Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Jesus Christus se liefde red my en my dogtertjie,’ vertel vrou

Abigail* was reeds in haar twintigerjare toe sy vir die eerste keer besef het sy hét waarde. As Chinese dogtertjie is sy as ’n las vir haar familie beskou, en sy is as jong vrou gedwing om met ’n vreemdeling te trou. Maar dit was die begin van ’n pad na ware vryheid en liefde. Hier vertel sy haar storie.

Ek is nooit waardeer of gevier nie. Die tradisionele opvatting dat dogtertjies minder werd is as seuntjies is onlosmaaklik deel van die gemeenskap waarin ek grootgeword het. In die platteland is die voorkeur vir die manlike geslag selfs sterker. My familie het byvoorbeeld vir my broer se opleiding betaal, maar dit was nie vir my beskore nie omdat dit as ’n vermorsing van geld beskou is.

LEES OOK: ‘Soms begin jou roeping met ’n paniekaanval,’ sê storieverteller wat ’n stem vir gebroke vroue is

In China word daar van meisies verwag om so gou moontlik te trou. Indien ’n vrou nie voor 30 trou nie, word sy as ’n “oorskietvrou” bestempel (in Engels “a leftover woman”).

En omdat dié ongetroude vrou ’n klad op haar familie se naam is, stel angstige ouers dikwels ’n potensiële huweliksmaat aan hul dogter voor. Dis niks minder nie as ’n soort druk wat op haar uitgeoefen word. Dié  manipulering vind veral plaas tydens die Chinese Nuwejaarsvieringe, en daarom is jong, ongetroude vroue besonder bang wanneer dié vrolike tyd van die jaar aanbreek.

Toe ek 23 jaar oud geword het, het my familie vir my ’n man begin soek. Elke af en toe het ’n man, wat ek nog nooit ontmoet het nie, by my huis opgedaag, kompleet met ’n huwelikaansoek. Die feit dat ek nie in daardie stadium in trou belanggestel het nie, was nie belangrik nie. “Hoe langer jy in ons huis woon, hoe groter die las wat jy vir die familie gaan word,” het my ouers en grootouers vir my gesê.

Die uiteinde was dat ek met ’n man moes trou wat ses jaar ouer as ek was. ’n Man wat ek nie liefgehad het nie. Daarna het ek alle hoop vir my huwelik, familie en my toekoms verloor. Ek het elke dag uitgegaan om te dobbel, ek het doelloos op die internet rondgespeel, ek het begin drink. Wanneer ek en my man bymekaar was, het ons baklei. Ons het mekaar selfs ’n keer met kombuismesse gedreig.

Alhoewel niemand ooit seergekry het nie, het my omstandighede my hart gebreek. Ons het aansoek gedoen vir ’n egskeiding toe ons huwelik maar sowat ’n maand oud was …

My onsuksesvolle huwelik was ’n groot verleentheid vir my familie. Daarna het ek soos 262 miljoen ander Chinese ’n trekarbeider geword. Ek het werk gekry by ’n klerefabriek en sowat twee jaar lank daar gewerk.

In 2011 het ek ’n man ontmoet en, nadat ons twee maande lank uitgegaan het, het ek hom na sy tuisdorp Nanjing gevolg. Ek het by hom ingetrek. Maar eensklaps het dinge verander. Hy het hom met rekenaarspeletjies besig gehou, die hele dag, elke dag. En hy het saam met sy vriende gedrink. Ek het besef ek het weer ’n fout gemaak.

Ek het toe op ’n trein geklim en na ’n naburige stad gereis in ’n poging om ’n nuwe lewe te begin. Toe ek later by ’n besige straathoek gestaan en kyk het na die see onbekende gesigte om my, het ek hooploos en verlore gevoel. Dit het begin donker word en ek moes dringend ’n plek vind om te slaap.

My eerste kennismaking met Jesusliefde

Ek het my ma se nommer op my selfoon gebel. Nadat sy gehoor het wat aan die gang is, het sy my ’n paartjie in die stad se kontakinligting gegee. Dié twee het voorheen in my tuisdorp gewoon. Ek het hulle gebel.

Hulle was Christene. Daardie aand het hulle my na hul huis genooi. Hulle het gesê ek kan so lank ek wil by hulle woon. Hulle het boonop vir my ’n werk as klerk by hul onderneming aangebied. Hul omgee en hul mededeelsaamheid het aan my ’n soort liefde gewys wat ek glad nie voorheen ervaar het nie, nie in my familie óf in my verhoudings nie. Dit was die liefde van Jesus Christus.

Ek het begin kerk toe gaan. Daarna het ek Jesus as my Verlosser aangeneem. Ek was 25 jaar oud. Die Here het my gebrokenheid met genade beantwoord en my as sy geliefde dogter aanvaar.

Kort daarna het ons pastoor een Sondag oor aborsie gepreek. Dit het my aangegryp en ek het vir die eerste keer in my lewe die grusame gevolge van die beëindiging van ’n swangerskap besef.

Twee dae later het ek uitgevind ek is swanger.

Dit het lank geduur voor die werklikheid tot my deurgedring het. Ek het uiteindelik die moed bymekaargeskraap en my gewese kêrel in Nanjing gebel en hom vertel. Sy reaksie was dit wat ek die meeste gevrees het: “Kry ’n aborsie,” het hy ferm gesê. “Watter ander opsies het jy?”

