Die 24-jarige Mari-Alena Potgieter is Dinsdagaand (23 September) oorlede nadat sy ’n moedige stryd teen ’n aggresiewe maagkanker die afgelope 10 maande geveg het.
Mari-Alena se ma, die bekende Oekraïense sendeling Michele Potgieter (53) is hartgebroke na die afsterwe van haar enigste dogter en “beste vriendin”. Maar getuig dat God haar ook hierdeur sal dra. Mari-Alena se pa Ockert is ook in 2021 ná komplikasies van Covid-19 oorlede.
“Die Here het Mari-Alena vir my geleen, en die Here het haar weggevat. Mag die naam van die Here geprys word. Jesus en Ockert het haar vanaand hemel toe gevat …” het Michele ná Mari-Alena se afsterwe op Facebook geskryf.
“Mari-Alena en ek was baie naby aan mekaar. Ons was mekaar se beste vriendinne. Ons het soms ure met mekaar gesels terwyl ek in Oekraïne was. Ons sou heeldag aanlyn met mekaar wees. Sy was so vreugdevol en het so ’n lekker lag gehad. Sy los ’n groot leemte in my hart. Haar vaste geloof in die Here tot die einde het my geïnspireer,” het Michele vanoggend aan LiG gesê.

Volgens Michele het Mari-Alena, wat voor haar siekte ’n kleuterskoolonderwyser was, tuis op Stellenbosch gesterf. Behalwe vir haar ma was Mari-Alena omring deur haar kêrel Janneman van der Merwe en twee van haar broers Cilliers (27) en Ivan (19). Haar broer Johannes-Joshua (29) woon tans in Amerika en kon ongelukkig nie na Suid-Afrika reis nie weens sy vlugtelingstatus en omdat hy met ’n vrou van Oekraïne getroud is. Mari-Alena se ander broer Benjamin, woon ook in Amerika en het laat gisteraand (24 September) in Suid-Afrika geland.
LiG-lesers is die afgelope paar jaar deur Michele se sterk geloof, ten spyte van moeilike omstandighede en verlies, aangegryp. In 2023 het Michele haar getuienis met LiG gedeel ná Ockert se afsterwe in Suid-Afrika. Michele is daarna alleen terug na die kerk in Oekraïne wat sy en haar man daar geplant het. Sy het haar man se skoene as pastoor sonder twyfel gaan vol staan.
Behalwe vir die moeilike kankerstryd moes Michele en Mari-Alena ook in Junie vanjaar die oorlog in Israel aandurf. Medici in Suid-Afrika kon niks meer vir haar doen nie en spesiale immunoterapie in Tel-Aviv was ’n laaste uitweg. Michele het vanuit die Sheba Medical Centre vertel hoe hulle een “verskriklike nag” ’n bomaanval in die hospitaalkamer beleef het omdat Mari-Alena te swak was om na die bomskuiling te gaan.

Michele en Mari-Alena het sowat twee maande gelede na Suid-Afrika teruggekeer. Michele het in die afgelope ruk gereeld op sosiale media laat weet hoe dit met Mari-Alena gaan en vir gebede gevra.
Geen begrafnisreëlings is nog bekend nie.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.





















