“Baie mense vra vir my is hulle álmal my kinders?”
So vertel Katie van Loggerenberg oor mense se vrae wanneer hulle haar en haar man Hennie en hulle vyf nie-biologiese kinders ontmoet.
“Ja, hulle is almal myne,” is altyd Katie se antwoord.
Want, sê die Van Loggerenbergs: “Ons kinders is suiwer, van bo tot onder, ons kinders. Dit was ons keuse, ons besluit.”
Hulle oudste twee kinders, Nina (12) en Milo (10), is aangeneem en hulle jongste drie seuntjies – Jaden en tweeling Stefan en Dewan – is by hulle in permanente pleegsorg tot hulle 18 jaar oud is.
Die reis die afgelope paar jaar was soms rof met so baie kinders in die huis, maar Katie en Hennie beaam dat hulle albei weer presies dieselfde reis sal aanpak.
Volgens Katie sal baie ouers steeds die begeerte hê om biologiese kinders te hê. “As jy my nou die kans gee om swanger te word, sal ek sê ‘Asseblief, nee’. Nie omdat dit nommer ses sal wees nie, maar omdat ek heeltemal vervuld is.”
Vir Hennie is die afgelope paar jaar uit die Here se hand. “Sal ek dit weer doen? Ja, absoluut. Want ons het die potensiaal en geleentheid om vir weeskinders ’n huis te gee,” sê Hennie.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.