Ek het my dieselfde vraag afgevra. Al wou ek graag geboorte gee aan my kind, het ek geweet my familie sal druk op my plaas om ’n aborsie te ondergaan. Die waarheid is dat 13 miljoen aborsies jaarliks in China uitgevoer word. Die meeste hiervan word deur familielede op die betrokke vrou afgedwing, of deur haar man of vriend, en selfs deur die regering.

Hoekom die regering? Die enkelkind-beleid in China. Dié wet, wat in 1980 deur die kommunistiese regime geïmplementeer is, het die meeste Chinese paartjies gedwing om slegs een kind te hê. As jy nie aan die wet gehoorsaam was nie, is jy reuseboetes opgelê. Jy kon jou werk verloor en, die ergste van alles, ’n gedwonge aborsie of selfs sterilisasie was jou voorland.

My eie bestaan is ’n wonderwerk

My aankoms in dié wêreld is eintlik ’n wonderwerk. Regeringsamptenare wat met geboortebeplanning gemoeid was, het my ma na ’n kliniek vir ’n gedwonge aborsie geneem toe sy met haar tweede kind swanger was. Dié kind was ek.

“Doen wat julle moet,” het my ma gesê, “maar as iets nie verloop soos julle beplan het nie, belowe my julle gaan my nie weer pla nie.” Die dokters het ingestem. Oomblikke later was daar ’n kragonderbreking en die masjiene in die operasiesaal kon nie aangeskakel word nie. Ek is ’n paar maande later gebore.

Ek het nie my merkwaardige geboorteverhaal geken toe ek uitgevind het ek is swanger nie. Al wat ek geweet het, was dat ek deur my familie gehaat en verwerp sou word as ek my baba sou behou. Boonop sou geen man ooit weer met my wou trou nie, vanweë die stigma wat in my gemeenskap aan enkelouerskap kleef.

Toe ek op die operasietafel van ’n aborsiekliniek sit, het ek geveg teen die stemme in my. Die een het gesê: “Het jy jou verstand verloor? Kan jy nie onthou wat twee dae gelede gebeur het nie?” Die pastoor se woorde van die vorige Sondag het soos ’n vuur in my hart gebrand.

Maar daar was nog ’n stem: “Moenie bekommerd wees nie. Niemand gaan weet nie. In minder as ’n halfuur is jy weer vry.” Vryheid was nog nooit so aanloklik nie …

 

Maar toe ek my hande op my maag sit en dink aan die piepklein, onskuldige lewetjie in my, het ek opgespring en huilend uit die kliniek gehardloop. Ek kon eenvoudig nie my eie kind vermoor nie.

Toe ek by die huis kom, het ek God gevra om my immorele gedrag en my planne vir ’n aborsie te vergewe.

Deur God se genade kon ek met pastoor Frank in aanraking kom. Hy het gereël dat ek by ’n jong vrou van dieselfde kerk gaan woon. Hoewel ek ’n totale vreemdeling vir haar was, het sy my vriendelik verwelkom en my selfs gehelp om ’n werk te kry by die blomwinkel waar sy gewerk het.

Ek het weekliks die geleenthede vir jong werkendes by pastoor Frank se kerk bygewoon. Hulle het my met ope arms verwelkom en my onophoudelik ondersteun tydens my swangerskap.

Namate my baba gegroei het, het ek gewonder wat op aarde ek gaan doen die oomblik as sy gebore word. Ons land se streng wette bepaal dat kinders wat buite die huwelik gebore word nie vir ’n hukou kwalifiseer nie. Hukou is die identiteitsdokument wat deur die regering aan landsburgers uitgereik word. Sonder dié dokument kan jy nie skool toe gaan, mediese sorg ontvang of selfs na ander stede reis nie.

Ná baie nadenke en gebede het ek geweet die beste opsie sou wees om iemand te kry wat my baba sal aanneem. ’n Christenpaartjie het, deur pastoor Frank, van my situasie te hore gekom en my genader om my baba aan te neem.

Woorde kon nie my dankbaarheid teenoor hulle beskryf nie. Maar nadat ek aan ’n gesonde, pragtige dogtertjie geboorte geskenk het, was dit vir my báie moeilik om haar af te gee. Ek was egter seker sy sou in goeie hande wees. Haar nuwe ouers was passievol en het hope deernis gehad.

Net toe ek dink God se seën het opgedroog …

Net toe ek gedink het God se seëninge vir my het tot ’n einde gekom, het Hy nóg op my uitgestort. My kleingroepleier by die kerk het op ’n dag sy liefde aan my verklaar. Paul is betroubaar, geestelik volwasse en aangenaam. Ek was so geskok en skaam dat ek vir hom gesê het ek is nie sy liefde werd nie.

Hy het gesê dat hy al lank daaroor bid, en dat hy vrede in sy hart het om ’n verhouding met my te begin.

Terwyl ek hier sit en my getuienis neerskryf, is ek en Paul gelukkig getroud. Ons verwag ons eerste baba. In Maart 2014 was ek gehoorsaam aan God en het ek lid geword van All Girls Allowed, ’n Christelike, Amerikaansgebaseerde nie-winsgewende organisasie. All Girls Allowed bewys Jesus se liefde deur die Godgegewe lewe, waarde en waardigheid van vroue en ma’s in China te probeer herstel deur die lewe van China se dogtertjies te red.

Dié organisasie poog ook om die tradisionele denke te verander dat seuntjies meer waarde het as dogtertjies.

  • Abigail* is ’n veldwerker vir All Girls Allowed. Sy het dié getuienis self geskryf. Dis deur Lauren Jacobs geredigeer om in haar boek Windows across oceans opgeneem te word. Dié boek is ongelukkig tans uit druk.

* Skuilnaam

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF