Wat beleef jy wanneer een van jou nabymense aan selfdood sterf? En hoe dra jy die rousmart met jou saam? Wat van die “skande”? En die idee dat dit sonde is? Sal jy ooit weer voluit kan lewe? Hier vertel twee mense hul storie. Hulle het dié soort kwelvrae, en talle ander, eerstehands ervaar.
Sterf iemand wat jy liefhet, kan die skok, verwarring, hartseer en ander gevoelens jou verswelg. Wanneer jy jou geliefde aan selfdood verloor, maak dit die rouproses nóg ingewikkelder. Jy ervaar nou ook onmag, woede, skuldgevoelens, verwyt, onbeantwoorde vrae – asook intense trauma vanweë die gewelddadigheid wat dikwels met dié soort sterwe gepaardgaan.
Hoe oorleef jy só ’n ingryping in jou menswees?
LEES OOK: Selfdood: 2024 se mees gelese getuienis ontlok oorweldigende reaksie
‘My man met die sagte gees’
In Mei 2020 het die maatskaplike werker en internasionale Emotional Logic- opleidingskonsultant Annette de la Porte se predikantman André sy lewe geneem. Depressie was reeds 35 jaar lank deel van hul lewensreis.
Sy vertel: “My man met die sagte gees en hartlike lag is destyds grensoorlog toe gestuur as kapelaan in die mediese korps. Vanweë posttraumatiesestressindroom kon hy van die eerste drie maande daar niks onthou nie.
“Sy eerste major depressiewe episode in 1985 is gekenmerk deur vinnige gewigsverlies. Daar is spoedig antidepressante vir hom voorgeskryf en hy het berading ontvang.
“André is vir die res van sy lewe deur depressiesimptome geteister. Sy briljante brein het vir hom soos ’n bol watte gevoel. Maar hy het die gebrek aan konsentrasie en dryfkrag met groot selfdissipline bestuur. Hy het twee nieregeringsorganisasies gestig.
“Sy lewensmissie was pastorale berading in hospitale. Maar die verantwoordelikheid om finansies te genereer om salarisse te betaal was oorweldigend. Ek het geïnspireer, ondersteun en aan redes gedink om elke dag te vier.
“Aan die einde van 2018 het André ’n doodswens ontwikkel. Hy het een kilogram gewig per week verloor, totdat hy oplaas in ’n kliniek opgeneem is. Hy wou nie sterf nie; hy wou net gaan slaap en nie weer wakker word nie.
“Hy het begin om selfdood te oorweeg. In ’n naelbytsessie wat ons saam met sy kliniese sielkundige deurgebring het, het hy vir 45 uit die 50 minute nie kans gesien om te onderneem om die deur op hierdie uitkomkans toe te maak nie.
“Groot was my verligting toe hy in die laaste vyf minute sy rug vir hierdie afgrond kon keer.
“Ek het egter besef dat ek kon liefhê en ondersteun, maar dat ek daarmee vrede moes maak dat ek nie namens hom kon kies om te lewe nie.”
‘’n Duidelike beeld voor my oë’
“Toe kom die pandemie: vlak vyf se gegrendelde deure. André het sy drie weeklikse sessies in die gimnasium intens gemis. In die laaste twee jaar van sy lewe het hy slegs gedurende daardie 90 minute se oefentyd werklik ‘lewendig’ gevoel.
“Maar sonder die aktiewe serotonienvervaardiging was dit vir hom soos om eensklaps slegs die helfte van sy medikasie te gebruik.
“Opleiding was ’n belangrike bron van inkomste vir sy organisasie. Maar toegang tot die hospitaal was verbode. Hy moes dus ander planne beraam om die studente te help om hul praktiese ervaring te kon opdoen. In die week voor sy dood moes alle opleiding na ’n Zoom-platform verskuif.
“Die geboorte van ons eerste kleinkind was ’n bron van groot vreugde, maar weens die isolasiereëls kon ons haar slegs op ’n selfoonvideo sien. In hierdie stadium het André geen liggaamlike simptome van depressie getoon nie.”
