Jy het ‘n klomp redes waarom jy maar elke keer daardie drankie te veel drink. Jy vra jouself dalk in die stilligheid af: “Is ek ‘n alkoholis?” In hierdie artikel kyk ons na ‘n alkoholis se verdedigingsmeganismes, en hoe ‘n gesin iemand wat te veel drink kan bystaan. Ons kyk ook na hoe ‘n gesin begin optree as ‘n geliefde hom- of haarself gereeld aan drank te buite gaan.
Die alkoholis se verdedigingsmeganismes
Daar is verskeie maniere waarop iemand wat van drank afhanklik is, na sy verslawing kan kyk. Hierdie perspektiewe help egter die alkoholis om sy probleem te vermy. Dit sluit die volgende in:
Ontkenning – Al bestaan daar bewyse van drankmisbruik weier hy eenvoudig om te aanvaar dat hy ’n probleem het.
Verkleining – Ja, goed, ek drink nou wel ’n bietjie, maar dit pla mos niemand nie of doen geen skade nie.
Projeksie – Die alkoholis laat die ander persoon skuldig voel oor sý dade. As jy tog net nie so gekerm het nie, dan was dit nie vir my nodig om te drink nie. Ek moet so hard werk want jy en die kinders moet mos net die beste hê. Hoe anders moet ek al my spanning hanteer? Die persoon wat nie drink nie begin dan dadelik twyfel aan sy eie gedrag en voel só onseker dat hy maar eerder die alkoholis laat begaan.
Rasionalisering – Die persoon het (volgens hóm) ’n baie goeie rede waarom hy drink – dit laat hom ontspan; almal doen dit; rooi wyn is gesond …
Vyandigheid – Die persoon is vyandig en openlik aggressief. Om verbale of nie-verbale konflik te vermy sal die nie-alkoholis dan gesprekvoering oor die probleem vermy. So kan die afhanklike sy gedragspatroon voortsit.
Wat is ’n veilige hoeveelheid drank (wat jou gesondheid betref)?
- Twee drankies (of twee eenhede) per dag vir mans.
- Een drankie (of een eenheid) vir vroue per dag.
Wie moet liefs nie drink nie?
Volgens navorsing moet die volgende persone liefs drank vermy.
- Swanger vroue of vroue wat probeer swanger raak.
- Persone wat beplan om te bestuur of aan ander aktiwiteite deel te neem wat vaardighede en verskerpte waarneming verg.
- Persone wat sommige voorskrif- of oor-die-toonbank-medikasie gebruik.
- Persone wat aan ’n siekte ly wat deur drank vererger kan word.
- Gerehabiliteerde alkoholiste.
Raad vir gesinslede van ‘n alkoholis
- Jy kan niemand dwing om te verander nie. Slegs die alkoholis kan daardie besluit neem.
- Gesels op ’n nie-dreigende wyse met die persoon wanneer hy nie onder die invloed is nie. Maak hom bewus van hoe sy gedrag jou raak en dat sy gedrag onaanvaarbaar is. Stel grense.
- Besef dat alkoholisme ’n siekte is en dat dit tyd neem om te genees. “Probeer om die persoon soveel moontlik te ondersteun in sy/haar genesingsproses, eerder as om te oordeel. Alkoholiste ervaar self dikwels erge skuldgevoelens, depressie,’n negatiewe selfbeeld en eensaamheid. Familielede se ondersteuning kan die rehabilitasieproses baie vergemaklik.”
- Sorg vir jouself. Dit kan beteken dat jy tyd maak om saam met vriende te kuier of dinge te doen wat vir jou belangrik en aangenaam is.
- Soek hulp en ondersteuning. Individuele psigoterapie asook gesinterapie of die bywoon van ondersteuningsgroepe kan van onskatbare waarde wees. Vind uit wat in jou omgewing beskikbaar is. “Dit kan ook voordelig wees om met vriende en familie wat jy kan vertrou te gesels. Moenie probeer om alleen deur die proses te gaan nie. Dit is belangrik dat jy na jou eie emosionele behoeftes ook omsien en gesels oor hoe die probleem jou raak. Jy sal baie beter daartoe in staat wees om die situasie te hanteer en ondersteuning aan die res van die familie te bied indien jy emosioneel gesond is.”
- Lees ook hier watter impak alkoholisme op ‘n gesin kan hê.
Wat gesinslede nié moet doen nie:
- Moenie probeer om te preek, te dreig of om te koop nie.
- Moenie probeer om die probleem weg te steek of om verskonings vir die drinker te maak nie.
- Moenie van die drinker se verantwoordelikhede op jou skouers neem en hom/haar sodoende beskerm teen die gevolge van hulle gedrag nie.
- Moenie die drinker konfronteer terwyl hy/sy onder die invloed is nie.
- Moenie skuldig of verantwoordelik voel vir die drinker se gedrag nie.
Kompensering in ‘n gesin waar iemand alkohol misbruik
Marlene Snowdowne, dosent in Maatskaplike Werk aan die Universiteit van die Vrystaat, vertel van oorlewingsrolle wat ’n kind kan gebruik om situasies te probeer hanteer. ‘n Kind sal hierdie rol aanneem om te kompenseer vir die verwoestende effek wat die alkoholis se gedrag op hulle gesin het.
Die gesinsheld neem die verantwoordelikheid vir die gesin op sy skouers. Hy presteer dikwels om die fokus weg te neem van sy ouers en om te kompenseer vir sy negatiewe emosies.
Die kind wat die sondebok is neem die fokus van sy ouers weg dmv sy eie negatiewe gedrag.
Die nar steek sy hartseer weg deur grappies te maak en vermy so kontak met sy negatiewe emosies.
Die kind wat die rol van tussenganger speel is die vredemaker en sien om na almal se behoeftes – behalwe sy eie.
Die alleenloperis die stil kind wat van sy hartseer na sy “eie wêreld” ontvlug.
Die aanpasserpas só by almal aan dat hy geen eie identiteit ontwikkel nie.
Kry hier hulp
Alkoholiste Anoniem se nasionale hulplyn: 086 435 722 of www.aasouthafrica.org.za




















