Die 12-jarige Zian Botha kry elke dag tot sewe groot epileptiese aanvalle. Dit beteken, onder meer, dat hy nie meer kan skoolgaan nie. En dat sy ouers hom 24 uur per dag, sewe dae per week, moet oppas. Maar daar is hoop …
“Is Liewe Jesus dan kwaad vir my? Ek kan nie meer so leef nie, Mamma! Hoekom word ek so gestraf? Ek is moeg. Ek wil net gesond word.”
Dít is die dinge wat die 12-jarige Zian Botha van Welkom se ma gereeld moet aanhoor sedert haar seun nege maande gelede onverwags epileptiese aanvalle begin kry het. Dis so erg dat hy nie meer kan skoolgaan nie.
Charlene Botha (38) vertel: “Ons het nie geweet dat daar iets met Zian verkeerd was nie. Hy was nog altyd ’n doodgewone, liefdevolle, besige seuntjie wat maklik gesels het. Lief vir bal skop, fietsry en houtwerk. En hy het graag in die groentetuin gehelp.

“Op 22 Mei 2025 is die mat onder ons voete uitgepluk toe Zian skielik epileptiese aanvalle begin kry het. Daardie oggend – hy is nie skool toe nie weens ’n pynlike tande-prosedure die vorige dag – het hy na my ma se tuinwoonstel gestap. Ons het met hom gepraat maar hy het nie gereageer nie. Die volgende oomblik het hy agteroor geval, begin ruk en sy oë het omgedop. Sy gesig het begin blou word.
“Ek was verbouereerd en het my man Thinus gebel, en toe ook ons dokter. Ek het gevra hulle moet ’n ambulans stuur.”
Die aanvalle word meer
Zian is in Welkom MediClinic opgeneem. Enkele ure later het hy weer so ’n aanval gekry. Skanderings en ander toetse het uitgewys dat Zian nie aan epilepsie ly nie.
LEES OOK: ‘Jy is ’n brawe vegter!’ – hoofmeisie met kanker word omvou met bemoediging en ondersteuning
Maar die aanvalle het toegeneem, en iemand moes hom deurentyd dophou sodat hy nie seerkry wanneer hy val nie.

Charlene vertel: “Zian het boonop begin sukkel om sy emosies in toom te hou; hy het vinnig kwaad geword. Sy maats wou nie meer met hom speel of selfs met hom praat nie en het eerder vir hom weggehardloop. Gou het hy nie meer vriende gehad nie.
“Vanweë die gereelde aanvalle – daar was tussen vier en sewe per dag – moes ons hom uit die skool haal. Hy het erge hoofpyn gekry en gou moeg geword. Hy het dikwels geslaap.”
Op 5 September is Zian weer in Welkom MediClinic opgeneem. Weer het ’n EEG-skandering niks gewys nie. Sy ouers is met hom na die Rosepark-hospitaal in Bloemfontein. Ná drie dae het dr Elmarie van Rensburg, ’n neuroloog, bevestig dat Zian se aanvalle wel aan epilepsie toegeskryf kan word. Dat daar fout is by sy brein se regterkantse voorste lob. Zian se medikasie is aangepas.
Maar die aanvalle het nie opgehou nie. Dit was wel nou, volgens dr Van Rensburg, ’n soort fokale epilepsie. Sy het hom na dr James Butler verwys, ’n Kaapse neuroloog.
Op 14 Januarie vanjaar het Zian en sy gesin dr Butler in Kaapstad ontmoet.
“Daar was soveel vrae,” sê Charlene. “Ons het toe al so lank gewag. Ons het só vir ons kind gebid …”
Die enigste uitweg
Uit dr Butler se ondersoeke het geblyk dat Zian ’n geboortevlek aan die voorste regterkant van sy brein het, en dat dit die aanvalle veroorsaak. Volgens dié neuroloog sien buitestanders slegs die “groot” aanvalle, maar in werklikheid word sy brein elke uur deur ’n aanval geteister.
Dit beteken dat die regterkant van Zian se brein nou ’n massa dooie weefsel bevat. Daar is geen medisyne daarvoor nie; die enigste uitweg is ’n operasie.