“As maatskaplike werker het ek ’n permit gehad om tydens grendeltyd rond te beweeg. Op pad terug van ’n vergadering het ek by ’n verkeerslig gestop. Skielik het ek ’n duidelike beeld voor my oë gesien van André wat dood is.
“Ek het in trane uitgebars en gevra: ‘Here, wat sê Jy vir my? Sê Jy vir my dat hy nou sy eie lewe geneem het?’
“God het my met ’n sagte ‘ja’ geantwoord.
“Ek het tussen my trane deur huis toe gery. Hierdie waarskuwing van die Here het my gekussing toe ek tuiskom en hom daar kry, presies soos in my visie.
“Daar was ’n atmosfeer van verligting en Goddelike vrede in die vertrek. Ek het my hand op André se knie gesit en drie dinge gesê: Ek kies om jou te vergewe. Ek stem nie saam met jou keuse nie; ek gun jou wel die outonomie daarvan, want ek ken die omvang van jou lyding. Geniet die vreugde van God se tasbare teenwoordigheid waarna jy so gehunker het. Hier is Matteus 25:23. Gaan in, in die vreugde van jou Here.”
‘My rou emosies’
“André se dood was ’n aardbewing wat die tektoniese plate van my menswees verskuif het. My kennis van emosionele logika het my toegerus om my emosies te verstaan en te respekteer. Ek het besef dat die manier waarop ek rou my kan vernietig óf kan vernuwe.
“Dit was vir my terapeuties om die eerste jaar weekliks te blog. Ek en ons dogters, albei maatskaplike werkers, het mekaar in ’n weeklikse video-oproep ondersteun.
“In die tweede jaar ná André se dood het ek vir myself ’n ‘hermit permit’ uitgereik om te rou. Ek het elke week ’n gebedsgroep bygewoon en saam met my beste vriende ’n maaltyd genuttig. Ek het nie my rou emosies weggestoot of ontken nie, maar dit ervaar, dit aktief beleef.
“Die ondersteuning van ’n berader was ’n noodsaaklike deel van my heling. Na afloop van die tweede jaar het ek my ‘hermit permit’ opgeskeur en in ’n veilige binnekring begin sosialiseer.”
Is selfdood sonde?
Annette antwoord: “Om self jou lewe te beëindig is nie ’n logiese besluit nie. Die familie se pogings om by ’n ‘hoekom?’ uit te kom, kan hulle verhoed om vrede te maak.
“Ek is daarvan oortuig dat die verlossing wat Jesus vir ons aan die kruis gekoop het nie vernietig kan word deur die laaste daad van iemand wat Hom innig liefgehad het nie.”
Vir dié wat agterbly …
“Ek is ’n weduwee. My man is oorlede. Aan selfdood.”
Só skryf die bekroonde vryskutjoernalis en skrywer Riette Rust in haar boek Die geskenk: Liefde, selfdood en dieper leef (Tafelberg, 2024). Hierin vertel sy haar lewensverhaal en beskryf haar liefde vir haar gesin. Én die verwerking van haar man JD se selfdood.
Die boek is ook ’n praktiese gids vir die naasbestaandes se rouproses. Daarin verwoord Riette onder meer ’n hele spektrum gevoelens wat in dié omstandighede normaal is:
- Vrees. Juis ’n vrees vir depressie, veral indien jy reeds daaraan ly; vir Alzheimer se siekte, omdat die skok van selfdood jou geheue, konsentrasie en besluitnemingsvermoë aantas. Dan is daar die vrees dat die dood weer by jou sal aanklop; dat kommunikasie rakende jou geliefde ander mense se smart sal vererger. Daar is die vrees vir ondraaglike hartseer, finansiële bestuur en administrasie, en vir die aanpassing by die rolle in die gesin wat nou verander het.
- Skaamte en seer. Daar kleef steeds ’n stigma aan selfdood. En daar is pynlike vrae, soos: “Wat was dan fout in ons huwelik?”
