DEUR FRANCINE PRINS
Toe ek my hande oopvou en die verskrompelde roosblare daar sien lê, het ek dit van voor af besef: Die lewe is gemaak om liggies vasgehou te word.
Al daardie roosblaartjies wat saggies in hande vasgehou is, is baldadig uitgestrooi oor die twee mense wat ons wou seën. Met ’n sierlike gooi het ons in die bruidspaar se vreugde en liefde gedeel. Maar vir eers was dit elkeen van ons as getuies se taak om daardie blare met ’n effense oop hand vas te hou.
LEES OOK: Ons kan saam praat
Ons almal leef met die wete dat ons lewe ons eie is. Dat ons daarmee kan woeker – planne beraam, doelwitte stel, die lewe ten volle lééf. Ons kan besluite neem wat ons lewenskoers verander, ons kan stappe neem wat ons lot bepaal. Maar tog is dit nie die volle prentjie nie.
Ons leef ook met ’n wete dat ons lewe nie net ons eie is nie. Dat ons binne ’n groter prentjie pas, dat ander mense deur ons lewe geraak word. Dat ons lewe op ’n manier aan ander behoort, maar eerstens aan God. Dat dit inderdaad Hy is wat ons lewenskoers bepaal, dat dit Hy is wat ons lewe onderhou, en dat Hy in werklikheid die Een is wat ons hierdie lewe gee.
LEES OOK: Ware liefde
Die lewe is broos én opwindend. Dit bring vreugde soos konfetti oor ’n verliefde paartjie, én gee verdriet soos ’n verlepte blom. Soms wil jy dit met alles in jou vasgryp, en ander kere wil jy dit net laat lós.
Maar geseënd is dié wat onthou om liggies vas te hou aan hierdie lewe. Want hulle sal die wonder ken om in ander se vreugde te deel. Hulle sal ook die vertroosting van gedeelde smart beleef. En bo alles, sal hulle die diepe genoegdoening smaak van ontvang by die Een wat seën en sorg en onderhou. Ja, met ’n oop hand en ’n bly hart sal hulle gee én ontvang.
- Francine Prins is redakteur van LiG se gedrukte tydskrif en sosiale media. Volg haar skryfwerk by #weeslig en #francineprins