Haar verlede is nie haar identiteit nie; God is.
Dit glo Louise Veldsman (42) vandag met haar hele hart, want Hy het haar ʼn tweede kans gegee.
Louise en haar lewensmaat het jare lank op straat gewoon nadat hulle alles wat hulle gehad het op dwelms uitgegee het.
Sy vertel dat sy in ʼn beskeie huis grootgeword het, en haar pa verloor het toe sy maar vyf was. Haar ma het gou weer getrou. Maar, vertel Louise, sy kon haar nie met dié man identifiseer nie. Alhoewel hy goed vir hulle gesorg het, was daar geen emosionele band nie. Sy het wel ʼn baie goeie verhouding met haar ouma gehad en het gereeld na haar toe weggeloop.
Sy was baie na aan haar biologiese pa en het nooit werklik sy dood verwerk nie. Sy reken wel dat sy haar “verslawings-gene” deels by hom oorgeërf het. Haar jonger broer voer jare lank reeds ʼn stryd teen dwelms en is pas weer uit die tronk vrygelaat.
Dit het voor ’n dobbelmasjien begin
“My pad met verslawing het by dobbel begin,” vertel Louise. “My ma het my die eerste keer casino toe geneem. Ek was 21 jaar oud. Hierna het ek en my lewensmaat Quinton Williams feitlik elke dag gedobbel. Ons sou reguit ná werk casino toe gaan en daar bly tot die volgende dag. Ons het gereeld ons volle salaris in die masjiene gevoer.
“Wanneer jy voor die masjiene sit, is jy nie bewus van wat om jou aangaan nie. Jy hoor niks en het geen begrip van tyd of van jou omgewing nie. Al waarop jy fokus, is die rollende syfers op die skerm.”
Sy sê die dobbelverslawing is op sy ergste nadat jy ’n groot bedrag geld gewen het. Hierna wil jy net nog en nog wen. Aan die ander kant probeer jy ook deurgaans om vir ’n verlies te vergoed nadat jy verloor het.
“Dit word ʼn bose kringloop. En voor jy weet wat jou getref het, is jy in die moeilikheid. Ons het in daardie stadium elkeen ’n goeie salaris verdien, maar kort voor lank het ons ons blyplek verloor.”
‘Die dag toe ons die eerste keer tik gebruik het’
“Ons het later selfs in kroeë gedobbel. Dit was hier waar die afwaartse spiraal nuwe momentum gekry en tot ʼn nuwe verslawing gelei het,” vertel Louise. “Ons het by ʼn groep betrokke geraak waar dwelms volop was. En nadat ons die eerste keer tik gebruik het, was ons verslaaf.”
Sy onthou haar eerste ervaring met hierdie dwelm baie goed: “My fokus was oneindig goed en die energie ongeëwenaar. Ek kon die hele nag wakker bly. My kreatiwiteit was op ʼn vlak wat ek nog nooit beleef het nie. Gevolglik het ek dikwels weggebly van die werk omdat ek nooit geslaap het nie. Ek het, met verloop van tyd, ook meer en meer tik nodig gehad.”
Die tik het aggressie tot gevolg gehad. Louise en Quinton se verhouding het op verskeie vlakke daaronder gely. Die situasie tuis was later buite beheer.
Louise onthou hoe aggressief sy was: “Ek het voorwerpe stukkend gegooi en dikwels histeries geraak. Daar was hierdie ongebreidelde woede by ons al twee. In ʼn stadium het die polisie my uit die huis kom verwyder. Hulle wou my in ʼn inrigting plaas. Dit het egter nooit gebeur nie.”
Hul hele lewe het om tik gewentel. Daarby was hulle vasgevang in ʼn toksiese vriendekring. Hier het hulle later tik vir Mandrax verruil.
‘Ons woon in ’n houthok’
Uiteindelik het Louise en Quinton op straat beland. Hulle het in ʼn informele nedersetting gaan woon, in ʼn houthok. Hulle het voortdurend gevrees vir hul lewe. Bendegeweld was aan die orde van die dag en Louise het op ’n keer net-net verkragting vrygespring. Quinton is met ʼn mes gesteek.
Louise onthou: “Ek was desperaat om dwelms in die hande te kry. Ek het begin om uit winkels te steel. En ek het ‘groot’ gesteel, veral elektroniese toestelle. Ek was uitgeslape en het presies geweet wat ek doen.
“Maar ek is ook dikwels gevang. Op dié manier was ek tien jaar lank in en uit Pollsmoor-gevangenis.”
Op ’n keer het ’n landdros haar gewaarsku dat as sy haar weer in die hof sien, sy die spreekwoordelike sleutel sou weggooi. Louise was nou ʼn geklassifiseerde gewoontemisdadiger; dit was haar nuwe identiteit.
Die swaarste besluit ooit
“Toe raak ek swanger. ’n Tweeling. My ma wou ons nie huisves nie. Alhoewel ek nie die Here geken het nie, het ek Hom voortdurend gevra om nie die tweeling te straf vir my sondes nie. Tog het ek vir die volle sewe maande wat ek hulle gedra het nooit opgehou om dwelms te gebruik nie. Hulle was prematuur, maar deur God se genade heeltemal normaal.
Omdat Louise nog ʼn vyf jaar-vonnis gehad het wat oor haar kop gehang het, het sy besluit om die tweeling vir aanneming beskikbaar te stel. Hulle was twee jaar oud toe hulle amptelik deur van Quinton se familielede aangeneem is. Een van die voorwaardes was dat sy en Quinton geen kontak met die kinders mag hê nie.
Louise sê sy het geweet dat dit in die kinders se beste belang was om hulle te laat gaan. Dit was die swaarste besluit wat sy ooit moes neem.
‘Sy stem was duidelik’
Toe het Louise begin om as motorwag te werk ten einde haar dwelmverslawing te finansier. Die parkeergebied waar sy gewerk het, was by die Tygerberg Gesinskerk. Dié kerk sou uiteindelik haar geestelike tuiste word.
In daardie stadium het Louise en Quinton in ʼn tent gewoon.
Op ’n dag, vertel sy, het sy moeg opgestaan – liggaamlik en emosioneel. “Ek het plat op die grond gaan lê en God gesmeek om my uit dié situasie uit te haal. Sy stem was duidelik: Hy het gesê dat Hy my sou help, mits ek die dinge laat staan waarmee ek besig was.”
Op 29 Januarie 2023 het sowel sy as Quinton hul hart vir die Here gegee. “Daardie dag het ek werklik besef wat dankbaarheid en genade is. Ek het die Here gevra om my behoefte aan dwelms weg te neem, sodat dit sou voel asof ek dit nooit gebruik het nie.”
So het dit gebeur. En nou, ná 15 jaar, het hulle uiteindelik weer ʼn dak oor hulle kop. Hul verhouding is sonder konflik. Al twee werk weer en hulle is finansieel onafhanklik.
“Ná God se ingryping het ek geen behoefte aan my ou lewe nie,” vertel Louise. “Selfs al sien ek soms mense met wie ek saam dwelms gebruik het, raak dit my nie. My verlede is nie my identiteit nie.”
Louise sê sy hou vas aan Jesus se woorde in Matteus 21:22: “As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.