Twee vriende pak ’n staproete van die Koue Bokkeveld oor Katbakkiespas, deur die Swartruggens-bewaargebied, tot waar die Karoo voor jou voete tot in die verte uitrol …
DEUR LE ROUX SCHOEMAN
Met die eerste dag se stap is alles in oorgang: teerpad word grondpad, boorde word sandsteenklipformasies, los gedagtes word vaste tred, sterk selfoonsein word een strepie, vlakte word bergpas. Katbakkies met sy haarnaalddraaie wat jou oplig na die punt waar jy kan terugkyk oor die Kouebokkeveld en die Cederberge.
Ek en ’n vriend stap van min of meer nêrens na presies nêrens. Ons oornag by ’n voëlkykplek in die Ceres-Karoo, en daarna frommel ons die toeristekaart op en durf ’n rits plaashekke op ’n stuk privaat grond aan. Teen skemer slaan ons tent op in ’n laagte langs Pretty se kliphuis, waar ons by ’n groter groep stappers en kampeerders aansluit.
My medestapper, Alex Clark, dra vele hoede. En op die twee agtereenvolgende weeksdae van ons staptog het hy hulle almal nodig teen die meer as 30°C-son. Alex is die leraar by die NG gemeente Op-die-Berg, tussen Ceres en Citrusdal. Hy is ook ’n langafstandatleet met ’n tros maratonwedloopmedaljes wat die pastorie versier. En hy is ’n vriend uit my studentedae, meer as twee dekades gelede.
Dit was Alex se voorstel dat ons van net buite sy tuisdorp oor Katbakkiespas stap, deur die Swartruggens-bewaargebied, tot waar die Karoo voor jou voete tot in die verte uitrol. ’n Mengsel van kop skoonmaak en gewoon bene rek, vermoed ek.
Maar ek vra nie juis uit toe ons die plan vooraf oor die foon bespreek nie. Ons het immers al vreemder dinge saam aangepak – soos ’n reis van Bethlehem in die Vrystaat na Betlehem in die Midde-Ooste. Asook ’n millenniumwisseling op ’n robvangstasie in Namibië.
’n Tweedag-padstap het na ligte musiek geklink.
Op die trekpad
Daar is ’n mooi kultuurstorie aan die roete wat ons stap, en dis een wat Alex en ’n groep lidmate in sy gemeente elke jaar geesdriftig op hul kerkkalender merk: Dis naamlik die roete wat boere in die dae voor skaaplorries gebruik het om kuddes veldlangs en te voet na weiding en meer gematigde weer te neem. Sommige jare stap tientalle gemeentelede die hele roete en oornag sommer langs die pad, terwyl daar stories uit daardie dae vertel word.
Vanjaar werk die ding ’n bietjie anders: Die gemeente vergader op die Karoo-plaas wat aan Theron Hanekom se familie behoort, stap sommer daar ’n paar dagroetes en klim ’n uitkykpunt.
Theron en sy vrou Aletta bedryf Oppi Berg Spyseniers en is op vele maniere die hart, siel en maag van die operasie. Dit was jare gelede Theron se droom om die trekpad weer onder ’n jonger geslag se aandag te bring, maar ook om die geestelike sy van veldstap met ander te deel. Vandag is dit ’n gebruik in dié gemeente.
Maar voor ons by Theron, Aletta en hul span se roosterkoeke kom, moet ek en Alex op eie houtjie teen Katbakkies uit. En weer neerdaal tot in die Karoo vir hierdie “voorwedstryd” wat ons vir onsself gereël het, voor vanjaar se gemeentesaamtrek op Theron se plaas amptelik begin.
Dag 1 was pynloos. Dis wel meer as 27 km, maar darem met ligte rugsakke. En ons kry ’n saamrygeleentheid toe die skemer ons anderkant Pramberg vang.
Vroegaand skuif ons die hek by Hartnekskloof oop, waar gaste in stylvolle eenvoud deur Susan de Kock en Jean Theunissen getrakteer word. Tot 18 mense kan op ’n slag hier oornag, en met meer as 4 500 hektaar tot jou beskikking is daar g’n kans dat “social distancing” in die gedrang sal kom nie.
Die plaas is gewild onder vele soorte reisigers, maar veral voëlliefhebbers kom hierheen. Vir alles, van arende (witkruis) tot sysies en ander seldsame soorte wat die leke-oog sal miskyk, vertel Susan ons die volgende oggend tydens ontbyt.
Jean spits haar toe op haar boerbokstoet en 11 perde. Sy reël veldritte vir besoekers wat nie die geduld vir verkykers en voëlgidse het nie.
Ná koffie, spek en roereier trek ek en Alex weg. Dis Dag 2.
Ons is vroegdag al verby die gewilde Tankwa Padstal op die R355 tussen Ceres en Calvinia. Daarna draai ons af. Ons eindpunt lê nog meer as ’n maraton ver.
Die son is nou reg bo ons, en die gesprek tussen my en Alex droog op. Hy beplan ’n herbesoek aan die Camino-pelgrimsroete in Spanje, asook ’n aanslag op die Comrades wat vanjaar in die Covid-hek geduik het. Dalk dink hy aan dié dinge so in die stap …
Of, soos ek, aan daardie deurglipgedagtes wat ’n mens nie sommer gekeer of afgeskud kry nie, al stap jy ook hoe ver en hoe alleen.
Ons het genoeg padkos en water, en ten minste Alex het genoeg stamina. Maar hier rondom die 27 km-merk klink die gekletter van ’n voertuig wat ons skielik van agter nader vir my té aanloklik. Ek gooi duim.
Vier gemoedelike dames pik my op in ’n sportnutsvoertuig, met Neil Diamond wat uit luidsprekers sing wat toegepak lê onder kamptoerusting. Ons is almal na dieselfde plek op pad. En ons verlaat Alex, wat eers ’n uur later ’n optelvoertuig sou ontbied.
Pretty se plek
Terwyl ek en Alex laatmiddag in ons onderskeie tente herstel, lê en luister ek hoe sy Op-die-Berg-gemeentelede stuk-stuk by die plaas opdaag. Hoe hulle met tentpenne in keiharde grond sukkel, te midde van ’n wind wat nou begin seile oopruk.
Ek stap na die plaashuis waar Theron en die kosspan aan ’t werk en onthaal is. “Maak tog ’n draai by Pretty se huis,” raai Theron my aan, en beduie na ’n koppie sowat 500 meter van die kombuis.
Ek stap tot daar, en tref ’n bouval met ’n storie aan. Dié plek is na ’n plaaswerker met die bynaam “Pretty” vernoem. In die plaashuis is daar ’n dowwe foto teen ’n muur waarop wyle Pretty by twee ander mans staan, maar van die enigmatiese Pretty weet ek nie veel meer nie.
Tog voel ek meteens asof ek inbreuk maak hier in sy woning van klip, steen en sement. Dakloos. Halwe deur met babablou verf. ’n Lae dog gemaklike sitplek voor ’n vuurherd wat met klippe gevul is. Enkele balke strek nog oor die smal ruimte van muur tot muur.
En as jy ’n oomblik binne Pretty se huis gaan staan en omkyk, doen die venster daardie ding wat bouval-vensters mos altyd doen: Dit raam vir jou die Karoo in een sekonde, en op ’n manier wat jy nie tydens ’n ganse dag se kyk self kon doen nie.