Volgens Charlene beheer daardie deel van die brein die mens se emosies en blaas. Dit is waarom Zian so gou kwaad word, en angstig en bang. En waarom hy kort-kort ’n draai wil loop.
“Maar ons is vol moed. Daar is ‘n 95%-kans dat die operasie suksesvol sal wees.”
‘As dit nie vir die Here was nie …’
Zian se siekte raak Charlene baie diep. Sy vertel: “Toe ek destyds die nuus gekry het, was ek kwaad. Hoekom moet my kind hierdeur gaan? Hoekom nie ek nie? Hy is net ’n kind; wat het hy verkeerd gedoen? Ek is sy ma, ek is groot, ek sal dit kan dra.
“Maar met verloop van tyd het ek besef dat daar ’n rede moet wees waarom God dit laat gebeur. Ek het meer begin bid. Ek het meer na God begin luister. Ek het Hom meer nougeset begin volg.
“Ons geloof het so sterk geword! Zian praat gereeld met die Here. As hy nie lekker voel nie, praat hy met Hom daaroor. Dit bring groter rustigheid.
“Vandag kan ek getuig dat as dit nie vir die Here was nie, ek nie so sterk sou gestaan het nie. Daar was baie dae waarin ek gevoel het dat my lewe maar kon eindig, ek kon net nie meer nie. Maar God het my staande gehou.
“Daarom het ons alles in sy hande gelaat. Ons weet Hy is by ons. Hy sal hierdie pad saam met ons loop.”
Die trauma en opofferings tuis
Almal by die huis word deur Zian se siekte geraak. Sy agtjarige sussie Linke se kamer is langs syne en sy moet telkens hoor wat alles gebeur wanneer hy ’n aanval kry. Uiteraard ontstel dit haar baie. Sy sukkel nou met ’n maagseer.
Die gesin kyk nie meer saam TV nie, en hulle gaan nêrens heen nie. Zian kan nie ’n oomblik lank alleen gelaat word nie – nie as hy bad, die toilet gebruik, eet of buite rondloop nie. Die aard van die aanvalle laat hom reg agteroor val en hy het al dikwels seergekry. Wanneer hy saans bed toe gaan, moet daar stilte in die huis wees sodat sy ouers kan hoor as iets met hom gebeur.
Sy ma vertel: “Zian is soms erg emosioneel, en hy is baie negatief oor die lewe. Ek probeer hom moed inpraat.
“Dikwels kom gee hy my ’n drukkie en sê: ‘Ek is lief vir jou, Mamma. Ek kan nie sonder jou lewe nie.’ Dan smelt my hart en ek besef opnuut hoekom ek moet sterk bly en hard baklei om hom gesond te kry. Dis hoekom ek elke dag agter hom aanloop en hom probeer veilig hou, ongeag hoe moeg ek is.”
Die gemeenskap staan hulle by en die Botha-gesin word hierdeur bemoedig. Daar is nou ook pogings om geld in te samel vir die duur breinoperasie.*
‘Hy sál jou krag gee’
Zian se groot droom is om terug te gaan skool toe, om weer maats te hê, om bal te skop en om in sy groentetuin te werk.
Charlene sê: “Die pad vorentoe is nog onbekend, maar ek het geleer om dit in God se hande te laat. Dis wel die moeilikste pad wat ek nog ooit geloop het. Maar as jy God in jou lewe het, sien jy vir enigiets kans. Daar sal nie iets oor jou pad kom waarvoor jy nie sterk genoeg is nie; Hy sál jou die nodige krag gee.
“Hierdie ma word deur haar man en familie ondersteun, en dit help my baie. Die belangrikste is dat God my sterk hou. Hy het tog reeds ons storie geskryf nog voordat ons gebore is. En al gaan ons deur donker dieptes, gee Hy ons die krag daarvoor. Hy weet ook hoeveel beter ons aan die ander kant sal uitkom.
“Daarom verbly ek my in Hom.”
* Finansiële bydraes vir Zian Botha se breinoperasie kan via BackaBuddy (Bring back Zian’s childhood) gemaak word.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

















