“Mamma, hoekom huil jy? Jesus het my klaar gesond gemaak,” was die sesjarige Marcus se woorde toe hy sy ma sien huil. Dit was nadat ’n groot breingewas aan sy breinstam opgemerk is en hy geopereer moes word. Daarna sou 85 weke se strawwe chemoterapie volg.
Twee jaar gelede was Marcus Korf van Mariental in Namibië ’n vrolike, liefdevolle vierjarige wat graag gelag en gespeel het. Op ’n dag in Mei 2022 was hy aan die speel met sy karretjies wat hy in ’n swart krat rondgestoot het. Skielik het die krat vasgesteek en Marcus het kop eerste in die krat geval.
Sy ma Alma (43) vertel: “Ons kon sien hy het seergekry. Die een kant van sy gesiggie was rooi, sommige plekke was al blou, en hy het baie gehuil.
“Ons het ys op sy wang gesit en hom ’n pynmiddel ingegee. Toe is ons dokter toe en daar is X-strale van sy kop geneem. Die dokter het gesê dat dit bloot ’n harde hou was, dat daar nie blywende skade was nie. Ons is daar weg met ’n pynstropie.”
LEES OOK: Jan Bloukaas: ‘Doodgaan is nie verloor nie’
’n Tandarts bemerk onraad
Maar eensklaps het Marcus slegs in sy linkerkantse mondhoek begin kou. Hy het so gedrink, en toe ook so gepraat. En soms deur sy tande. Sy gesiggie was skeefgetrek.
Alma vertel dat twee jaar verloop het waartydens haar derde kind, ’n laatlam, steeds net aan die linkerkant van sy mond geëet en gedrink het. Hy het gekla dat sy bene pyn, dat hy hoofpyn het. En hy het dikwels gebraak.
In Februarie 2024 is hulle tandarts toe vir ’n roetine-ondersoek.
Alma vertel: “Terwyl dr Grace Chibaya my kind se tande skoonmaak, het sy opgemerk dat daar fout met Marcus se gesigsenuwees is en dat ons dadelik daaraan moet aandag gee.
“Ek het gesê dat ons reeds by baie dokters was wat ons verseker het dat Marcus se skeefgetrekte gesiggie sal regkom. Hy moes net kougom kou en ballonne opblaas – wat ons hom laat doen het.”
Maar op die tandarts se aandrang is hulle na ’n pediatriese mediese onkoloog in Windhoek, dr Lilian Moraa Gesami-Steytler. Ná ’n klompie toetse is die onkoloog se vermoede bevestig dat daar ’n gewas op Marcus se breinstam was.
’n MRI-skandering het die groot gewas duidelik uitgewys. Daardie einste dag het hulle die breinchirurg ontmoet.
“Ek het gebid en geglo … Ek het gevra …”
“Die gewas het vir my so groot soos ’n tennisbal gelyk,” vertel Alma. “Dit het soos ’n doodsvonnis gevoel. Ek het baie gehuil en was baie lank erg emosioneel. Dit het gevoel asof dit die einde van die pad vir Marcus was.
“Ek kon ’n paar dae lank nie bid nie. Ek kon nie Bybel lees nie. Ek het geworstel met die wete dat die Here vir my ’n genade-kind gestuur het, ’n laatlammetjie op 40, en nou wou Hy hom wegvat. Maar ek het begin besef dat die Here die groter prentjie ken. Toe het ek heeltemal oorgegee en berus.”
Die gewas moes dadelik verwyder word. Daar is ook besluit om ’n dreineringspyp (“shunt”) tydens die operasie in te sit omdat Marcus klein en swak was. Gewoonlik word vog van die brein deur die rugmurg gedreineer, maar by Marcus is dié roete geblokkeer vanweë die drukking wat die gewas veroorsaak het. Daarom moes ’n dreineringspyp van die brein na die maag ingesit word. Dit sou die drukking op sy brein verlig.
“Ons hele gesin is deur Marcus se groot operasie geraak. Daar was lang stiltes in ons huis. Die trane het geloop. Soms het die emosies opgevlam.
