Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide

‘Hy is na aan dié met ’n gebroke hart,’ getuig Kaapse vrou ná boodskap oor radio genesing bring

Ek het al dikwels gehoor hoe getroude mense skerts en sê: “Ek is gelukkig – en jy is getroud.” Wel, ek was al twee: Ek was gelukkig getroud.

Ek het egter nie geweet my man was nié. Hy het sy geluk gedurende kantoorure buite die huwelik gaan soek – by kollegas, by kliënte, by prostitute, by pornografie.

‘Die seer het deur my gesny’

Een Sondagaand in Augustus 2013 het die Here dit in ’n droom aan my geopenbaar. Dit het gelyk soos ’n metaforiese verhaal uit die Bybel waaruit ek nie veel sin kon maak nie.

LEES OOK: ‘Hy is ’n God van wonderwerke,’ sê 70-jarige vrou wat nie ouer as 16 sou word nie

Die eerste woorde wat daardie oggend uit my mond gekom het, was nie, soos gewoonlik, “goeiemôre, Baby” nie; dit was: “Sal jy ’n poligraaftoets laat doen?”

Tot vandag toe glo ek dat ek nie self dié woorde geuiter het nie.

Maar nadat hy geskok en verward daartoe ingestem het, het ek die Maandag reëlings getref dat die poligraaftoets die Donderdagaand seweuur  sou plaasvind. Ek het hom daarvan in kennis gestel.

Ek het my man nog nooit so kwaad gesien nie. Daardie Maandagaand was die eerste keer, en ek het geweet ek moet dadelik die huweliksbed verlaat.

Ek het die dae om gehuil, ek het smekend voor God gestaan. Daardie  Woensdagaand  het ek Hom gesoebat dat my tyd ook sý tyd sou wees, en dat my man dié aand alles aan my sal openbaar vóór die poligraaftoets die volgende aand.

Ek het ook gebid dat al sy engele voor my mond geplaas moet word. Dat ek nie ’n woord sou uiter nie, dat ek slegs sou luister.

En so was dit toe. Ek het alles gehoor, en ek het gevoel hoe my hart met elke onthulling behoorlik aan flarde geskeur word.

Die seer het deur my gesny en ek het maande lank as ’t ware weggekruip. Ek was rou, stom, plat teen die grond, skaam, verstom. Ek het oproepe geïgnoreer, besoeke vermy en myself geïsoleer.

My gebede het nie meer woorde bevat nie, al het dit sonder ophou uit my gevloei. Dit het gevoel asof die Here my straf vir wat my man gedoen het. Hy het skotvry daarvan afgekom en het hom in my pyn verlustig.

’n Dringende boodskap van die Heilige Gees

My vriende het my “Skilpad” of “Skillie” begin noem.

Een Sondag het my kamer se mure te nou geword en ek het gevlug. Sonder om te weet waarheen. Ek sou normaalweg nie op ’n Sondag vir my dogter gaan kuier nie, want dit was hul enigste gesinsdag. Maar sonder dat ek dit besef het, was ek daarheen op pad.

Vriende het my gebel, maar ek het nie geantwoord nie; ek het net na die stemboodskap geluister: “Skillie, ons mis jou. Kom drink koffie.”

Sowat ’n straatblok van my dogter se huis af het ’n omroeper van Radio Tygerberg ’n liedjie onderbreek, om verskoning gevra, en verduidelik dat die Heilige Gees ’n dringende boodskap het vir iemand wat binne oomblikke uit ’n kar sou klim. Ek onthou dit nog woord vir woord: “Ek weet nie vir wie hierdie boodskap is nie, maar dit sal slegs by jóú aanklank vind. Die Here sê: ‘Hou op om soos ’n skilpad te leef. Ek het gesorg dat my kinders op aarde ’n laer om jou trek. Reik uit en vat hul hande. Ek gee jou ’n nuwe hart, ’n hart van vlees en nie van klip nie, ’n hart van liefde en nie van smart nie. Jy is my dogter en ek vang elke traan op. Ek gee jou Esegiel 36:26.’”

Nodeloos om te sê, ek het toe nie met swart maskara-strepe op my gesig by my dogter se huis stilgehou nie, maar in ’n waas daar verby gery, reguit terug na my kamer toe.

Dankbaar, biddend, huilend het ek voor God neergeval. Dit was Hy wat my in my kar geplaas het, wat ’n boodskap deur my vriende gestuur het. Dit was Hy wat geweet het ek staan horende doof en siende blind, en dit was Hy wat op ’n bonatuurlike wyse die boodskap oor die luggolwe tot by my gebring het.

‘Ek loof die Here’

Niks anders het gewerk nie. My pastoor het vroeër alles gedoen wat hy kon, maar my pyn was te groot. Ek het probeer om myself om die lewe te bring, maar die Here het dit nie toegelaat nie. Hy het ’n niksvermoedende vriend gestuur wat daadwerklik ingegryp het. 

En ’n radio-omroeper het, in gehoorsaamheid aan die Heilige Gees, sy werk se reëls oortree en ’n boodskap gestuur sodat die Here my op ’n bepaalde oomblik kon laat weet hoe getrou Hy aan sy Woord is. Dat dit nie leeg na Hom terugkeer nie. Dat Hy na aan dié met ’n gebroke hart is.

Sedertdien was daar nog vele ingrypende wonderwerke in my lewe. Ek word steeds getoets en ek druip steeds van daardie toetse. Maar deur die Here se genade slaag ek die hertoets.

Ek is gelukkig. En ek loof die Here dat Hy genesing gebring het. En dat ek in sy wonders hier op aarde kan deel.

As jy soos ’n drenkeling voel en jou trane jou verswelg – hou vas! Jou Redder is by jou. Al wat Hy vra, is dat jy sy uitgestrekte hand moet neem. Hy sál jou trane afvee, jou uit die oond haal en jou in ’n nuwe, mooier vorm giet. Hy is die Pottebakker; bly jy bloot die gewillige klei.

•          Diana Dalby (54) is die sameroeper van RiseandShineSA. Sy is ’n ouma van twee en ma van drie hondekinders. Sy is lief daarvoor om in haar vrye tyd in die garage te vroetel en ou meubels te restoureer. En sy is passievol daaroor om siele vir Christus te wen. Haar vreugde lê daarin om ander mense met raad en daad by te staan en hulle hoop te gee.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.