Hulle word soms “helikopter-ouers” genoem, of “portier-ouers”. Dis hulle wat deurentyd in die agtergrond rondhang – of by die deur wagstaan – gereed om in te gryp, te beskerm en hul kinders van raad en daad te bedien. Maar nou is die probleem dat dié patroon tot in hul kinders se volwasse lewe voortgesit word …
Familie het mekaar nodig. Daarom is dit belangrik dat ouers in hul kinders se lewe betrokke sal wees en bly – selfs wanneer hul kinders al self kinders het. Die gevaarligte begin egter flikker wanneer ouers gereeld inmeng, of nie hul kinders toelaat om hul eie besluite te neem of hul eie lewe te lei nie.
Alicia Coertze is ’n spesialisberader by Vita Nova Counselling in Pretoria, en sy onderskei tussen gesonde ouerleiding aan die een kant, en manipulasie en beheer aan die ander kant.
“Hoewel ouers se lewenservaring en die begeleiding van hul kinders belangrik is, is dit nie reg om te verwag dat kinders altyd keuses sal maak soos wat hul ouers dit wil hê nie. Kinders word onder ander omstandighede as hul ouers groot, hulle het ook ander drome en koester ander ideale. Daar is ander persoonlikheidseienskappe ter sprake, en ander voorkeure en afkeure.”
Lianna Morrison is ’n sielkundige op Hermanus en sy sê: “Ouers wat té betrokke is, reken gewoonlik dat slegs húlle die regte soort leiding en ondersteuning kan bied.” Dat die kinders nie alleen sal regkom nie. “Die subtiele boodskap wat só oorgedra word, is dat die kinders nie self weet wat goed vir hulle en hul gesin is nie, en dat hulle nie daartoe in staat is om self die regte keuses te maak nie.”
Kry ook raad in ons artikel, Inmengerige ouers – wenke vir ouers én kinders.
Tekens van ‘n ongesonde verhouding tussen ouers en kinders
INDIEN JY OP ENIGE VAN DIE VOLGENDE VRAE “JA” ANTWOORD, HET DIT TYD GEWORD DAT JY ’N BIETJIE TERUGSTAAN EN JOU KINDERS MET HUL EIE KEUSES VERTROU.
- Ek wil graag alles weet wat in my kinders se lewe aangaan. Ek word angstig as ek beleef dat hulle iets vir my wegsteek.
- Ek stem nie saam met my kinders se keuse van ’n lewensmaat of hul ouerskapstyl nie en ek reken dat ek hulle moet reghelp.
- Ek gee ongenooid raad en kritiseer maklik.
- Ek reken dat my kinders nie sonder my hulp sal regkom nie.
- Ek is tot so ’n mate by my kinders se lewe betrokke dat ek nie juis tyd kry vir myself en my eie belangstellings nie.
Anshel Pieterson, maatskaplike werker by Vita Nova Counselling sê: “Die grootste vraag wat ouers hieroor aan hulleself kan vra, is: ‘Moedig ek onafhanklikheid van my kinders aan?’
“Indien jy nie van harte ‘ja’ hierop kan antwoord nie, moet jy ernstig introspeksie hou. Praat met ’n professionele persoon hieroor. Of vra ’n goeie, eerlike vriendin of sy jou gedrag as inmengerig beskou.
“Dink weer oor jou betrokkenheid by jou kind. Vra jou gereeld af of jou gedrag genoegsame verantwoordelikheid aan jou kind oorlaat.”
Oorspronklik geskryf deur Susan Goosen.