“Ek het gebid en geglo dat die Here my kind volkome sal genees. Ek het gevra: ‘Here, U het my met Marcus geseën. Maak hom asseblief gesond.”
Marcus het gevra om see toe te gaan as die operasie verby is en hy ontslaan word.
’n Klein foutjie kon Marcus laat sterf
Op 26 September 2024 is ’n agt uur lange operasie in Windhoek se MediClinic uitgevoer.
“Ek moes sterk wees vir Marcus. Hy wou nie hê ek moes huil nie,” sê Alma.
“Maar toe die tyd aanbreek, het Marcus begin huil en gesê hy is baie bang. Hy ken Jesus en sy geloof is baie groot. Ons het gebid voor hy teater toe moes gaan, en ook voor hy by die teater se deure in is.”
Die breinchirurg kon die gewas, waarvan die grootste deel aan die agterkant van die kop was, slegs gedeeltelik verwyder omdat dit reg teen die breinstam geleë is, en daar bloeding gevorm het en die drukking op die kleinbrein verlig moes word.
Die chirurg kon nie méér daarvan wegsny nie, en ’n klein foutjie kon Marcus op die operasietafel laat sterf.
“Die dokters het ook begin vermoed dat Marcus met die breingewas gebore is, en dat die trauma van die val dit geaktiveer het.”
Ná die operasie was Marcus drie dae lank onder verdowing totdat die brein se swelling afgeneem het. Daar was ook ’n suurstofpyp in sy keel en ’n voedingsbuis deur sy neus. Hy kon dus nie praat nie. Hy was ’n week lank in die hospitaal se waakeenheid en 14 dae in die hoësorgeenheid.
Sy ma vertel: “Dit het my ontstel toe hy later vertel dat hulle sy handjies voor slaaptyd vasgemaak het omdat hy die pype in sy slaap uitgetrek het. Maar as dinge my ontstel, luister ek lof- en aanbiddingsmusiek totdat ek beter voel.”
‘Ek sien Jesus nou in alles raak’
Marcus was swak toe hy terug is huis toe, en hy moes leer om met ’n kierie te loop. Sy balans moes herstel.
Omdat die gewas vinnig gegroei het, is daar ná ’n maand met behandeling begin – ’n 48 weke lange program, wat 17 dubbelsakkies chemoterapie en 27 enkelsakkies ingesluit het, en dit slegs vir die eerste ronde van die behandeling.
Op 13 Februarie is die twaalfde chemoterapie-sessie voltooi. Eers ná die eerste fase kan ’n MRI-skandering gedoen word. En daar kan eers met bestraling begin word wanneer hy agt jaar oud is.
Ná elke chemoterapie-sessie kla Marcus van moegheid en beenpyn. Hy is geïrriteerd, kry soms baie warm en wil partykeer nie eet of loop nie. Hy huil dikwels. Hulle probeer hom bemoedig deur hom, ná elke behandeling, te laat roltrappe ry. Hy hou baie daarvan.
Daarna gaan hulle cappuccino drink in die Maerua Mall in Windhoek, en hulle koop sy gunsteling-KFC-wegneemete: hoenderboudjies en kapokaartappels.
Die “skewe” gesiggie het ’n ruk ná die operasie en die chemoterapie begin regkom. Hy praat al baie beter en sy huismense kan hom nou beter hoor en verstaan.
Oor die swaar pad wat hulle stap, sê Alma: “God is goed. ’n Mens moet net nooit moed verloor en dink jy is alleen nie. Uit alle oorde het mense na ons uitgereik en ondersteuning gebied. En God is die hele tyd by jou.
“My uitkyk op die lewe het definitief verander. Ek sien Jesus nou in alles raak. Ek waardeer elke oomblik, en ons tyd as gesin saam, en ek probeer onvoorwaardelik liefhê.
“Marcus se siekte het my nader aan my Skepper gebring. God is my alles. My geloof is rotsvas in Hom geanker. Want ek weet dat Hy ons dra en dat Hy vir Marcus gesond sal maak.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.