Ek kan Ninon Strydom se pyn voel (‘Sien jou later, Poppie’). Alhoewel my dogter Liza nie dood is nie, word ons elke dag herinner aan die gebeure op Kersdag 2021.
Ná ’n paar moeilike jare in Liza se lewe, ’n tydperk met slegte verhoudings en ’n stryd teen verslawing, het dit gelyk asof sy toe, teen die einde van 2021, weer haar voete begin vind het. Sy was 24 jaar oud en het vir die eerste keer in jare saam met ons Kersfees op die plaas gevier.
Op pad terug na Bloemfontein, net ná 16:00 daardie Kersdag, was sy in ’n motorongeluk betrokke. Ons het eers die volgende oggend daarvan gehoor. My eerste woorde was: “Here, wees my Liza-kind genadig!”
‘Ek het nie geweet wat om te bid nie’
My emosies was in ’n warboel – onsekerheid, hartseer, bekommernis. Al wat ek regtig geweet het, was dat sy ernstige beserings opgedoen het. Ek was net dankbaar dat sy dit oorleef het.
Ons het Klerksdorp toe gejaag. Om haar daar in die hospitaalbed te sien, het my hart in twee geskeur. Op die oog af het sy oukei gelyk, maar alles in daardie klein lyfie was stukkend.
Weens die erns van haar beserings moes sy per helikopter na ’n hospitaal in Johannesburg oorgeplaas word. Weer het ek en my man in die kar gespring, weer het ons na ’n hospitaal gejaag. Daar het ons vir die helikopter gewag. Ons het later ’n lys van haar beserings gesien, daar was onder meer twee breinbeserings, asook bloeding op die brein.
Liza het uiteindelik 36 dae in die hospitaal deurgebring. Die eerste klompie dae was kritiek. Bowendien het streng Covid-19-inperkingsmaatreëls gegeld. Ek het ure lank langs haar bed deurgebring, alleen, en ek het gebid. Dit was net ek en die Here. Soms het ek bloot na haar stil liggaam gestaar, soms kon ek nie behoorlik deur my trane sien nie. Ek het nie aldag geweet wat om te bid nie.
Gelukkig weet die Here alles. Hy ken my sit en my opstaan en my hart. Ek het geweet dat Hy by my gesit het. Sy teenwoordigheid was voelbaar, en dié wete het my van waansin gered.
Intussen is etlike operasies geskeduleer: vir ’n vergruisde hak, ’n beseerde knie, ’n verwoeste enkel, gebreekte ribbes. Daar moes penne in haar arm en twee vingers geplaas word, sy moes ’n gesigrekonstruksie ondergaan. Sy was altesaam 36 uur in die teater.
Ek het by my skoonsus in Alberton gaan bly om my kind elke dag te kon besoek. In dié tyd het ek my werk as ontvangsdame by ’n algemene praktisyn se spreekkamer verloor. Maar God het op ’n wonderlike manier voorsien. Aan sy goedheid is daar werklik geen einde nie.
Op 11 Februarie 2022 is Liza na ’n rehabilitasiehospitaal in Bloemfontein oorgeplaas. Daar het sy drie maande lank aangesterk. Sy moes weer leer loop en het elke dag fisio-, spraak- en arbeidsterapie ontvang. Sy het wonderbaarlik herstel. Dit was net genade!
‘Ek het ook geleer …’
Terwyl ’n mens in ’n groot worsteling betrokke is, sien jy nie altyd die groter prentjie nie. Soms voel jy so alleen … En dikwels ís jy, want die lewe gaan voort en die mense in jou omgewing bly aan die beweeg. Tog besef ek nou dat ek nooit alleen was nie, dat die Here altyd by my was.
Ek wou in beheer wees, ek wou alles “regmaak” – dit is seker maar ’n moederlike instink – maar die hele situasie het my magteloos gelaat. Ek het wel geleer dat dit soms goed is om so op jou knieë te wees, want dis wanneer jy die naaste aan God is. Dis waar jy behoort te wees, naby sy voete, voor sy aangesig. Waar jou vertroue in Hom ’n werklikheid word.
Ek het ook geleer dat God altyd in beheer is, en dat geloof ’n werkwoord is wat elke dag ingeoefen moet word.
Ná byna twee jaar se deurlopende terapie, enorme mediese onkoste, en ’n wipwa-rit vol emosionele pyn is ons vandag steeds staande danksy ons geloof, en danksy God se goedheid en guns. Ek kan vandag daarop terugkyk en sien hoe Hy alles ten goede laat meewerk het. Hy het daardie dag opdrag gegee dat sy engele my kind beskerm.
My kind se pad na herstel is nog nie voltooi nie, maar God het dié ellende gebruik om haar lewe soos handomkeer te verander, alles ten goede.
Dit mag dalk na ’n teenstrydigheid klink, maar ek is daarvan oortuig dat die ongeluk wat byna haar lewe gekos het éintlik haar lewe gered het. Sy het steeds letsels aan haar liggaam, ja, maar sy sê self dis “goeie” letsels, dit herinner haar aan wat God vir haar gedoen het.
Sy leef elke dag saam met pyn, maar sy leef in dankbaarheid. Dit wat regtig saak maak, is beter en sterker as ooit tevore.
- Rothea Krige (52) en haar man Arie woon in Bloemfontein. Sy het tot in 2020 haar eie onderneming bestuur en sy werk deesdae as ’n verkoopsagent en bemarker. Sy het twee kinders, Liza (27) en Pieter (23).
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.