DEUR SIMONE GAUCHE
Dis die tyd van die jaar wat ’n mens leeggetap kan voel. Nog net drie maande van die jaar oor, maar Kersfees en die Desembervakansie voel eeue ver. Jy weet dalk nie hoe jy die einde van die jaar gaan bereik nie. Daar het dalk moeilike omstandighede oor jou pad gekom en dit voel of daar geen uitkoms is nie.
LEES OOK: Dit verg moed om ná ’n mislukking op te staan
In 2 Konings vind ons die verhaal van ’n weduwee wat net so wanhopig en desperaat voel. Sy wend haar tot Elisa in haar nood. Sy is in skuld gedompel en uitgelewer aan skuldeisers. Sy gaan haar kinders verloor. Sy voel daar is geen uitkomkans nie en is moedeloos. Elisa antwoord haar: “Ek sal jou help. Sê vir my: Wat het jy in jou huis?” (2 Kon 4:2).
Elisa verskuif die arme weduwee se perspektief na wat sy tot haar beskikking het. Met een vraag word sy gedwing om na binne te kyk. Elisa weet wat die weduwee nog moet leer, dat die Here wil vermenigvuldig dit wat sy reeds het.
God het ons almal op ’n unieke wyse geskep. Ons het elkeen unieke sterk- en swakpunte. Hy het nie iets uit die nuut uit laat verskyn vir die weduwee nie, maar gebruik wat Hy haar reeds gegee het.
Ons is in ons nood so geneig om te fokus op wat ons kortkom, dat ons vergeet wat ons wel het. Die Here wil woeker met wat jy het. Dink byvoorbeeld ook aan die gelykenis van die muntstukke.
Jy het dalk nie krag of energie oor nie, maar dalk het jy deursettingsvermoë of veerkragtigheid in oormaat ontvang. Of jou geloof is dalk uitgeput, maar jy kan darem nog hoop. Jy is dalk ongeduldig, maar kan vertrou op God se plan vir jou lewe.
Die weduwee antwoord: “Ek het niks in die huis nie behalwe ’n erdekannetjie olie” (2 Kon 4:2).
Die weduwee het niks anders om te gee nie, maar dít wat sy het, is genoeg om mee te werk.
Ons ken die storie verder. Elisa gee haar opdrag om leë kruike by haar bure te gaan leen. Sy enigste voorwaarde dat sy net nie te min kruike moet leen nie! Sy moes olie in die kruike gooi uit haar eie erdekannetjie.
Ek wonder wat sy gedink het gaan gebeur met die kruike as sy die olie daarin gooi. Het sy gewonder of die bure vir haar iets sou insit en dat die les moet wees om op ander se goedhartigheid te vertrou? Sekerlik het haar bure geweet sy kry swaar. Of het sy verwag dat die Here haar eie olie sou vermenigvuldig?
Die oomblik toe die laaste kruik vol is hou die olie op met vloei uit haar kannetjie. Nie ’n oomblik vroeër of later nie. Die Here weet presies hoeveel ons nodig het. Hy sorg vir ons, tot op die laaste druppel. Sy kon die olie verkoop, haar skuld betaal en nog van die oorskot leef.
As die Here vandag vir jou moes vra: Wat het jy in jou huis? Wat sou jy antwoord? Sou jy ook lank moes dink en eers fokus op hoe min jy het, voor jy sien wat wel in jou huis is?
En hoe sou jou lewe anders wees as jy sou ophou vra vir dit wat jy nie het nie, en vir die Here begin vra om dit te gebruik wat jy wel het?
So is dit dikwels die geval met ons gelowiges; agter toe deure in die privaatheid van ons huis gebeur wonderwerke, wanneer God juis dít gebruik wat ons alreeds het. Dit wat ons met die eerste oogopslag glad nie raakgesien het nie. Dit wat ons as onbelangrik beskou het.
Kom ons dank God vir elke vol kruik in ons huis en rus in die wete dat dit net genoeg is!
Lees gerus weer die verhaal van die weduwee se kruik in 2 Konings 4:1-7 en luister ook sommer na wyle Lucas Maree se mooi toonsetting van die verhaal “Die weduwee se kruik” uit 1996.
- Simone Gauche is ’n ma en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.