Wilma Harris van Pretoria is tien jaar gelede onverwags met limfoomkanker gediagnoseer. Haar huisdokter het haar toe reeds twee jaar lank vir ’n spastiese dikderm behandel. Groot was haar skok toe twee groot kolle in haar buik, ná ’n laparotemie, as kanker geïdentifiseer is.
‘Wat as my ma dit nie maak nie?’
Daar is geen kankergeskiedenis in haar familie nie. Dis nie iets waaraan sy ooit gedink het nie. Maar die diagnose was die begin van ’n baie lang en baie swaar pad vir haar en haar gesin.
Sy vertel: “Die dokters het dadelik met chemoterapie begin. Ek was destyds so onkundig … Ek het nie eens geweet hoe die chemoterapie toegedien word nie. My eerste dag in daardie stoel het met vrees, vrae en trane begin. Maar ek het gou besef dat hiérdie nou my nuwe werklikheid is. En dat ek ’n manier sou moes vind om dit te hanteer.”
LEES OOK: Geen hoop vir baba met breinkanker, maar God hou sy beloftes
Wilma sê sy was nog altyd gelowig, maar die kankerstryd het haar verhouding met God verdiep. “’n Mens besef dat jy so ’n stryd nie alleen kan aanpak nie,” sê sy vandag.
Wilma se man Lesly was in dié tyd haar steunpilaar. Haar twee kinders, Wesley en Rochelle, was vol onsekerhede oor die toekoms. “Wat as my ma dit nie maak nie?” het hulle gevra. Maar Lesly het dit reggekry om almal rustig en kalm te hou.
Wilma het op die behandeling gefokus en was verlig toe die eerste sarsie chemoterapie agter die rug was. “Rochelle het tydens my laaste sessie ’n plakkaat gemaak waarop gestaan het: LAASTE CHEMO. Ons was almal daarvan oortuig die kanker is in remissie.
“Ek het ná ’n PET-skandering by my onkoloog se spreekkamer ingestap, reg vir ’n welverdiende vakansie. Gereed om my lewe terug te neem, om al die verlore tyd in te haal. Ek het geglo die ure en ure se chemoterapie en al die morfienplakkers vir die pyn was vir altyd agter die rug.”
Maar hoewel die gewasse, wat elk so groot soos ’n man se vuis was, met 70% gekrimp het, was die verdere nuus nie goed nie. Daar was geen ander opsie as nog ’n ronde chemoterapie nie. “My moed het in my skoene gesak. Ek het gebid, geskree, gesmeek: “Hoe nou, Here!”
Ná ’n wegbreekkans het Wilma weer met chemoterapie begin. Dié keer was dit strawwer en haar hare het begin uitval. Sy vertel: “My gesig was bloedrooi en ek was koeëlrond van die kortisoon. Ek was baie sieker as die eerste keer, en moeg, en naar. Daar was sere in my mond. Jy proe die chemikalieë in jou mond, en niks smaak meer lekker nie.”
Telkens by die dood omgedraai
Wilma se dogter het dié keer nie ’n plakkaat aan die einde van die siklus gemaak nie. Wilma sê: “Ons het die afgelope paar maande geleer kanker volg sy eie kop.”
En hoewel Wilma gehoop het dat die kanker nou in remissie sou wees, het sy dadelik op haar onkoloog se gesig gesien dat dit nog nie die einde van haar stryd was nie.
Die onkoloog, dr Rochelle Marais, het trane in haar oë gehad en net haar kop geskud. Die uitslae het getoon dat die kanker na haar nek, haar lieste en ongeveer haar hele liggaam versprei het. Sonder verdere behandeling sou sy nie die einde van die jaar haal nie.
“Derdelyn-chemoterapie het my amper ondergekry,” vertel Wilma. “Dit was geweldig intens.”
Wilma was daardie jaar, waarin sy ook 50 geword het, altesaam ses maande in die hospitaal. “My bloedplaatjie- en hemoglobien-vlak het só gedaal dat ek nie eens alleen badkamer toe kon gaan of self kon bad nie. Ek moes gedurig nuwe bloed en nuwe bloedplaatjies kry, omdat my liggaam dit nie vinnig genoeg kon vervaardig nie.”
Sy het ook twee keer sepsis opgedoen en telkens by die dood omgedraai.
Daar was ’n obstruksie in haar derms en sy moes binneaarse voeding ontvang om te oorleef.
En te midde van al dié komplikasies het die poort verstop waardeur die chemoterapie toegedien is. ’n Ander een moes aangebring word.
