DEUR FRANCINE PRINS
Ek mis die tussen-in-plekke.
Ek mis die rit werk toe en die gesigsuitdrukkings van voetgangers langs die pad, doelgerig op pad iewers heen. Ek mis die vriendelike motoris wat vir my kans gee om by die spitsverkeer aan te sluit, en selfs die ou wat so beknop ry dat g’n mens ’n kat se kans het om voor hom in te druk nie.
Ek mis die geselsies terwyl ons wag vir die kantoor se ketel om te kook. Die vinnige hallo in die gang en die soms verrassend diep gesprekke in ons oopplankantoor. Ek mis die terloopse geselse (en die uitasem wees) op die drie stelle trappe van ons kantoorgebou.
Ek mis daardie tussen-in-plek wanneer ek uit my kar klim om die motorhek toe te maak, en ’n buurman buite is, en ons mekaar met ’n “lekker werk!” groet.
Ek mis dit om in rye te staan voor ’n badkamer tydens ’n groot konsert. Daardie tussen-in-plek waar iemand sommer so ongevraagd haar lewenservaring of ’n stukkie wysheid deel.
Ek mis die lughawe en oorvol vulstasies oor ’n langnaweek. Ek mis dit om ’n mandjie te pak met ons vleis en drinkgoed vir ’n bring-en-braai.
Ek mis die spontane tussen-in-plek waar ek ’n sekuriteitswag of ’n karwag of ’n kassier se glimlag kan sien – om haar mond en nie net in haar oë nie. Ek mis dit om vir vreemdelinge te glimlag.
Ek mis dit om by die kerkdeur in te stap sonder om te stop vir saniteerder en koors meet. Ek mis daardie halfminuut voor kerk begin, en ons mekaar met ’n drukkie mag groet. Ek mis kerk met mense.
Ek mis die tussen-in-plekke van vroeër. Daardie plekke waar die lewe afgerond word. Daardie plekke waar ons ryk word, en wys word, of soms sommer net ons kop skud. Ek mis die tussen-in-plekke, maar bo alles mis ek die tussen-in-mense.
Francine Prins is redakteur van LiG se gedrukte tydskrif en sosiale media. Volg haar skryfwerk by #weeslig en #francineprins