- Skuldgevoelens. Is jý die oorsaak van jou geliefde se selfdood? Vrae soos “Moes ek nie …?” kan jou treiter tot daar later niks van jou oorbly nie.
- Isolasie. Jy sien régtig nie kans vir mense nie, dalk nie eens familielede nie. Jy verloor jou plek in bepaalde sosiale groepe, soos by jou man se oudkollegas en gemeenskaplike vriende.
- Verwerping. Jy voel verwerp, al weet jy jou geliefde het niks van dié aard bedoel nie.
- Teistering. Herhalende gedagtes kan jou so angstig maak dat jy paniekaanvalle beleef.
- Hulpeloosheid en hopeloosheid. Jy voel, byvoorbeeld, onveilig in jou huis.
- Woede. Selfdood kan voel soos ’n aanval wat op jou gemik is, en dit kan tot intense woede lei.
- Verligting. Jou geliefde is vry van fisieke en psigiese pyn.
- Intense verlange. “As ek nog net een aand saam met hom kan hê …”
- Traumatisering. Riette beskryf die verskillende aspekte van haar eie trauma, insluitend om op haar man se liggaam af te kom, die skakeling met die polisie, en “empatiseerders” se indringende vrae.
In haar boek verduidelik Riette hoe sy geleer het om al hierdie emosies te benader. Bowenal is dié boek ’n bewys dat dit moontlik is om weer voluit te leef, selfs al het die ondenkbare gebeur.
Is selfdood sonde?
“’n Ontstellende aantal mense reken dat selfdood sonde is en maak dan veroordelende uitsprake daaroor,” sê ds Braam Klopper, predikant en pastorale terapeut, wat in die rouproses spesialiseer.
“In die meeste gevalle is depressie die oorsaak vir selfdood. En dit is dikwels die gevolg van ’n chemiese wanbalans in die brein, wat ’n bepaalde persoon se denke so kan beïnvloed dat hy of sy geen uitweg sien nie; daar is eenvoudig geen oplossing vir hul probleme nie. Dan word die dood gewoonlik as die enigste oplossing geïdealiseer.
“Natuurlik is selfdood ’n keuse. Maar indien dié mens depressief is, is dit nie ’n realistiese of normale keuse nie.” Oor “selfdood-as-sonde”, sê Braam, moet die volgende in ag geneem word:
- Die Hebreeuse woord wat in die Tien Gebooie gebruik word om die neem van ’n lewe te verbied, is nie die woord wat gewoonlik vir doodmaak gebruik word nie. Die sesde gebod moet eintlik só vertaal word: “Jy mag nie doodmaak met kwade bedoelings of uit wraak nie.”
- In die gemenereg word die term “nietoerekeningsvatbaarheid” gebruik. Dit geld vir wanneer ’n lewe geneem word en die oortreder verkeer, emosioneel of sielkundig gesproke, in so ’n onstabiele toestand dat die staat reken dié persoon kan nie tot so ’n mate verantwoordelik gehou word vir die daad as wat die geval sou wees indien daardie omstandighede of faktore nie teenwoordig was nie.
- Indien jy hoegenaamd iets weet van die emosionele, sielkundige en chemiese faktore wat gewoonlik ’n rol in selfdood speel, sal jy nooit onoordeelkundige en onverantwoordelike uitsprake maak nie.
- Ons mag in elk geval nie oordeel nie. Slegs God ken die totaliteit van die omstandighede wat tot so iets lei. En genadiglik sal slegs Hy ’n oordeel vel.
Ons kenners
Annette de la Porte (Yzerfontein). Besoek www.growwithannette.co.za of e-pos haar by annette@growwithannette.co.za
Ds Braam Klopper (Kemptonpark). Besoek www.braamklopper.co.za of e-pos hom by ngkemptomparkoos@gmail.com
Riette Rust (Kaapstad). Besoek www.rietterust.co.za om haar boek te bestel. Dis ook by alle boekwinkels beskikbaar.