrede wat jou hart en jou gedagtes oorrompel.

Loop Jesus se vrede stylvol na in hierdie Kersfeestyd.

Projek 108

Jy kan ons help nog meer Bybels versprei en die Evangelie verkondig

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir Jesus leer ken

Kinderpret-leesreeks Storietyd

Beleef ‘n pret, leersame en avontuurlike leesreis vir jong lesers

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders

Laat ‘n Ligspoor

Laat kinders leef met lig, lag en liefde

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF