DEUR CONETTE LE ROUX
Toe Elmarie Berry en haar man Thian destyds na die klein Oos-Kaapse dorpie Port Alfred trek, het sy nie geweet sy sal God daar in al sy grootsheid ontmoet nie.
’n Paar maande ná die verhuising het Thian vaal in die gesig by die huis ingestap. Die vliegskool in Port Alfred waar hy gewerk het, het sy salaris met soveel verminder dat hulle slegs genoeg geld gehad het om hul huispaaiement te bekostig. Daar was twee kinders en geen ander inkomste nie. En hulle bevind hulle in ’n Oos-Kaapse dorpie wat nie baie geleenthede bied nie.
‘Wat is my olie?’
“Ons was in groot moeilikheid,” onthou Elmarie Berry (42), wat vandag in Somerset-Wes woon. Maar, vertel dié donkerkop, haar manier om die slegte nuus te verwerk, was om dadelik voor die klavier in te skuif en die Here te loof.
“Daarna het ek gedoen wat ek kon: Ek het gebid! In daardie einste week het drie verskillende mense my dieselfde Skrifgedeelte gegee – 2 Konings 4, wat handel oor die weduwee se kruik. Oor Elisa wat haar gevra het wat sy in haar huis het. Ek het my afgevra: Wat is mý olie? Wat kan ek doen?
“Daardie aand in die bad, die enigste plek waar ek alleen kon wees, bid ek en vra die Here om my te wys wat die bietjie olie is wat ek het. Al wat na my toe gekom het, was: Jy kan kosmaak.”
Die kombuis het sedert Elmarie se kinderdae in Bloemfontein ’n spesiale plek in haar lewe ingeneem. Hier het haar Libanese ouma se boerekos met ’n Libanese invloed haar betower. Sy was maar 15 toe sy begin kookkursusse volg het, en ná skool het sy verskeie draaie in restaurant- en hotelkombuise gemaak.
‘Ons laaste R100’
Elmarie onthou die dag toe haar gesin slegs R100 oorgehad het vir die res van die maand. “Ek het na my man gestap en gevra: ‘Lief, kan ek asseblief die R100 kry om kos te maak om te verkoop?’
“Ek weet tot vandag nie wat hy op daardie oomblik gedink het nie, maar hy het dit vir my gegee. Ek is die volgende oggend winkel toe om die nodige bestanddele te kry. Maar daar was nie eens genoeg om die lasagnevelle te koop nie; dié het ek toe self by die huis gaan maak.
“Ek kon darem ’n paar bakkies lasagne maak …”
LEES OOK: Van platsak pennesakkiesmous na suksesvolle entrepreneur: ‘Ek het net bly vertrou op Hom’
Met ’n bietjie moed, en met haar goeie vriendin Carlien aan haar sy, het sy van winkel tot winkel in Port Alfred gestap. Niemand wou haar lasagne koop nie. Elmarie het begin om kliphard te bid. Sy het die Here gesmeek dat iemand tog sal belangstel – maar hulle is uiteindelik met die bakkies lasagne huis toe.
“Drieuur daardie middag lui my foon. Dit was ’n vrou van Pam Golding-eiendomsagentskap wat 20 bakkies lasagne bestel vir ’n vergadering die aand.”
En só het Elmarie se onderneming Pantry of Joy – The Joy of the Lord is my strength op die been gekom. Sy het begin om kos vir troues te maak en om kookklasse vir huishulpe, kinders en vroue aan te bied. Sy lag: “Ons huis was waarlik soos ’n ligtoring. Almal het geweet ek is altyd in die kombuis, en die ketel is altyd reg vir koffie.”
Op die vloer by God se voete
Ná sewe jaar in Port Alfred het Thian se werk as helikoptervlieënier die gesin na Somerset-Wes geneem. Hulle was egter pas daar toe Thian moes verneem dat die onderneming gelikwideer is. Vyf maande lank het hy werk gesoek, totdat hy oplaas in Nigerië geholpe geraak het. Hy werk steeds daar – een maand weg van die huis af, en die volgende maand tuis by sy vrou en kinders.
Deur al die krisissituasies heen het Elmarie steeds die olie in haar kruik laat werk. Vandag is sy kosstilis, kosfotograaf, kosskrywer en mede-eienaar van Samesyn, ’n onderneming wat kosfotografie op linne-items soos tafeldoeke en kussingslope druk.
Haar eerste boek, Kosbaar, het pas by Penguin Random House South Africa verskyn, met al haar gunstelingresepte daarin. Haar wens is om moeilike resepte maklik te maak, om mense om die etenstafel bymekaar te bring. In die boek deel sy ook haar getuienis as Christen met die lesers.
“Wanneer ek nou terugkyk, besef ek God se planne is altyd veel groter as wat ons ons kan indink. Maar ons vrees kom steel dit altyd.
“Ons moenie bid dat die Here ons swaarkry wegneem nie; ons moet Hom eerder vra hoe om dit te hanteer.”
Elmarie reken vroue se identiteit word aangeval as hulle nie weet wie hulle in God is nie. “Ek het destyds met twee klein kindertjies by die huis gewonder of daar ’n ander doel vir my lewe is. ’n Manier waarop ek ’n verskil kan maak. Ek glo my kookboek is onder meer ’n stuk gereedskap om ander te bereik.”
Haar raad aan vroue wat swaarkry-tye beleef?
“Jy moet op die vloer by God se voete wees. Daar sal jy rus kry. Vra Hom wat jou olie is. Hoe meer ons kan gee, hoe voller word ons.”
Haar gebed is ook dat elke vrou sal weet sy is ’n Koningskind. “Want dan is jy onkeerbaar!” glimlag sy.
Elmarie sê sy en haar gesin is die afgelope agt maande op ’n dankbaarheidsreis. “Ons gesin vier elke Vrydagaand saam die sabbat en bring saam tyd in die Woord deur. Dit alles terwyl ons lekker saam eet. God het ons die afgelope ruk gewys ons moet van aardse dinge vergeet. Ons moet onthou wat werklik belangrik is. Ons moet vir ander leef.
“En ek het geleer: Moet tog nie soveel tyd daaraan afstaan om dinge bymekaar te maak wat jy oor drie maande in elk geval weer gaan uitgooi nie.”
- Klik hier vir meer inligting oor Elmarie se boek of besoek samesyn.co.za vir meer inligting oor haar onderneming.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.