Braam Bester van Bloemfontein het ’n geestelike omwenteling ondergaan nadat hy in ’n reuse-motorongeluk was. Sedertdien lyk sy lewe heel anders.
Vroeg op ’n Maandagoggend, 22 Februarie 2016, het Braam Bester saam met ’n vriend van Bloemfontein na Rustenburg gery. Net buite Bothaville het ’n klein bokkie voor die bakkie ingehardloop.
Braam vertel: “Ons het probeer om die bokkie te vermy, maar die bakkie het van die pad af geloop en omgeslaan.” Braam is uit die voertuig geslinger en dit het oor hom gerol voordat dit tot stilstand gekom het. Hy het in die veld gelê, ’n hele ent van die bakkie af.
Sy vriend, wat steeds in die voertuig was en nie ernstig beseer is nie, het hulp ontbied. Braam sê: “Ek onthou nie veel nie, maar ek weet die nooddienste het gesukkel om my te stabiliseer.”
LEES OOK: Sy help by gru-tonele: ‘God gee my beskerming en krag’
Hy is uiteindelik na Mediclinic in Welkom geneem, waar sy destydse vrou en sy vriend se vrou, wat uit Bloemfontein daarheen gejaag het, op hulle gewag het.
“My vrou het my vertel dat sy net ’n bebloede figuur op ’n draagbaar gesien het toe hulle met my daar aankom.”
Die lang pad na herstel
Braam het ernstige beserings opgedoen, onder meer gebreekte bene en ’n gekraakte borskas. “Die ortopediese chirurg het staalpenne en skroewe in my bene geplaas om hulle bymekaar te hou.” Sy toestand was kritiek, en by meer as een geleentheid het die dokters gedink hy sou dit nie oorleef nie.
“Ek het baie van my vel verloor, wat tot gevolg gehad het dat hulle baie wonde nie kon toewerk nie. Daar was altesaam 38 frakture …”
Ná etlike lang weke in die intensiewesorgeenheid is Braam na ’n algemene saal oorgeplaas.
Twee dae later is hy na Mediclinic in Bloemfontein oorgeplaas.
Donker en Lig
Braam sê: “Tydens my verblyf in Mediclinic Bloemfontein het ek begin bid en gevra: ‘Here, hoekom het U dit toegelaat?’”
Hierdie tyd van intense gebed het gelei tot ’n geestelike ervaring wat Braam vir altyd sal onthou. Hy vertel: “Ek het my in ’n donker omgewing bevind, iets soos ’n voorportaal, waar ek God aan die een kant kon sien as ’n Lig vol liefde, en aan die ander kant ’n afskuwelike, demoniese figuur. Ek het onmiddellik geweet dat dit Satan was. Ek het na God geroep om hulp, en Hy het vir my gesê: ‘Jy moet kies.’
“Ek het gesê ek verstaan nie, en Hy het weer gesê: ‘Wie kies jy?’
“Ek het uitgeroep: ‘Ek kies U!’”
God het toe vir Braam gesê dat Satan probeer het om hom uit te wis, maar dat Hy hom beskerm het. Hy het Braam gerusgestel en gesê dat hoewel hy ernstig beseer is, Hy vir sy herstel sou sorg.
“Dit was ’n ervaring wat my altyd sal bybly,” vertel Braam.
God se belofte
In die hospitaal het dit vir Braam gevoel asof hy in ’n geestelike oorlog gewikkel is. Hy vertel: “Ten spyte van die slaapmedikasie was ek nagte lank wakker, en die pyn was ondraaglik.”
Hy sê hy het bloot vasgehou aan sy geloof, en God het hom verseker: “Jy het My gekies; kyk net na My.”
Die tyd in die bed het hom gedwing om op God te fokus en om hom heeltemal aan Hom oor te gee.
God se belofte dat Hy vir sy herstel sou sorg, het Braam laat weier om verdere operasies te ondergaan. Ná ’n paar dae het die dokters self tot die gevolgtrekking gekom dat verdere operasies nie nodig sou wees nie. Sy skouer het begin herstel, en sy wonde sou ook sonder verdere ingryping verbeter.
Ná sy ontslag het Braam se rehabilitasie begin. “Die dokters het gesê dit sal ses tot twaalf maande duur voordat ek weer kan loop, en ek het geweet ek moes hierdie uitdaging aanpak.”
Ná slegs vyf dae in die rehabilitasiesentrum het Braam die dokters gewys dat hy in staat is om self uit die bed in ’n rolstoel te klim, en hy is ontslaan.
Teen Desember 2016 het Braam sy krukke eenkant laat lê en begin loop. Hy vertel: “Alhoewel ek steeds aanhoudende pyn verduur, glo ek vas dat God volle beheer oor my situasie het.” Hy glo sy herstel is te danke aan God se genade en teenwoordigheid in sy lewe.
God se groter plan
Braam het reeds in 2004 ’n stuk grond buite Bloemfontein gekoop. Hy vertel: “Ons het in 2019 water op die plaas ontdek, wat deur die Instituut vir Grond- en Waterstudies by die Universiteit van die Vrystaat getoets is. Daar is bevind dat die water oor baie hoë alkaliniteit beskik en baie elektroliete bevat, asook gesonde, gebalanseerde minerale. Vandag besit Braam ’n maatskappy wat gebottelde water regoor die land versprei.
“Dit is ’n deel van my roeping, want ek weet die Here het ook ’n groter plan met die aanwending van die grond.”
Hy vertel van sy droom vir dié stuk grond: “Ek voel gelei om dit te ontwikkel in ’n plek van samekoms, waar mense kan aanbid en kan stil word in die natuur en in God se teenwoordigheid, sodat hulle sy doel vir hul lewe kan ontdek.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.