‘Ek kan nie meer nie; my lyf is gedaan, maar ek weet U kan …’
In dié tyd het iemand vir haar Johannes 11:4 gestuur, wat só lui: “Hierdie siekte sal nie tot die dood lei nie …”
Sy vertel: “Ek het hierdie Bybelvers oor en oor gesê, en God bly herinner aan sy belofte dat ek nie aan hierdie siekte sou sterf nie. Dit was ’n lang, moeilike pad, een wat ek nooit weer wil oorhê nie. Ek was gedurig siek, en feitlik bedlêend. Ek het net bly sê: ‘God, ek kan nie meer nie; my lyf is gedaan, maar ek weet U kan …’
“Soms wou die twyfel in my binneste kom nesskop en my wysmaak dat alles verby is, dat ek moet begin afskeid neem van my geliefdes.
“Maar my man, my familie en vriende, en God, het my deur 2016 gedra.”
Uiteindelik was daar goeie nuus: Wilma se vierde PET-skandering het gewys dat die kanker in remissie is. Dr Marais het haar as haar wonderwerk-pasiënt bestempel, en gesê: “Niemand kom terug van waar ek jou gaan haal het nie.”
Dit was egter nie die einde van Wilma se stryd nie. Die kanker was aggressief, en hoewel dit in remissie was, was die kanse baie goed dat dit sou terugkeer. Die enigste oplossing was ’n stamseloorplanting. Sy moes as ’t ware haar lyf met ’n nuwe DNS “reboot”.
Stamselle vir sy suster
Wilma se broer Charles het, ná vele toetse, geblyk die ideale skenker te wees. Hy het nie geskroom om dit vir sy suster te doen nie. Hulle is al twee in Pretoria-Oos-hospitaal opgeneem, en Wilma het aangemeld vir sewe dae se intense chemoterapie. Al die relevante bloedtellings moes so laag moontlik wees.
Daarna het die dokters begin om nuwe stamselle binneaars toe te dien. Die behandeling het haar, liggaamlik gesproke, weer tot die uiterste toe beproef. Sy vertel: “Ek was baie, baie siek. Ek kon niks binne hou nie en het weer eens al my hare verloor.”
Maar die isolasie was vir haar die ergste. Sy sê sy sukkel van nature om stil te sit; sy loop graag rond – maar in dié tyd is sy tot twee vertrekke in hul huis beperk. Sy kon nie vars groente en vrugte eet nie; haar man moes alles vir haar stoom.
Die isolasie het byna twee maande geduur. Almal wat kom kuier het, moes ’n masker dra. Dit was lánk voor Covid-19 …
Wilma sê sy het verbete vasgeklou aan Johannes 11:4 en God elke dag aan sy belofte herinner.
Sy sou dié moeilike tyd ook nie sonder Lesly en haar gesin kon oorleef nie. “My liefste man het my gevoer wanneer ek nie my hande kon optel om te eet nie. Hy het my gebad, hy het 24 uur per dag oor my gewaak.
“Die dae was lank en moeilik, maar my hart was lig. Ek het ’n tweede kans gekry.”
‘Daar is altyd hoop. Daar is altyd genade’
Vandag is Wilma se immuunstelsel nog nie wat dit moet wees nie, en sy moet steeds elke maand inspuitings kry om haar bloed se hemoglobien-vlak te verhoog.
Maar, sê sy, sy het een groot ding op haar lang herstelpad geleer: “Moet nooit opgee nie; daar is altyd hoop. Daar is altyd genade. God is groot, Hy is almagtig en Hy doen wonderwerke. Hy bewys sy grootheid en sy guns aan jou.”
Wilma het ook verdere raad vir mense wat ’n soortgelyke pad as sy moet stap. Sy sê: “Kyk op en glo, bly sover moontlik in jou daaglikse roetine. Rus wanneer jy moeg is.
“En moenie ophou om moeite te doen met jou voorkoms nie. Al voel jy of jy wil doodgaan – gaan uit, asem vars lug in, geniet die son en bring tyd saam met jou geliefdes deur.
“Probeer ook oefening kry, al stap jy net om die blok.
“Die belangrikste is om na aan ons Vader te bly en om tyd in sy Woord deur te bring.
“En behou tog jou humorsin; jy sal dit nodig kry!
“Onthou daar is altyd ’n antwoord, ’n oplossing en uitkoms. God is baie groter as kanker; ‘kanker’ is slegs ’n woord. God is Woord. Leef voluit! Life is good!”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.