Die 69-jarige Susan Boshoff sê haar seun Victor is reeds as jong seun aan ’n liefdelose en soms gewelddadige verhouding met sy pa blootgestel.
Sy vertel: “Toe ek besluit om uit die huwelik te stap, moes Victor en sy twee sibbe egter vir lang tye by hul pa woon omdat ek groot finansiële uitdagings beleef het. Ek het gesukkel om kop bo water te hou.
“Daar was geen ondersteuning of onderhoud nie. Victor was maar ses jaar oud.”
In hierdie jare is Victor en sy sibbe mishandel en van basiese behoeftes ontneem. Soms het hulle by haar kom bly, maar dié reëling was nie altyd moontlik nie. In daardie tyd was Susan se pad vol uitdagings en hindernisse. “Ek was met my rug teen die muur.”
LEES OOK: ‘Aan dié wat eensaam agterbly ná selfdood: Jy is nie alleen nie’
Intussen was Victor dikwels in die moeilikheid by die skool. Op ’n keer het hy selfs weggeloop van sy pa se huis af en twee weke lank weggebly. Dit het die gewelddadige situasie by die huis net vererger. Susan was duisende kilometer ver en sy kon nie haar kinders teen hul pa beskerm nie.
Soos ’n donker skaduwee
Victor het uiteindelik in 1998, as 24-jarige jong man, Kaapstad toe verhuis en met sy skoolliefde getrou. Die toekoms was eensklaps blink. Hy het egter wel tye van diepe neerslagtigheid beleef, en dit sou hom soos ’n donker skaduwee bly volg.
Susan het intussen weer getrou, en dié keer met ’n sagte man wat vir Victor ’n pa wou wees. Die skade was egter onomkeerbaar.
Victor het as loodgieter gekwalifiseer en hy het ’n suksesvolle onderneming opgebou. Omdat hy arm grootgeword het, het hy graag luukshede gekoop.
’n Ernstige motorfietsongeluk in 2015 het egter tot gevolg gehad dat hy vir lank nie kon werk nie. Sy leefwyse moes drasties verander; ná jare se oorvloed was hy skielik, finansieel gesproke, op sy knieë.
Susan moes toekyk hoe Victor van die kerk vervreem raak. Soms het sy ingegryp nadat hy haar verseker het hy sal verander.
Sy vertel: “Ek en Victor is uit dieselfde hout gesny, en ons het gesukkel om ’n gesprek produktief en sonder agendas te benader. Ek het gereeld vir hom briewe geskryf en dit in sy laai gebêre, want hy het nie juis op my pleidooie ag geslaan nie. Hierdie geliefde seun het ’n harde dop gehad, met ’n baie sagte binnekant. Hy was vol komplekse teenstrydighede.”
Susan vertel hoe hy soms by haar gebieg het oor dinge wat sy nooit aan enigiemand sal verklap nie. “Victor het my met sy hart vertrou; ek sal hom nooit verraai nie.”
In dié donker dae het alkohol ’n groot rol in Victor se lewe gespeel. Sy ma het hom dikwels oor sy onverantwoordelike gedrag aangepraat. Hy het egter ál verder uit sy veilige binnekring beweeg. Hy het hom begin afsonder.
“Ek was baie onrustig oor Victor se gedrag en sy psigiese toestand. Hy wou nie hulp hê nie, en ook nie sy probleme met sy goeie vriend ds Johan Delport bespreek nie.”
Ds Delport, leraar by die Tygerberg Gesinskerk in Durbanville, onthou daardie hartseertyd. “Victor was meer as ’n vriend. Selfs in sy donkerste tye het hy altyd ’n oop hand vir ander se behoeftes gehad, ook vir die Here se werk. Hy het egter nie meer my oproepe beantwoord nie. Ek het deurentyd vir hom gebid, maar hy het my uitgesluit. Ek kon hom nie help nie, nie as vriend nie en ook nie as predikant nie.
“Ek sal daardie verskriklike aand, toe ek magteloos voor sy huis gestaan het, altyd saam met my dra.”
’n Godverlate huil, sonder hoop of uitkoms
Op 3 Desember 2016 is Susan en ’n vriendin na ’n vroueoggend buite Durbanville. Dit was ’n heerlike geleentheid wat deur die kerk aangebied is. Dit was ook die stilte voor die storm.
Ná ’n besorgde oproep van iemand wat na aan Victor geleef het, het Susan hom gaan soek. Omdat sy en haar man die daaropvolgende Maandag met vakansie sou vertrek, wou sy hom ook gaan groet. “Maar Victor het buite die huis gestaan en hy wou nie met my praat nie. Hy was afsydig; sy stem was koud.”
Toe Victor later besluit om binne toe te gaan het sy ma hom gevolg. “Ek onthou hoe hy by die wasbak gestaan het, sy hande om die rand geklem. Hy het bitterlik gehuil, ’n Godverlate huil, sonder hoop of uitkoms.”
Dit sou die laaste keer wees dat sy haar seun sien.
Ten spyte van die onrus in haar hart het Susan tog besluit om vir die week see toe te gaan. “Ek het Victor die volgende oggend gebel. Ek het agtergekom hy was ‘afwesig’ tydens ons gesprek. Hy het juis daardie dag by ’n nuwe werk begin, wat vir my ’n baie positiewe teken was te midde van my kommer.”
Maar op 6 Desember 2016 het Victor sy lewe geneem. Hy was 42 jaar oud.
’n Plek waar net pyn is
Susan het daardie aand in haar bed gelê toe die telefoon lui. Haar man Louis het geantwoord.
“Ek was naby genoeg om elke woord te hoor wat ds Johan oor die telefoon sê. My kind was dood. Ek het onmiddellik in ’n plek ingegaan waar geen mens ooit moet gaan nie: ’n plek waar net pyn is. Louis het my later buite op die grond gekry waar ek gesit en wieg het.”
Louis onthou hoe sy heen en weer gewieg het terwyl sy saggies sing: “As Hy weer kom, as Hy weer kom, kom haal Hy sy pêrels …”
Susan sê sy kan vandag nog nie daardie paar uur in haar lewe helder onthou nie.
Ná die begrafnis het sy ingestem om in ’n kliniek opgeneem te word. Hier sou sy 21 dae deurbring. Sy sê sy het nie gepraat nie en haar pyn met niemand gedeel nie. Sy het eerder briewe vir Victor geskryf …
Verlies is vir altyd, maar so ook God se liefde
“Op ’n dag het ek die Here se teenwoordigheid aangevoel. Ek het in my gees die Here se lig gesien, wat sy belofte bevestig het dat ek nooit weer sonder sy liefde sal wees nie.”
Steeds soek haar hart na haar kind, maar sy weet dat daar geen pyn by die Here se ewige tuiste is nie. Verlies is vir altyd, maar so ook God se liefde.
Susan vertel graag van twee verse wat haar op hierdie moeilike pad onderskraag het:
* Psalm 18:29 – “U, my Here, laat my lamp helder skyn; my God gee lig as dit donker is om my.”
* Nehemia 9:19 – “In u groot liefde het U hulle nie in die woestyn aan hulle genade oorgelaat nie. In die dag het die wolkkolom vir hulle die koers aangedui. In die nag het die vuurkolom hulle pad verlig.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.