Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Jy is ’n brawe vegter!’ – hoofmeisie met kanker word omvou met bemoediging en ondersteuning

Chánterie van Rensburg en haar ouers het nie dié skoknuus, enkele dae voor sy haar jaar as hoofmeisie van Laerskool Panorama in die noordelike voorstede van Kaapstad sou begin, verwag nie.

’n MRI-skandering het aangedui dat dié 12-jarige Kapenaar ’n uiters seldsame en aggressiewe tipe kanker genaamd Rabdomyosarkoom (RMS) het. Dié tipe kanker vorm glo in die sagte weefsel van die liggaam.

Volgens haar ma Clarissa was die eerste tekens van onraad aan die einde van die Desembervakansie – Chánterie het gekla van ongemak in haar rug. Maar vroeg in Januarie het haar simptome aansienlik vererger. “Sy het ’n skielike gevoel van lamheid in haar bene ervaar en het gesukkel om te loop,” verduidelik Clarissa. En só is Chánterie op 6 Januarie na Panorama-hospitaal geneem om ondersoek in te stel.

Intussen het dié talentvolle leiertjie se dapper reaksie op haar kankerdiagnose haar ouers, sowel as die publiek, baie diep geraak. “Mamma, Liewe Jesus het my gekies, Hy wil my gebruik,” was volgens Maroela Media Chánterie se eerste reaksie op die aanhoor van die skoknuus.

“Dit het ons as gesin se uitkyk totaal verander. Ons glo sy is deur God vir hierdie pad gekies,” het haar ouers aan LiG gesê.

’n Skarefinansieringsveldtog is 14 dae gelede op Backabuddy van stapel gestuur. Teen druktyd (28 Januarie 2026) was R480 032 van die doelwit van R800 000 reeds ingesamel.

LEES OOK: ‘Ek is kankervry!’ sê Zhara van mees gekykte getuienisvideo op LiG-kanaal

Die bladsy wemel van boodskappe wat aandui hoe diep mense deur Chánterie se gesindheid geraak is. ’n Anonieme skenker het geskryf: “Cha Cha, jy en jou familie is ’n inspirasie vir ons almal. Hou moed en weet dat julle in ons hart en gebede is.” ’n Australiese ma, wat aandui dat haar eie tiener kanker oorwin het, het behalwe vir haar skenking geskryf: “You are a brave warrior, Chánterie!”

Talle leerders en skole het besluit om ook fondse in te samel. Dewald Opperman, ’n ouer van een van Laerskool Panorama se leerders, het geld vir Chánterie se fonds inbetaal wat leerders self ingesamel het. Hy het geskryf: “Hi, Cha Cha, hierdie is van jou maats af wat strikkies verkoop het en karre gewas het.”

Die familie is ongelooflik dankbaar vir Laerskool Panorama se onderwysers, leerders, ouers en die breër gemeenskap wat Chánterie op soveel vlakke ondersteun.

Op Laerskool Panorama se Facebookbladsy is Edgemead High en Hoërskool Bellville bedank vir hulle ywerige ondersteuning. Intussen het ander skole onder andere DF Akademie, Durbanville Hoërskool, Stellenberg Hoërskool en Noag se Arkie (waar Chánterie voorskool was) ook spesiale boodskappe gestuur en fondse ingesamel. Talle boodskappe van bemoediging is ook deur bekende rugbyspelers aan Chánterie en haar familie gestuur, het Clarissa vertel.

“Ons vra vir gebed, gebed en nogmaals gebed, asseblief. Ons bid en vra almal om asseblief saam met ons te bid dat Chánterie goed op die chemoterapie sal reageer en dat die newe-effekte ná elke sessie minimaal sal wees.

“Haar grootste wens as Graad 7-leerder is om so gou as moontlik terug te keer skool toe,” het Clarissa gesê.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF